Kersmarkte: snuffel vir die Kerskous

Argieffoto

Argieffoto

Dié tyd van die jaar skarrel ʼn mens nie net rond met die laaste afsnydatums vir werk nie, maar ook om gepaste Kersgeskenke vir familie en vriende te kry.

Ons almal vier dalk nie Kersfees nie, maar dié tyd van die jaar voel mens tog lus om die mense om jou te bederf en deel te word van die omgee-atmosfeer wat die kenmerk is van die feesseisoen.

Dié omgee-atmosfeer is egter nie altyd binne jou bereik nie, veral nie tussen die massas wat die winkelsentrums bestorm en mekaar vertrap om Kersinkopies te doen nie. Dikwels met dié Kersuitstappies word enige vredeliewende gedagtes wat daar nog was oor die lieflike tyd van die jaar sommer al in die eerste paar minute wat ʼn mens jou voete in die winkelsentrum sit, vernietig.

Vir my is dit met Kersfees ook lekker om ʼn persoonlike geskenk of iets met sentimentele waarde vir die ontvanger van die geskenk te kies.
Dis waarom ek my elke jaar tot die Kersmarkte wend. Nie net sit dit my weer in die gees van die feesseisoen nie, daar is ook altyd die oorspronklikste idees vir Kersgeskenke en tafelversierings waaraan jy jou kan vergaap.

Die wonderlike voorreg wat ons as Suid-Afrikaners het, is om die buitelug te kan waardeer in Kerstyd. Ons het werklik ʼn somerkersfees, anders as die Europeërs. Baie van ons Kersmarkte is dus spesiaal in die buitelug geleë.

ʼn Hele paar Kersmarkte is reeds in November en selfs Oktober gehou, maar daar is nog ʼn paar waar jy voor Kersfees na nuwe inspirasie vir die jaar kan gaan soek.

Pretoria

Market@theSheds
6 Desember 2014
Toegangsfooi: R20 pp

ʼn Nuutjie op die horison van Kersmarkte is vanjaar in die middel van Pretoria te vinde. ʼn Ou pakhuis naby die Staatsteater is omskep in ʼn vertoonlokaal van pragtige kuns, lekker musiek, heerlike kos en mooi produkte.

Kersinkopies gaan nooit weer dieselfde wees nie en almal word hartlik uitgenooi om hulle piekniekmandjies te bring en nie net te kom inkopies doen nie, maar ʼn behoorlike kuier daarvan te maak by dié ongewone uitstalarea.

Kamers se bekende KersmarkKamers @ Open Window skool, Irene
2 tot 7 Desember
Toegangsfooi: R60 tot R75 pp (kinders onder 18 gratis)

Ek glo nie Kamers het veel bekendstelling nodig nie. Na nog ʼn suksesvolle week in die Kaap is die produkte nou ook in Gauteng beskikbaar. Kamers is spesifiek begin om vir die publiek goeie, kreatiewe handgemaakte produkte te bied wat enig in hul soort is. Indien jy op soek is na daardie spesiale geskenk wat jy weet besonders sal wees, is hierdie jou nuwe gunsteling plek om te wees.

Tye:
Dinsdag tot Donderdag: 9:00 tot 16:00
Vrydag: 9:00tot 19:00
Saterdag: 9:00 tot 17:00
Sondag: 9:00 tot 15:00

Johannesburg

Bryanston Organiese en Natuurlike Maanligmark
9 en 23 Desember 2014

As ʼn mens in die betonoerwoud bly, is dit nie altyd maklik om ʼn bietjie rustigheid en ontspanning êrens in jou lewe in te werk nie.
Bryanston Organiese en Natuurlike Maanligmark wat elke Dinsdagaand van 17:00 tot 21:00 oop is, bied vir jou dié geleentheid. Nie net kan jy kom Kersinkopies doen in die maanlig en sakke vol handgemaakte produkte huis toe neem nie – dit gee jou ook ʼn ontspanne tydjie vir kuier saam met vriende en familie met heerlike kos en musiek.

Vir albei aande in Desember sluit die mark af met ʼn Kersliedere-geleentheid waaraan jy kan deelneem of net luister. Geen beter manier om ʼn mens in die Kersfees-gees te plaas nie.

Vir meer inligting:
Tel: 011 7063671
E-pos: [email protected]

Kaapstad

Eikedal Kersfeesmark, Constantia
7 en 14 Desember
Tye: 10:00 tot 17:00

ʼn Vlooimark met egte tuisgemaakte produkte, lekker Suid-Afrikaanse kos en oorgenoeg aktiwiteite om die kinders mee besig te hou. Maak ʼn familie-affêre daarvan. Dit beloof om ’n dag te wees waar jy nie net met ʼn vol maag en seer voete gaan wegstap nie, maar ook met hope Kersinkopies waaroor jy nie gaan spyt wees nie.

Roete_44_se_mark_naby_StellenboschRoete 44 Spesiale Kersmark
18 tot 21 Desember 2014

Dié mark is nie net mark elke naweek oop nie, maar het vanjaar net voor Kersfees ʼn spesiale Kersgevoel. Dit bied die geleentheid vir familie, vriende en kuiersgaste wat nie in die Kaap woon nie om dié gereelde buitelugmark te kom geniet tussen die pragtige wynlande. Wanneer die donkerwolke saampak, is daar reuse markiestente om seker te maak die kuier kan voortgaan.

Hier kan jy weglê aan heerlike eet- en drinkgoed terwyl jy tussen die meestal tuisgemaakte produkte rondsnuffel. As gevolg van sy ideale ligging is dit natuurlik ʼn plesier om die kinders saam te neem – daar is hope pret vir hulle, terwyl hul ouers aan plaaslike wyne kan proe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.