Stof behoorlik opgeskop tydens jongste Stofskop

(Foto: Brian Cheyne)

As mense glimlag en jy sien stof op hulle tande dan weet jy dat “Stofskop, Powered by Motul” ’n reusesukses was. Vorige jare het ek net die mediaverklarings gelees, maar hierdie jaar het ek besluit om dit self by te woon. Ek was vroeg uit die vere en by my aankoms is ek begroet met die reuk van tweeslag‑brandstof en ’n rekordgetal ryers en toeskouers. Oral was almal besig om die laaste verstellings aan hulle fietse, en veral hul uitrustings, te maak, want die eerste wedren sou 12:00 afskop.

(Foto: Brian Cheyne)

Die klasse van renne was baie vaag gedefinieer, en mense se interpretasies van die reëls was baie innoverend. Daar was selfs ’n ryer uitgevat soos Evel Knievel op ’n uiters lawaaierige Bultaco, maar ek twyfel of Knievel ooit Italiaanse fietse gery het.

Alhoewel hierdie ’n baie informele en prettige dag was, is veiligheid tog belangrik. Na die ryers toegespreek is oor wat mag en nie mag nie, het al die ryers op die ovaalstofbaan in Randfontein bymekaargekom en ’n paar stadige rondes gery. Daarna het die wedrenne in alle erns begin. Die renne was baie kort, maar het glad nie aan opwinding tekort geskiet nie.

Die hoogtepunt van die dag was beslis die afleweringsfietse. Honda het ’n paar van hulle Ace 125 cc-fietse beskikbaar gestel, maar dit was die ryers wat die aandag getrek het. Ross Branch, Clinton Seller, Brian Capper, Hippocrates Bogiages, Darryl Curtis en Louwrens Mahoney is behoorlik die wie’s wie van plaaslike motorfietsjaers. Tussen hulle is daar 37 nasionale titels van veldrenne tot superfietse.

Ross Branch, alias die Kalahari Ferarri, is egter ’n fabrieksryer vir Hero-motorfietse, so daar moes inderhaas plan gemaak word dat hy hom nie op ’n Honda bevind nie. Hero het ’n splinternuwe Hero Eco 150 vir Branch beskikbaar gestel. Stofskop is nie veronderstel om enigsins kompeterend te wees nie, maar hierdie manne het nie die memorandum gekry nie. Die stryd was hewig, maar die wenner was vermaak!

Om ’n mediaverklaring te vertaal is een ding, maar om hierdie dag eerstehands te beleef is ’n totaal ander ervaring. Hou maar die media goed dop vir volgende jaar se byeenkoms, en doen jouself ’n guns en woon dit by. Daar het regtig nie een mens met ’n suur gesig daar rondgeloop nie. Almal het stof op hulle tande gehad!

Motul se Mercia Jansen het self deelgeneem met die heel eerste motorfiets wat sy self besit het. Sy sê: “Stofskop was alles wat ons gehoop het dit gaan wees: ’n Lawwe dag vir families en ryers.” Sy het ook opgemerk dat hierdie geleentheid ten doel het om mense aan te moedig om die motorfietsleefstyl aan te gryp. Met of sonder ’n Evel Knievel-uitrusting!

Motul se Mercia Jansen (Foto: Brian Cheyne)

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.