Kia slaan ʼn ses met die Sonet

Die B-sportnutssegment is tans propvol! Al die vervaardigers haas om hul B-segment‑sportnutsbuksie aan die wêreld bekend te stel. ʼn Mens kan stry dat Ford se EcoSport een van die eerste B-SNV’s was. Ons het nou al Citroën se C3 Aircross, Honda se WR-V, die Hyundai Venue, die Kia Sonet, Mazda se CX-3, Nissan se Magnite, Peugeot se 2008, Renault se Kiger, Suzuki se Vitara Brezza, Toyota se Urban Cruiser en Volkswagen se T-Cross.

Van hierdie buksies is bekostigbaarder as ander, van hulle luukser as ander – maar ek dink die Kia Sonet vind die perfekte goue middeweg in die segment. Die Sonet is nie te duur nie, sy ontwerp is oulik, sy enjin gretig, ratkas lekker en sy spesifikasievlak sterk. Wat meer wil ʼn mens hê?

Uit ʼn ontwerpoogpunt is die Sonet werklik ʼn oulike sportnuts. Sy proporsies lyk soos ʼn SNV, nie ʼn luikrug of kruismodel nie. Die binneruim bied vyf gemaklike sitplekke en ʼn goeie spesifikasievlak.

Onder die kap skuil ʼn atmosferiese 1.5‑viersilinderpetrolenjin wat 85 kW en 144 Nm bied. Dit klink nie enorm nie, maar die Sonet voel werklik sterk en blitsig. Te danke aan goeie harmonie tussen die enjin en ratkas, kan die Sonet 7 l/100 km haal om die gekombineerde siklus… indrukwekkend.

Die volgende voordeel van die Sonet is sy aangename ritgehalte. Die Sonet ry op 16”‑wiele met ʼn 60‑profiel. Dit maak sy rit lieflik sag en soepel – in die kol vir ʼn sportnuts. Padhouvermoë is heeltemal voldoende vir ʼn voertuig van dié soort.

Veiligheidsgewys bied die Sonet twee lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en vastrapbeheer. Dit is lekker sterk vir ʼn voertuig wat minder as R300 000 kos.

Dit is maklik om die Sonet op te som. Die inligtingstelsel bied Android Auto en Apple CarPlay en daar is lugreëling, so ʼn mens kan altyd gemaklik voel. Dit is nie te duur nie, en Kia se waarborg is ongeëwenaard teen vyf jaar met onbeperkte kilometer. Die diensplan self is ook stewig met vier jaar/60 000 km. Ek’t nou lank en hard gedink, en daar is nie enkele rede waarom ʼn mens nie ʼn Kia Sonet sou oorweeg nie.

Die reeks lyk só:

Kia Sonet 1.5 LX85 kW/144 Nm7 l/100 kmR275 995
Kia Sonet 1.5 EX85 kW/144 Nm7 l/100 kmR295 995
Kia Sonet 1.5 LX outo85 kW/144 Nm7,2 l/100 kmR296 995
Kia Sonet 1.5 EX outo85 kW/144 Nm7,2 l/100 kmR316 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 4 jaar/60 000 km‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Vitara Brezza 1.5 GLX77 kW/138 Nm6,2 l/100 kmtwee lugsakke5 jaar/200 000 km‑waarborg

4 jaar/60 000 km‑diensplan

R289 900
Ford EcoSport 1.5 Ambiente91 kW/150 Nm6,4 l/100 kmses lugsakke4 jaar/120 000 km‑waarborg

4 jaar/60 000 km‑diensplan

R303 900
Hyundai Venue 1.0T Fluid88 kW/172 Nm6,5 l/100 kmses lugsakke5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km‑dryfstelselwaarborg

3 jaar/45 000 km‑diensplan

R354 500
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 70 kW Comfortline70 kW/175 Nm4,8 l/100 kmses lugsakke3 jaar/120 000 km‑waarborg

3 jaar/45 000 km‑diensplan

R357 900

Tussen dié mededingers kan die Sonet en Brezza se waarde nie misgekyk word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.