Só vier mense reg oor die wêreld die liefde

(Foto: Pixabay)

Vir Suid-Afrikaners is Valentynsdag dikwels gevul met sjokolade, rose en sjampanje. Omdat dit somertyd is in die maand van liefde, kan paartjies ook in die buitelug heerlik piekniek hou, besoek aan ʼn wynplaas aflê of sommer net die dag saam op die strand deurbring.

Maar elke land vier die liefde op sy eie manier. Hier is ʼn paar maniere hoe dit in ander lande gevier word:

Slowenië

In hierdie Oos-Europese land gaan die lente en liefde hand aan hand. Daarom is 12 Maart, St. Gregory-dag, ʼn belangrike dag op die Sloweense kalender. Hulle glo dat voëls op dié dag trou, en gee daarom aan mekaar hartvormige heuningkoekies om liefde en die nuwe seisoen te vier.

China

China vier tydens hul Qixi-fees hul geliefdes – ʼn tradisie wat al meer as 2 000 jaar oud is. Om dié dag, wat op die sewende dag van die sewende maand plaasvind, te vier, moet vroue vinnig onder maanlig gare deur ʼn naald ryg om behendigheid te demonstreer in die hoop om ʼn goeie man te vind.

Die Chinese neem ook graag aan soen-kompetisies reg oor die land deel om dié dag te vier.

Israel

Op die 15de dag van die Joodse maand Av, vier Israeliete TuB’Av – ʼn romantiese dag wat terug na Bybelse tye dateer.

Die dag was aanvanklik gevier aan die begin van die druiweoes, waar ongetroude vroue met wit rokke tussen die wingerde dans in die hoop om ʼn gepaste maat te vind. Vandag word die dag gesien as ʼn goeie dag vir troues en die hernuwing van trouebeloftes. Die dag word ook algemeen gebruik om ʼn iemand te vra om te trou.

Frankryk

Almal weet sekerlik teen die tyd van die brûe in Frankryk waar paartjies slotte vassluit, en dan van die sleutel ontslae raak om jou ewige liefde aan iemand te bewys– veral by die befaamde Pont des Arts-brug by die Louvre.

Dié ritueel is egter deesdae taboe, omdat die slotte geweldige druk op die infrastruktuur van die brûe plaas. Vandag word mense verbied om slotte aan die brug vas te maak, en word Valentynsdag eerder gevier met goeie wyn, kersligetes en kabaretvertonings.

Finland

Die Finse dorpie Sonkarjavi hou jaarlikse vroudra-kompetisies. Deelnemers moet jaarliks hul vroue oor hul skouers gooi en in ʼn reeks uitdagings by dié geleentheid deelneem. Die wenner wat die baan die vinnigste kan klaarmaak, wen hul vrou se gewig in bier.

Italië

In Italië vier paartjies die Lovers in Camogli-fees wat in die week in aanloop tot Valentynsdag plaasvind en op Valentynsdag self tot ʼn einde kom. Gedurende dié fees bind mense rooi harte met die name van hul geliefdes op, aan visnette reg oor die stad vas.

Daar is ook poësie-kompetisies, Valentynsmarkte en bordverf-kompetisies om aan deel te neem.

Denemarke

Denemarke het hul eie unieke manier om Valentynsdag te vier – hulle stuur gedigte genaamd “gaekkebrev” aan hul geliefdes. Dié gedigte is ʼn prettige brief wat die gekskeer met dié argaïese praktyk.

Die skrywer van die gedig vervang sy naam met kolletjies onderaan die brief, en as die ontvanger reg kan raai wie die skrywer is, kry hulle later ʼn paaseiers tydens Paasfees van die skrywer af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.