Tuisgebakte Nissan Navara   

Die Nissan Navara. (Foto: Cornel van Heerden)

Die huidige Nissan Navara was ongelukkig vir Nissan Suid-Afrika nie ʼn reusesukses soos die eerste generasie Navara nie. Daar was na my mening twee probleme. Hy was duur, en daai sagte agtervere wat nie vrag kon laai nie het hom een tree té ver gesit vir meeste kopers.

Net meer as twee jaar gelede het Nissan aangekondig dat die volgende Navara hier in Suid-Afrika, by hul aanleg in Rosslyn, gebou gaan word. Dit was weens verskeie redes fantastiese nuus. Vier redes om presies te wees. Nissan kan nou die produk teen ʼn meer bekostigbare prys lewer, die produk opknap vir plaaslike doeleindes, werk skep én die uiteindelik die onveilige NP300 ter ruste lê.

Die Nissan Navara. (Foto: Cornel van Heerden)

Het Nissan alle foute uitgeskakel? Ja, almal behalwe een. Die stuurkolom waaroor ek al tot vervelens toe gekla het in die Navara en Mercedes X-klas is steeds só. ʼn Mens kan die stuurkolom nie hoog genoeg stel nie. Dit is ʼn jammerte.

Die sagte agtervering is heelwat stywer gemaak, maar op ʼn baie slim manier. Dit is nie net hard nie, as die bakkie leeg is, dan ry hy lieflik sag. Daar is so te sê geen geskud terug deur die onderstel as gevolg van klipharde bladvere en ʼn soliede dryfas agter nie. Die Navara maak steeds gebruik van ʼn soliede dryfas, maar eerder kronkelvere en ʼn multilink-stelsel.

Die ontwerp is effens opgeknap. Ek persoonlik het baie van die vorige konkawe enjinkap gehou – maar die nuwe Navara lyk indrukwekkend soos hy daar staan. Die kajuit is grootliks onveranderd. Twee reuseopknappings is die nuwe LED-ligte, en die klankdemping in die kajuit. Op die pad toer die Navara heerlik stil.

Onder die kap

Die Nissan Navara. (Foto: Cornel van Heerden)

Dié Navara maak weer gebruik van ʼn opgeknapte weergawe van die ou 2,5 viersilinderturbodiesel. Die enjin bied nou 140 kW en 450 Nm. Hoekom die skuif? Nissan gee een rede, maar ek dink dit is tweeledig. Die eerste rede is dat die 2,5 met ʼn enkelturbo op swakker diesel kan loop. Die 2,3 dubbelturbo was ʼn hoër EU-gradering, en vra nét die skoonste, beste diesel. Dit is nie altyd oral op die platteland beskikbaar nie. Die ander rede, dink ek, is dat die 2,5 met ʼn enkelturbo ʼn goedkoper enjin sal wees om te vervaardig. Nissan het geweet hulle gaan aggressief moet wees met die prys, so dit maak dié skuif ʼn wen-wen.

Die enjin kom steeds met ʼn sewespoed outo. Die ratkas se programmering is puik. Daar is so te sê geen turbotraagtheid nie en ratwisselings is seepglad. Een ding wat die Navara al van die 2,3 se tyd af doen, is dat hy van omwentelinge hou. In die nuwe Navara maak die klankdemping seker dat die toere nie pla nie, maar ek is nie mal oor ʼn bakkie wat so hard rev tot by 4 500 r/min nie.

Die Nissan Navara. (Foto: Verskaf)

Die hele reeks behalwe die intree-petrolmodel kan geremde 3,5 ton sleep, en 750 kg ongerem. Die dubbelkajuitmodelle kan almal 750 kg loonvrag dra. Ons het 600 kg op een model gelaai, en die agtervering sak effens, maar geensins soos die vorige model nie – puik.

Ek moet die Navara só opsom. Dit is voorwaar ʼn lekker produk. Die stuurwiel is die enigste ding wat pla. Die klankstelsel is fantasties – en die 4 x 4-weergawe met sy vering is lieflik gemaklik. Vir diegene wat nié ʼn Toyota of ʼn Ford wil hê nie het die Navara homself sopas bitter aantreklik gemaak, veral as ʼn mens sien dat hy goedkoper is al sy direkte mededingers, Isuzu ingesluit. Nóg ʼn rede om opgewonde te raak is die toevoeging van ʼn enkelkajuitmodel tot die reeks!

