10 lekker feite oor SA vir die gemakstoelreisiger

Karoo Ridge Eco-lodge (Foto: LekkeSlaap)

Hier by LekkeSlaap verstaan ons dat die beperkings wat tans in Suid-Afrika en die res van die wêreld heers, vakansieplanne bemoeilik, maar daar is geen rede om in sak en as te sit nie! Terwyl ons ons huismure beter leer ken, kan ʼn mens ook meer oor Suid-Afrika te wete kom. Ons land is propvol interessante feite en jy hoef nie eens jou gemakstoel te verlaat om die land te verken nie! So, sit terug, ontspan, en geniet dié tien interessante feite oor Suid-Afrika.

  1. Daar is heelwat wêreldlande met twee amptelike hoofstede, maar het jy geweet Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld met drie? Dit dateer al die pad uit 1910 toe Suid-Afrika sy Unie-baadjie aangetrek het. Vandag is Kaapstad ons wetgewende hoofstad, Pretoria die administratiewe hoofstad en Bloemfontein is ons geregtelike hoofstad.
  2. Daar is ʼn rede waarom Kapenaars so oor Tafelberg te kere gaan. Dit is nie net een van die oudste berge in die wêreld nie, maar het meer flora-spesies as Engeland, Wallis, Ierland en Skotland saam!
  3. ’n Mens kry die wêreld se langste wynroete op tuisbodem. Dié roete begin in Kaapstad en spoeg jou in Port Elizabeth uit!
  4. Die Vredefortkoepel is een van die oudste impakkraters in die wêreld en is reg op ons drumpel in die Vrystaat. Dié krater het ‘n deursnee van ongeveer driehonderd kilometer en is ongeveer twee miljard jaar oud. Lees gerus ons Vredefortkoepel-blog vir meer interessante feite hieroor.
  5. Suid-Afrika is die enigste land in die wêreld wat Mercedes Benz-voertuie met ʼn regterstuur vervaardig.
  6. Het jy al ooit gewonder waar daai Kreepy Krauly in jou swembad vandaan kom? Of wat van die dolosse langs die see, die blikkie Q20 in die motorhuis, of selfs die CAT-skandering by die hospitaal? Glo dit of nie, maar dit is alles trots Suid-Afrikaanse uitvindsels!
  7. Die Tugelawaterval in die Drakensberge is 948 meter hoog, wat dit die hoogste waterval in Afrika maak, en die tweede hoogste ter wêreld. Hierdie waterval is ook net te voet bereikbaar, so stof solank daai tekkies af!
  8. Ons volkslied is een van slegs drie ter wêreld wat neo-modaal is ─ dit beteken dat die lied in een toonsoort begin en in ʼn ander eindig. Ons deel hierdie musikale eer met Italië en die Filippyne. En die kersie op die koek? Ons sing hom in vyf amptelike tale, naamlik Xhosa, Zoeloe, Sotho, Afrikaans en Engels.
  9. Suid-Afrika en Nieu-Seeland is die enigste lande wat die Rugby Wêreldbeker al drie keer gewen het ─ meer as enige ander land.
  10. Die grootste diamant is op 26 Januarie 1905 in Cullinan, net buite Pretoria, ontdek. Vandag pronk dié diamant in die Verenigde Koninkryk se Kroonjuwele.

Interessant, nè? Terwyl ons so sit en tande tel, kan ʼn mens dié lekker lysie gebruik om daai volgende vakansie na een van dié unieke besienswaardighede te beplan.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Jeanne Carstens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.