Is dit nou die beste tyd om ʼn motor te koop?

Foto: Pixabay

Verskeie faktore kan die koop van ʼn nuwe voertuig nou moontlik baie aanloklik maak.

Osman Arbee, uitvoerende hoof van Motus, sê dat verskeie faktore soos die verlaagde rentekoers, laer petrolprys en verminderde onderhoudskoste moontlik ʼn puik geleentheid bied om ʼn nuwe voertuig aan te skaf.

Motus is ʼn reuserolspeler in die motorbedryf. Kia, Renault, Hyundai en Mitsubishi is deel van die invoer- en verspreidingsbeen van die onderneming. Dan is daar huurmotors, finansiële dienste en onderdele. Dit is net ʼn klein gedeelte van Motus se bedrywighede in Suid-Afrika.

Indien ʼn mens die rentekoers vasteken, is daar beslis ʼn besparing. Die 2%-daling in rentekoers bied omtrent ʼn 7%-besparing in paaiement – na gelang van die struktuur van jou ooreenkoms met jou bank.

Die brandstofprys bied tans ʼn besparing, maar om ʼn besluit wat omtrent ses jaar lank gaan hou te neem oor iets wat oombliklik kan verander, is effe dwaas, behalwe as jy ʼn voertuig gaan aanskaf wat ligter is op brandstof as die een wat jy tans besit.

Die verminderde onderhoudskoste sal nie dadelik gevoel word nie, maar eerder oor ʼn tydperk wanneer bande vervang word, of as ʼn mens ʼn voertuig aanskaf wat nié ʼn diensplan het nie – en self binne ʼn jaar vir ʼn diens moet betaal.

Die besparing in kilometers wat gery word, sal nou stelselmatig begin verminder soos daar na vlak 1 van die afsonderingstydperk beweeg word, waar mense se rygewoontes waarskynlik na amper normaal sal terugkeer.

Daar is twee soorte klante wat ek hier in gedagte hou. Party klante is weens die landwye afsondering finansieel hard getref. Hulle sal nou moet vashou aan wat hulle het. Die ander groep is klante wat nie te erg hierdeur beïnvloed is nie en dus die meeste hierby sal baat – nie net by die rentekoers nie, maar eerder die desperate behoefte by handelaars om te begin motors verkoop.

Ek sal aanvoer dat ʼn mens in die volgende ses maande die beste diens, ooreenkoms en finansieringspakket as ooit tevore by ʼn handelaar sal kan beding. Indien jy in die posisie is om nou moontlik te kan koop, kyk gerus. Dit sal ook ʼn reusehupstoot aan ʼn bitter siek ekonomie gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.