Verander TikTok-onheiligheid na TikTok-veiligheid

TikTok se logo. (Foto: AP)

TikTok, die sosialemediaplatform wat gebruikers help om kortformaat video’s te maak en deel, was die laaste paar maande wêreldwyd in die spervuur.

Die video-app is onlangs vir tien dae in Pakistan verban omdat owerhede die video’s daarop as immoreel en onsedelik beskryf het. Pakistan se telekommunikasie-owerheid het tot ʼn vergelyk gekom met die app om die inhoud van video’s op dié platform te laat aanpas by die land se sosiale norme en wette. Pakistan is TikTok se 12de grootste mark en die app is daar reeds meer as 43 miljoen keer afgelaai.

ʼn Verbod op TikTok in die VSA is weer aan die einde van September op die nippertjie ter syde gestel, nadat Oracle en Walmart sowat 20% van die app se eienaarskap oorgeneem het. Pres. Donald Trump wou die app aanvanklik verban oor vrese dat TikTok se houermaatskappy, ByteDance, private inligting van gebruikers met China se kommunistiese regering deel.

Op plaaslike bodem het die gewildheid van die app egter geblom en die gebruik daarvan het met sowat 130% in die afsonderingstydperk alleen gegroei – nadat dit in 2019 reeds die app was wat die meeste in Suid-Afrika afgelaai is.

Rianette Leibowitz gee wenke hoe om jou gebruik van TikTok veiliger te maak. (Foto: Rianette Leibowitz/Digitale Ouerskap Facebook-blad.)

Maroela Media het met Rianette Leibowitz, ʼn kuberveiligheidskenner en digitale ouerskapmentor, gesels oor hoe om dié video-app veilig te gebruik.

“Ek beveel altyd aan dat ʼn mens eerstens na jou privaatheidstellings gaan kyk op elke app wat jy aflaai. Kan enige ou van enige plek in die wêreld met jou kommunikeer en is jy gemaklik daarmee? Weet jy of die gebruiker wel goeie bedoelings het en of dit nie dalk net ʼn robot is nie?”

Sy sê ʼn mens moet eintlik die bepalings en voorwaardes van ʼn app deeglik deurlees voordat jy dit aflaai. Dit is hier waar jy sal sien watter inligting die app van jou vat en kan gebruik, versprei of stoor.

“Buiten die mense waaraan jy jouself kan blootstel, is dit ook jou inligting wat blootgestel word wat nóg ʼn risiko is. Ons gee talle van hierdie apps toegang tot al ons kontakte en die apps skakel ook dikwels met mekaar as jy hulle gebruik.”

Leibowitz voeg by dat apps gewoonlik ʼn ouderdomsbeperking het, maar dat ouers dit dikwels nie besef nie.

Buiten die vrae oor wat ʼn app met jou private en persoonlike inligting maak, is daar ongelukkig ook die bekommernis dat ʼn platform soos TikTok, wat veral gewild is onder ʼn mark onder 18, gebruik kan word vir kuberseksvoorbereiding (cyber grooming).

“Ongelukkig is hierdie platform ook ʼn plek waar jy jouself, of jou kinders, maklik kan blootstel aan kuberboelies. Daar is maar altyd mense wat net daarop uit is om mense aanlyn af te kraak.”

Tog doen TikTok self reeds baie om sy gebruikers veilig te hou. Dit het vroeër vanjaar ʼn verstelling gemaak waar gebruikers onder die ouderdom van 16 verhoed word om private boodskappe te ontvang.

TikTok het in sy gemeenskapreëls gevra dat verdagte inhoud en rekeninge onmiddellik aangemeld moet word. Die app en sy gebruikers het in September vinnig ingespring om ʼn skermgreep van ʼn selfdoodvideo van die platform te verwyder.

Leibowitz meen egter dit is belangrik dat ons elkeen eerstens self eienaarskap van ons digitale burgerskap op ʼn platform soos dié neem, aangesien ʼn app net soveel kan doen om sy gebruikers te beveilig.

“Ek voel ons as ouers kan nog soveel meer doen om kinders selfstandig en kuberslim te maak. ʼn Mens kan beslis ook jou kind waarsku dat as hulle ʼn video-app soos TikTok wil gebruik, dit hulle meer blootstel en wat dit alles kan impliseer.”

Argieffoto (AP Photo/Mark Schiefelbein, File)

Unicef het gewaarsku dat kinders wêreldwyd nou meer blootgestel is aan aanlyngevaar omdat hulle in die afsonderingstyd meer tyd voor ʼn skerm en op die internet spandeer.

“Ek dink dit is belangrik om te erken dat skerms nou ʼn groter en veel belangrike rol in ons huise speel. Ons werk nie net nou meer daarop nie, maar ons ontspan voor ʼn skerm, leer daarop en ons bande met familie en vriende is ook tydens die hoogste vlak van inperking daarmee onderhou.

“As ons dit erken, kan ons die gebruik daarvan as ʼn gesin saam begin bestuur.”

Leibowitz sê die onus rus egter op ouers om so betrokke te wees by hul kinders se gebruik van sosialemediaplatforms en slimtoestelle dat hulle gou kan agterkom as daar ʼn verandering in gedragspatroon plaasvind.

“Kom ons wees betrokke ouers wees en weet waarmee hulle besig is. Vra jou kinders om jou te wys hoe TikTok werk of gesels net minstens gemaklik met hulle oor die app en laat hulle veilig voel by jou as ouer.

“Ons as ouers moet soos diefwering wees wat sien wat binne en buite aangaan, maar net soos diefwering wat nie praat nie, gaan jy ook nie vir jou kinders ʼn boodskap op die platform stuur nie.”

Leibowitz glo ouers moet ʼn mentor wees as dit by apps en aanlyn veiligheid kom en daarvoor moet hulle ook hul eie navorsing doen.

“Jy wil nie net jou kind monitor nie, want tegnologie hou groot voordele vir kinders van alle ouderdomme in, mits ouers hulle help om dit te bestuur.”

  • Maroela Media het onlangs met Rianette Leibowitz oor Zoom gesels oor hoe om die sosialemediaplatform TikTok veilig te gebruik. Sy het talle wenke gegee oor hoe om jou private en persoonlike inligting te beskerm, asook hoe jy ʼn verantwoordelike digitale burger kan word. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.
  • Leibowitz se boek Maak jou kind skermslim is deur Carpe Diem Media uitgegee. Besoek haar webwerf by Rianette.com, of op Facebook, Twitter of Instagram. Besoek ook SaveTNet se webwerf as jy meer inligting oor kuberveiligheid en aanlyn afknouery wil weet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.