Ek het verlede week ʼn tydjie met Honda se kleinste sedanmotortjie, die Amaze, deurgebring. Hierdie piepklein sedanmotors kom van Indië af. Sedanmotors is nog die gewildste daar, en die regering het vir hulle ʼn belastingkorting gegee op sedanmotortjies onder 4 m lank. Siedaar, so het Honda se Amaze, Suzuki se DZire en so meer ontstaan.
Hier in Suid-Afrika is ons meer lief vir ʼn klein luikrug, maar ek hou tog van die sedans. Dit bied dieselfde ruimte as ʼn klein luikrug, met ʼn baie groter kattebak – slim. Vervaardigers in Suid-Afrika wat slegs invoer, word doodgemaak deur Jan Taks. Hulle het ook geen uitvoerkrediete om teen hul invoere te verreken nie. Dit wil vir my lyk Honda kry die swaarste. Kom ons kyk hoe vergelyk Suzuki se groter Ciaz met die piepklein Amaze.
Ontwerp
Honda Amaze 1.2 Comfort Punt 3/5 | Suzuki Ciaz 1.5 GL Punt 4/5 |
Die Honda het ʼn verskriklik aggressiewe voorkant … verder is dit net ʼn piepklein sedanmotortjie. Die Suzuki Ciaz het ʼn meer slanke ontwerpstyl, heel netjies. Dit is indrukwekkend hoe aanvanklike gehalte deesdae maar baie goed is – te danke aan robotte én gehaltebeheer by die fabrieke.
Binneruim
Honda Amaze 1.2 Comfort Punt 4/5 | Suzuki Ciaz 1.5 GL Punt 4/5 |
Albei voertuie het sitplek vir vyf, maar die Ciaz is heel groter as die Amaze en het ʼn groter kattebak. Die Honda het aaklige sitplekoortreksels, seker om die beige sitplekke weg te steek wat gewild is in Oosterse markte, maar glad nie in Suid Afrika nie. Die Suzuki is groter, maar die Honda se bougehalte voel vir my effens beter. Die Honda het klimaatbeheer teenoor die Suzuki se gewone lugreëling. Jou behoeftes sal beïnvloed watse voertuig jy verkies.
Enjin, ratkas en dryfstelsel
Honda Amaze 1.2 Comfort Punt 5/5 | Suzuki Ciaz 1.5 GL Punt 5/5 |
Albei karretjies het atmosferiese viersilinderpetrolenjins. Die Honda gebruik ʼn 1.2 en die Suzuki ʼn 1.5. Japannese enjins is vir my steeds van die bestes. Hulle is mal oor toere en trek lekker sterk bó in die toerestrek, en as mens net wil rustig wees – dan is hulle bitter lig op brandstof. Albei 5-spoedratkaste beïndruk en is voorwielaangedrewe. Die Suzuki maak op in punte omdat hy meer krag bied sonder om in te boet op brandstofverbruik, maar die 1.2 in die Honda is werklik ʼn juweel van ʼn enjin en lê klem op hoe sleg sekere 1.0-driesilinderenjins tans in die mark is.
Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid
Honda Amaze 1.2 Comfort Punt 3/5 | Suzuki Ciaz 1.5 GL Punt 4/5 |
Die Honda se vering is lekker soepel en daar is nie veel bakrol om oor te kla nie. Padhouvermoë is in die kol vir só ʼn tipe tjor. Die Suzuki se kajuit is wel baie stiller op die pad, en bied dus ʼn rustiger ervaring as die Honda. Van ʼn veiligheidstandpunt het die twee tjorre amper dieselfde. Albei het ABS en EBD met twee lugsakke, maar die Suzuki het remhulp.
Opsomming
Honda Amaze 1.2 Comfort Puntetotaal 15/20 | Suzuki Ciaz 1.5 GL Puntetotaal 17/20 |
Albei is goeie karretjies. Die Ciaz is vir my ʼn beter opsie, want hy bied meer ruimte teen amper dieselfde prys. Daar is nie veel rolspelers oor in dié segment nie – maar as ʼn klein sedan nog jou voorkeur is – kyk gerus na albei.
Die twee vergelyk só:
Honda Amaze 1.2 Comfort | Suzuki Ciaz 1.5 GL | |
---|---|---|
Enjin | 1.2-viersilinderpetrol | 1.5-viersilinderpetrol |
Krag | 66 kW/110 Nm | 77 kW/138 Nm |
Ratkas | 5-spoedhandrat | 5-spoedhandrat |
Brandstof-verbruik | 5.6 ℓ/100 km | 5.5 ℓ/100 km |
Diensplan & waarborg | 5 jaar/200 000 km-waarborg 2 jaar/30 000 km-diensplan | 5 jaar/200 000 km-waarborg 3 jaar/60 000 km-diensplan |
Prys | R214 000 | R223 400 |
Die kompetisie lyk só:
Suzuki DZire 1.2 GL | Toyota Etios 1.5 Sprint | Ford Figo 1.5 Ambiente | |
---|---|---|---|
Enjin | 1.2-viersilinder | 1.5-viersilinder | 1.5-driesilinder |
Krag | 61 kW/113 Nm | 66 kW/132 Nm | 88 kW/150 Nm |
Ratkas | 5-spoedhandrat | 5-spoedhandrat | 5-spoedhandrat |
Brandstof-verbruik | 4.9 ℓ/100 km | 5.9 ℓ/100 km | 5.7 ℓ/100 km |
Diensplan & waarborg | 5 jaar/200 000 km- waarborg 2 jaar/30 000 km- diensplan | 3 jaar/100 000 km- waarborg 3-dienstediensplan | 4 jaar/120 000 km- waarborg 4 jaar/60 000 km- diensplan |
Prys | R185 900 | R206 300 | R208 500 |
Al die mededingers is sterk. Die Etios het wel die grootste kattebak met ʼn reusemarge. Die Figo het die lekkerste enjin. Die DZire is beslis die goedkoopste. Die Honda is lekker, maar hy is net ʼn bietjie duur.
Ek is seker die grootste Suzuki “fan” maar hier moet ek sê om eerder die Toyota of Figo te koop. Die is suiwer ‘n ekonomiese keuse wat herverkoop waarde betref.