Opel Grandland nie nét grênd

Opel het ietwat van ʼn grondpad die afgelope paar jaar in Suid-Afrika gery. Met die vertrek van GM uit SA is Opel soos ʼn stoute stiefkind vir een van die handelaarsgroepe gegee om in die tussentyd op te pas. Nie lank daarna nie het ʼn klomp handelsmerke onder die Stellantis-vaandel saamgesmelt, en sover was dit werklik nog net goeie nuus vir elke handelsmerk.

Opel het in die negentigs ʼn enorme markaandeel in Suid-Afrika gehad. Dit het stelselmatig afgeneem soos ander handelsmerke sterker geword het.

Opel se nuwe Grandland is ʼn goeie tree in die regte rigting om hulle weer in Suid-Afrika op die kaart te plaas.

Die Grandland is modern en met die intrapslag is dit duidelik dat jy hier met ʼn Europese motor van hoër gehalte te doen het. Dit sitplekke is oombliklik gemaklik en die ergonomie in die kajuit is lekker.

Daar is elke denkbare luuksheid – van geheueposisies op die elektries verstelbare sitplekke wat ook verhit en verkoel is, ʼn verhitte stuurwiel in jou hande tot pragtige raakskerms wat net die inligting wat jy wil sien, uitbeeld.

Onder die kap sit ʼn turboaangejaagde 1.6‑viersilinderpetrolenjin wat 121 kW en 240 Nm bied. Die enjin is gekoppel aan die voorwiele deur ʼn 6-spoed‑ outomatiese ratkas. Dié syfers en inligting bied egter nie insig nie. Ons het onlangs met ʼn Chery Tiggo te doen gehad en die kalibrasie op daai voertuig was uiters power. Dit is egter nie hier die geval nie. Die versneller is perfek gekalibreer, so jy kan mooi egalig wegtrek en indien jy al die perde wil oproep, hoef jy eenvoudig die versneller in die mat te begrawe. Die ratkas weet ook dan presies wat van hom verwag word.

Terwyl ʼn mens die goeie kalibrasie geniet, spring nog ʼn aspek na vore. ʼn Lieflike stuurwiel wat na my mening die perfekte dikte is met ʼn fantastiese gevoel, seepglad en mooi akkuraat… dit help om elke keer die Grandland perfek op die pad te plaas, al is die oppervlak swak. Die ritgehalte is soepel genoeg ten spyte van die 18”‑wiele, maar bied tegelykertyd ook goeie padhouvermoë.

Terwyl jy die goeie verrigting en lekker onderstel geniet, is daar ʼn sterk veiligheidsuite om jou veilig te hou. Daar is sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer sowel as ses lugsakke. Aan die aktiewe kant is daar ʼn magdom hulpmiddels soos aanpasbare spoedkontrole, blindekolwaarskuwing met baanbeheer en ʼn truratkamera. ʼn Puik stelsel is egter die botsingwaarskuwing met noodremhulp wat intree indien die bestuurder nie kan nie.

Ek sal die Grandland dan só opsom: Dit is ʼn mooi buks met Duitse gehalte. Die enjin is lekker lig op brandstof en die kalibrasie is uit die boonste rakke. Die feit dat die nie ʼn gewilde handelsmerk is nie, maak die Grandland nog aantrekliker. Indien jy in die mark vir ʼn nuwe C-segment‑sportnuts is, toetsbestuur beslis ook ʼn Grandland.

Die reeks lyk só:

Opel Grandland 1.6TR599 900
Opel Grandland 1.6T GS LineR679 900
Opel Grandland 1.6T UltimateR720 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en -diensplan. Diensintervalle is elke 20 000 km.

Ons sal weer tyd met die Grandland deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.