World Ducati-week sluit op hoë noot af

Claudio Domenicali (Foto: Ducati)

“World Ducati Week vier die siel van Ducati. Ons verkoop nie net motorfietse nie, ons skep emosies en ervarings vir ons aanhangers.”

Dit was die woorde van Claudio Domenicali, hoof van Ducati, na afloop van World Ducati Week.

Ná vier jaar se afwesigheid kon Ducati weer hierdie spesiale geleentheid van 22 tot 24 Julie aanbied op die Misano-renbaan in Italië. Vir ware aanhangers van Ducati-motorfietse is hierdie meer as net ’n bymekaarkomgeleentheid – dit word amper ’n pelgrimstog. Geen besoek aan Italië sal volledig wees sonder om eers Bologna, die tuiste van Ducati, aan te doen nie.

(Foto: Ducati)

By die Ducati-fabriek is ’n museum wat die geskiedenis van Ducati uitbeeld, en besoekers kan ook die fabriek self besoek waar hierdie spesiale fietse gebou word. Die museumuitstalling is ook nie staties nie en verander soos nuwe ryers en fietse ingelyf word in die ryk Ducati-geskiedenis.

Van daar het die pelgrimstog versit na Misano se “World Circuit Marco Simonceli” vir drie dae se skouspelagtige uitstallings en belewenisse. Selfs met Europa se uiters warm weer en die pandemie wat sekere lande nog steeds verhoed om Italië te besoek, was daar nogtans 80 000 besoekers oor die drie dae. Daar is 235 amptelike Ducati-klubs wêreldwyd en hulle het ’n spesiale area tot hulle beskikking gehad.

(Foto: Ducati)

Die verrigtinge het al die Vrydagaand afgeskop met Ducati-aanhangers en hul fietse wat eers by die baan bymekaargekom het en toe gery het na die kusdorpie Riccione. Die parade, bekend as die “Big Red Snake”, is begelei deur Claudio Domenicali self. Daar was soveel fietse dat dit meer as ’n halfuur geduur het vandat Domenicali die baan verlaat het totdat die laaste fiets daar uit is. Dit moes iets gewees het om te aanskou!

Saterdag is die kuipe in ’n groot braaiarea omskep wat vir ʼn feestelike atmosfeer gesorg het.

Pecco Bagnaia (Foto: Ducati)

Die hoogtepunt van die viering was sekerlik die wedren van kampioene wat Sondag plaasgevind het. Dit het 21 Ducati-ryers ingesluit wat vanjaar deelneem in die verskeie wedrenklasse. Hulle was almal op standaard Ducati Panigale V4- en V2-fietse. Die ren is gewen deur Pecco Bagnaia, die huidige MotoGP-deelnemer. Elke fiets is daarna geteken deur die ryers, en sal later te koop aangebied word.

(Foto: Ducati)

Hier is net so ʼn paar brokkies statistieke oor die drie dae:

  • Motorfietse en motors het ’n totaal van 5 805 rondes om die baan voltooi.
  • Ducati-aanhangers uit 84 lande was teenwoordig.
  • 235 amptelike Ducati-klubs was verteenwoordig.
  • Daar het selfs ’n huwelik plaasgevind op die baan.
  • 56 Ducati-direkteure en -bestuurders was aktief betrokke om die kos voor te berei en te bedien tydens Saterdag se aandete.

As jy ’n Ducati-aanhanger is dink ek beslis dat jy minstens een keer in jou lewe ’n World Ducati Week moet bywoon!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.