Goed, beter, beste – Hilux?

Almal het ʼn voorkeur as dit kom by woonwa sleep. Ek hou van bakkies, bussies en sewesitplek sportnutsvoertuie. Ons was al bevoorreg om met amper elke soort voertuig te sleep. Toyota se Hilux is beslis nie onbekend in dié segment nie… maar die Toyota Hilux GR-S sit die Hilux in ʼn nuwe liga as dit kom by sleep.

Daar is twee hoofredes hoekom… Eerstens, krag. Die GR-S Hilux pronk met 165 kW en 550 Nm. 15 kW en 50 Nm meer as ‘  gewone 2.8 – maar dis nie die volle prentjie nie. Toyota het na die wringkragomsitter en ratkaskalibrasie gekyk. Hulle het die spyker op die kop geslaan. Die wringkragomsitter skop mooi vas in ʼn rat, en die ratkas is geprogrammeer om ʼn hoër rat te kies en die berg wringkrag te gebruik eerder as hoë revolusies en rondsoek vir ratte. Ek is oortuig dat die GR-S my Sprite Swing rekmerke getrek het.

(Foto: Brendon Staniforth)

Die tweede groot verbetering op die GR-S is die skokbrekers. Toyota sê dat die vering ietwat harder is as die gewone Hilux – maar die beter skokbrekers kan die mas makliker opkom met hop en terugspring. Dus voel die GR-S sagter geveer, én meer stabiel. ʼn Mens sien die wa in die truspieëltjie – maar daar is nie veel gestoot en trek deur die onderstel van die wa af nie. In Engels praat hulle van “the tail wags the dog”… dié is beslis nie dit nie.

Ek probeer terugdink waarom die sleepervaring só maklik was. Ek dink dis bogenoemde, en twee ander redes. Dis nou ʼn nuwer wa – baie nuwer as my vorige woonwa. My ou woonwa was ʼn 1992 Sprite Super Sport. Dié is nou ʼn 2012 Sprite Swing. ʼn Goeie 20 jaar nuwer. Die ander rede is Toyota se TSS of Toyota Safety Sense. Dit sluit dinge in soos blindekolwaarskuwing, baanhulp, botsingwaarskuwing én aanpasbare spoedkontrole.

Die aanpasbare spoedkontrole werk soos ʼn droom vir sleep. Ek stel hom op 110 km/h, en ʼn mens hoef nie veel verder te bekommer nie. Indien daar stadig bewegende verkeer is sal die bakkie self spoed verminder. Indien jy die rigtingwyser aansit begin die bakkie reeds versnel sodat ʼn mens in die verkeer kan invloei sonder om ʼn hindernis te veroorsaak. Die stelsel werk puik.

Ons het 392 km gesleep van Pretoria tot by ATKV Drakensville. Die bakkie het 13,3 ℓ/100 km of 7,5 km/ℓ gebruik. Nie te versmaai nie. Die roete huiswaarts het egter beter afgeloop. 386 km teen 12,4 ℓ/100 km of 8 km/ℓ. Glad nie sleg nie. Daarby het die dieselprys ook gedaal die dag toe ons besluit om huis toe te keer en te vlug vir kwaai reën in die Drakensberge.

(Foto: Brendon Staniforth)

Aan die begin van die vakansie merk my dogtertjie, die jongste, op dat sy van die bakkie hou. Sy moet altyd in die middel sit as ʼn voertuig slegs vyf sitplekke het. Sy spog dat die sitplek lekker breed is en nie haar lyf moeg maak nie… nóg ʼn pluimpie vir die Hilux.

Talle voertuie het lekker groot sleepvermoë van 3 500 kg. My wa – volgepak is waarskynlik byna 1 500 kg. Ek dink baie mense weet nie wat dit is om 3,5 ton te trek nie. Nietemin – indien ek só ʼn wilde gewig moet sleep sal ek dit maklik met ʼn Hilux trotseer.

Ons het die afgelope vyf weke meer as 2 000 km met die Hilux afgelê. Hy is verbasend lig op brandstof – en wanneer ʼn mens die krag wil hê, is hy bitter sterk. Is die bakkie perfek? Amper – ek mis net twee dinge. Ek soek die JBL-klankstelsel in die Legend, en daar moet ʼn torsiestaaf op die klap kom agter – hy is baie swaar! Ek gaan die bakkie mis in die volgende paar maande.

Die Hilux GR-S lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruikSleep-kapasiteitWaarborgPrys
Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 GR-Sport165 kW/550 Nm8 ℓ/100 km3,5 ton3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R865 400

Só lyk die mededingers:

Nissan Navara 2.5DDTi dubbelkajuit Pro-4X 4×4140 kW/450 Nm8,1 ℓ/100 km3,5 ton6 jaar/ 150 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R812 900
Isuzu D-Max 3.0TD dubbelkajuit V-Cross 4×4140 kW/450 Nm8,1 ℓ/100 km3,5 ton5 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R835 100
Ford Ranger 2.0 BiTurbo dubbelkajuit Wildtrak 4×4154 kW/500 Nm7,5 ℓ/100 km3,5 ton4 jaar/ 120 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R867 700
Ford Ranger 3.0 V6 dubbelkajuit Wildtrak 4WD184 kW/600 Nm8,4 ℓ/100 km3,5 ton4 jaar/ 120 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R953 500

Ek het slegs die topmodelle van elke mededinger gelys. Dié het almal 3,5 ton-sleepkapasiteit. Die Nissan is ʼn winskoop teen die prys. Die twee Fords is die duurste tussen die vyf – én sonder ʼn diensplan. Die Fords is egter splinternuut en bied ʼn baie luukse binneruim teen die prys. Die V6 Ranger is die enigste een wat werklik sy man gaan kan staan teen die GR-S se puik enjin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.