Everest ʼn puik reisgenoot

Ek het die afgelope paar maande heelwat tyd met Ford se Everest deurgebring. Dis eintlik ʼn jammerte dat ek só laat in die produk se lewensiklus eers vir hom lief geraak het – hy word waarskynlik einde vanjaar, óf baie vroeg in 2023, vervang.

Die Everest is nou met Ford se koppelingsuite toegerus. Deur middel van die Ford Pass-app kry jy dan toegang tot verskeie funksies soos om die voertuig oop en toe te sluit met jou foon, of om hom te programmeer om aan te skakel en solank die lugreëling te aktiveer sodat jy ná jou inkopies in ʼn koel kar klim.

Daar is ander slim inligting soos brandstofvlak, reikafstand, afstand tot volgende diens en dies meer. Ons maak gereeld gebruik van die app op ons Ford Ranger Stormtrak wat op lang termyn aan ons geleen word.

Ons het onlangs aan Rally 2 Read, ʼn program wat Ford borg, deelgeneem en het met ʼn vloot Everests tot in Gqeberha gery sodat almal genoeg voertuie gehad het om al die boeke en toerusting rond te ry.

My ysterperd vir die reistog was ʼn Ford Everest 2.0 XLT BiTurbo. Nie die luuksste spesifikasievlak nie,  maar presies die een wat ek sou koop met my geld. Hierdie een het egter die volvet 157 kW en 500 Nm 2.0‑viersilinder‑dubbelturbodiesel.

Die eerste been van ons reistog neem ons van Johannesburg af, suid verby die Vaaldam waarna ons by die N1 aansluit. Ons eerste bestemming is ʼn lodge vir middagete, dan Gariepdam vir ʼn vinnige foto by die damwal wat tans oorloop en dan ʼn klein sprong tot in Bethulie vir die aand se rus. Ons slaap in die Boek-hotel op Bethulie. Die eienaar, Anthony, het fantastiese staaltjies om te deel oor die omgewing en die hotel se betrokkenheid by die Anglo‑Boereoorlog. Hier is glo verskeie konsentrasiekampe in die omgewing, maar ons het nie genoeg tyd om te gaan kyk nie.

Die Everest se gemak val my weereens op. Maar die grootste ses wat die Everest op dag een slaan, moet die brandstofverbruik wees. ʼn Fantastiese 6,9 ℓ/100 km teen 127 km/h vir amper 800 km. Dit wil gedoen wees.

Dag twee neem ons van Bethulie af die Oos-Kaap in. Nou begin die mooi deel. Meer grondpaaie, berge en grasgroen vlaktes. Die reënseisoen was goed vir die veld en dis asemrowend mooi. Vanaand slaap ons op Hogsback nadat ons ʼn heerlike burger op Komani (Queenstown) verorber het.

Ek was nog nooit op Hogsback nie. Dis ʼn pragtige hoekie van Suid-Afrika. Dis eintlik ʼn jammerte dat ek nie al meer van die Oos-Kaap gesien het nie… ek dink ek moet dit regstel.

Dag drie verlaat ons Hogsback en trotseer verskeie grondpaaie. Ons moet 13:00 by Chief Dawid Stuurman Internasionale Lughawe wees om die res van die joernaliste en sosialemediamense op te laai. Ons slaap vanaand op Zuurberg. Almal soek net ʼn gaatjie om van hier af tot by die handelaar te gaan waar ons al die Rally 2 Read-toerusting gaan oplaai.

By die handelaar is die reëlings ʼn deurmekaar spul. Party is in beheer waar ander moes wees, en ander is in beheer waar hulle nie moes wees nie. Gelukkig spring almal in en kort voor lank is al die karre propvol goedjies gelaai wat môre aan die skole besorg sal word. Die wind in PE waai kwaai, maar die Everest skrik nie maklik nie.

Dag vier vat almal ʼn ander voertuig en spring met hul spanne in. Elke span besoek twee minderbevoorregte skole en deel boeke en leermateriaal uit. Vroegmiddag is almal terug by Zuurberg, maar die gemoedere is laag. Die hele Rally 2 Read-storie is nie ʼn grap nie.

Die laaste dag gaan van die ouens lughawe toe om huis toe te vlieg en die res van ons vat die vloot Everests terug Johannesburg toe.

Dit is die tweede keer wat ek ʼn lang afstand in die Everest aflê. Dis ʼn fantastiese voertuig, én die nuwe een is uiters mooi.

Die reeks lyk só:

Ford Everest 2.2TDCi XLS118 kW/385 Nm7,3 ℓ/100 kmR575 400
Ford Everest 2.0Turbo XLT132 kW/420 Nm7,1 ℓ/100 kmR665 900
Ford Everest 2.0SiT XLT Sport132 kW/420 Nm7,1 ℓ/100 kmR690 900
Ford Everest 2.0SiT 4WD XLT132 kW/420 Nm7,1 ℓ/100 kmR709 000
Ford Everest 2.0Bi-Turbo XLT157 kW/500 Nm7,6 ℓ/100 kmR724 800
Ford Everest 2.0SiT 4WD XLT Sport132 kW/420 Nm7,1 ℓ/100 kmR734 000
Ford Everest 3.2TDCi 4WD XLT147 kW/470 Nm8,2 ℓ/100 kmR748 200
Ford Everest 2.0Bi-Turbo 4WD XLT157 kW/500 Nm7,6 ℓ/100 kmR779 100
Ford Everest 2.0Bi-Turbo 4WD Limited157 kW/500 Nm7,6 ℓ/100 kmR858 600

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.