Toyotas wys hul staal in GR-reeks

Daar was die afgelope naweek baie motorsportaksie by die Aldo Scribante-renbaan in Gqeberha tydens die vierde ronde van die Extreme Festival.

Verskeie motors en motorfietse was in sewe verskillende klasse in aksie. Altesaam 13 Toyota GR-motors het in twee van dié klasse deelgeneem.

Die ses motorjoernaliste in die GR-beker is verlede week goed die leviete voorgelees. Ons manewales op die renbaan het duur en onnodige herstelwerk tot gevolg gehad en ons sewe wat die afgelope naweek gejaag het, het net een ding op die brein gehad, naamlik moenie die motor stamp nie.

Ons het seker byna sestig rondes die naweek gery en gelukkig het nie een van ons eers ʼn paneel gekrap nie! Hoera!

Dit sit my toe ʼn bietjie aan die dink. Die sewe voertuie het al honderde rondes om die land se renbane voltooi en daar word elke keer behoorlik voet in die hoek gesit. Eenvoudig gestel: Hoe hou die GR-86 dit?

Wat verder verstommend is, is die GR-Yarisse wat nou nog loop ná hulle die hele verlede jaar gejaag is, die 9-uur-uithouren in Kaapstad voltooi het en nou deur ʼn klomp jongmense ingespan is in die GR-beker. In die Yaris-klas weet ek van ʼn ratkas hier en daar wat ʼn bietjie liefde gekort het, en ʼn enjin of twee wat bietjie getimmer moes word ná ʼn rathefboom in woede van vierde terug eerste toe gestuur is… geen enjin wil daai 10 000 r/min hê nie.

In die laaste oefenronde Vrydagmiddag kry een van die Yaris-karretjies op draai sewe ʼn bietjie stuuroorywerigheid – die vierwielaandrywing steek vas, byt en skiet 180 grade om – op die gras en toe is dit ʼn ysskaatsbaan tot in die bande. Aanvanklik het dit lig gelyk. Toe hop die hele kar en die bandmuur seker ʼn meter in die lug. Sjoe. Die panele is uitgeskop, met kabelbinders vasgemaak en daardie kar het gekwalifiseer én twee wedrenne voltooi.

Die punt wat ek probeer maak, is dat dié Toyota-karretjies padvoertuie is. Dit is nie pasgemaakte renmotors nie. Já, dele van die binneruim is verwyder, ʼn rolstaaf vasgebout, en dis dit. Die enjins is 100% standaard. Die Yaris en 86 het ʼn kwaaier uitlaatpyp op, en die 86 het groter brieke. Dis dit.

Ons algehele posisies in die 86-beker lyk na die naweek só:

RenjaerTotale tyd
Setshaba Mashigo22:26.512
Denis Droppa22:33.772
Mark Jones22:46.199
Reuben van Niekerk22:49.238
Brendon Staniforth22:51.248
Anand Pather23:00.733
Chad Lückhoff23:16.316

Dit is verstommend hoe naby die tye is. Tussen derde en vyfde is dit maar vyf sekondes wat ons verskil ná twintig rondes.

Ons het nog drie rondes oor vir die jaar. Die volgende ronde is in Oos-Londen op 21 en 22 Julie. Daarna is dit weer Kaapstad in September en die finaal op Zwartkops in Oktober… en dan hoop ons vir ʼn 9-uur-uithouren in Kaapstad vroeg Desember.

Hoe sê hulle: Alles loop reg, altyd reg, Toyota.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.