BMW se F 900 XR nie sonder foute

(Foto: Rob Till)

Ek raak soms skoon nostalgies. Dan wil ek plekke en mense besoek wat vir my betekenis het. So gebeur dit dat BMW se nuwe F 900 XR oor my pad kom en ek my nostalgie inpak en die pad vat Vredefort toe.

Die F 900-reeks is laat in 2020 bekend gestel. By hierdie geleentheid het ons kennis gemaak met die twee modelle: die R en die XR. Hoewel ek die R baie geniet het, was die XR vir my die meer praktiese keuse. Dit is verbasend hoe ’n klein verandering aan die plasing van die voetrusse ’n gemakliker ryervaring bied. Dan is daar die kontroles en die TFT-skerm wat enige BMW-ryer sommer tuis sal laat voel.

(Foto: Brian Cheyne)

Vroegoggend haal ek die fiets uit my motorhuis en sluit hom aan dat hy luier. Die verkorte uitlaatpyp maak ’n mooi klank. Terwyl ek ry, wonder ek hoekom snelskakeling op sekere BMW’s so sekuur is, en dan op hierdie fiets so uiters lomp voel. Jy moet behoorlik die toere opjaag om die skakeling glad te laat verloop. Aan die ander kant is die klank wat die XR dan voortbring musiek in my ore. Hy grom diep.

Op die snelweg skakel ek die spoedbeheer aan, want op die N1 moet jy versigtig wees. Die manne met hulle gatsometers is volop.

(Foto: Rob Till)

Op ons kort toetsrit laas jaar was ek in my skik met die ryposisie, maar hier op die langpad besef ek hoe hard die saal is. Dit raak regtig ongemaklik. Nie net dít nie, nou begin ek die hitte van die enjin ook voel. Dinge lyk nie goed vir die XR nie. Ek hou stil by een van die rusplekkies op die N1 en nou voel selfs die sementstoeltjies nie so sleg nie. Ek skink maar ’n koffietjie en bekyk die fiets.

Die lyne van die XR is vir my baie mooier as die R-model. Hierdie model is afgewerk in die geel van BMW se M-motors, en lyk baie aantreklik. Nee kyk, dit is ’n mooi fiets dié. Die windskerm bied tog ’n mate van beskerming, maar het net twee verstellings. Ek het meestal op die laagste posisie gery, net om meer wind op my te kry.

(Foto: Brian Cheyne)

In Vredefort ry ek so ’n klein stukkie grondpad na die begraafplaas waar my oupa begrawe is. Hier wen die XR weer so ’n paar punte terug. Met die regop ryposisie voel ek heeltyd in beheer. Nadat ek ’n kort tydjie vertoef het, begin ek die terugtog huis toe. Ek kies die pad deur Fochville en Carletonville en hou langs die pad by ’n sonneblomland stil. Hier ontmoet ek mense wat ook besig is om foto’s te neem, en ons kuier lekker.

Die BMW F 900 XR het ’n paar tekortkominge, maar vir ’n fiets waarop ek nostalgies kon raak, was hy in die kol. Die hantering is uit die boonste rakke, maar as die saal net nie so hard was nie, sou ek hierdie dag dalk nog meer geniet het.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos ·

“From R 205 100” – – rerig!? Bankrot Maar Windgat (BMW) is allermint my voorland as ek hom aanskaf.

Karel Kobus Kruger ·

Hallo Brian
Weet jy van klere vervaardigers wat ligkleurige (liggrys, of selfs wit ook) klere maak? Ek is nou regtig moeg om met swart klere deur die warm Karoo te ry. Selfs die feit dat dit n “air jacket” en “air pants” is, help nie veel nie. Ek gee nie om dat liggrys klere nooit weer na die eerste trippie skoon sal kom nie. Bietjie ingeboude vuilgeit gee die klere immers houding.
Dankie

Brian ·

Alpinestars se Andes V3 is beskikbaar in ligte kleure. Ek is met jou met die “air jacket”. Dit voel nie of dit werk nie, maar gaan ry in die winter met alles oop dan sal jy wel voel daar is ‘n beweging. Wat jy ook kan oorweeg is ‘n “cooling vest”. Dis is iets wat jy onder jou klere aantrek wat jy in water week. Die beweging van die wind oor die nat “vest” koel jou dan af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.