Die reeks lyk só:

Nissan Navara 2.5 XE118 kW/ 233 Nm R311 000
Nissan Navara 2.5DDTi XE120 kW/ 403 Nm7.2 ℓ/ 100 kmR350 000
Nissan Navara 2.5DDTi SE120 kW/ 403 Nm7,2 ℓ/ 100 kmR426 000
Nissan Navara 2.5DDTi LE140 kW/ 450 Nm7,4 ℓ/ 100 kmR456 000
Nissan Navara 2.5DDTi SE dubbelkajuit120 kW/ 403 Nm7,2 ℓ/ 100 kmR474 000
Nissan Navara 2.5DDTi SE 4×4120 kW/ 403 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR492 000
Nissan Navara 2.5DDTi SE outo dubbelkajuit120 kW/ 403 Nm8,1 ℓ/ 100 kmR498 000
Nissan Navara 2.5DDTi SE Plus dubbelkajuit120 kW/ 403 Nm7.2 ℓ/ 100 kmR505 000
Nissan Navara 2.5DDTi LE 4×4140 kW/ 450 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR527 000
Nissan Navara 2.5DDTi SE Plus outo dubbelkajuit140 kW/ 450 Nm8,1 ℓ/ 100 kmR528 000
Nissan Navara 2.5DDTi SE 4×4 dubbelkajuit120 kW/ 403 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR552 000
Nissan Navara 2.5DDTi SE Plus 4×4 dubbelkajuit120 kW/ 403 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR580 000
Nissan Navara 2.5DDTi LE dubbelkajuit140 kW/ 450 Nm8,1 ℓ/ 100 kmR606 000
Nissan Navara 2.5DDTi LE 4×4 dubbelkajuit140 kW/ 450 Nm7,6 ℓ/ 100 kmR660 000
Nissan Navara 2.5DDTi LE 4×4 outo dubbelkajuit140 kW/ 450 Nm8,1 ℓ/ 100 kmR677 000
Nissan Navara 2.5DDTi PRO-2X dubbelkajuit140 kW/ 450 Nm8,1 ℓ/ 100 kmR686 000
Nissan Navara 2.5DDTi PRO-4X 4×4140 kW/ 450 Nm8,1 ℓ/ 100 kmR740 000

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/ 150 000 km waarborg en 6 jaar/ 90 000 km diensplan.

Ons sal weer tyd met die Navara deurbring en hom dán in diepte teen sy mededingers vergelyk. Hier is wel ‘n vergelyking van die intree-dubbelkajuitmodelle en hul pryse:

Nissan Navara 2.5DDTi SE dubbelkajuit120 kW/ 403 Nm7,2 ℓ/ 100 km3,5 tonR474 000
Ford Ranger 2.2TDCi Hi-Rider XL Sport dubbelkajuit118 kW/ 385 Nm6,5 ℓ/ 100 km3,5 tonR492 100
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider dubbelkajuit110 kW/ 400 Nm7,1 ℓ/ 100 km2 tonR515 300
Isuzu D-Max 2.5 X-Rider dubbelkajuit100 kW/ 320 Nm7,7 ℓ/ 100 km2,75 tonR518 300

Die Nissan Navara. (Foto: Cornel van Heerden)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Praat jy, het 2010 gekoop vir R435k alles ingesluit, 11 maande later verkoop en R221k gekry met 18k km op en vol diens rekord.

Alexander ·

Brendon is lief daarvoor om die grense in sy artikels te toets as dit by taalgebruik kom. ‘n Enjin rev nie, die toere word opgejaag. Daar is gereeld iemand wat kla en nou kla ek ook. Joernaliste is veronderstel om die hekwagters van goeie taalgebruik te wees.

Karlahari ·

Rev hom boetie rev hom.
Nog nooit n tydren jaer gehoor toere jaag nie.
As jy toer is jy rustig.
Ons almal se karre rev lekker, van Danville tot Durbanville.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.