Handwerk: Maak jou eie kreatiewe klippe

(Foto: Verskaf.)

Deur Cay Momberg

Antropoloë en argeoloë definieer rotskuns as beelde wat op onroerende rotsoppervlakke gekerf, geteken of geverf is. Beelde wat in die rots gekerf of gegraveer is, word petrogliewe genoem. Beelde wat met verf of ander pigment gemaak is, word piktogramme genoem.

In hierdie artikel gaan ek jou stap-vir-stap leer hoe om jou eie kreatiewe klippe te verf en in te kleur. Daarna kan jy na hartelus klippe verf en weggee vir ʼn geskenk of word deel van Little Rocks SA Facebook-groep waar ons geverfde klippe met bemoedigende boodskappe oral plaas vir enige persoon om te vind.

Jy benodig:

  • Akrielverf – verskeie kleure
  • Klippe, enige grootte en soort
  • Potlood en papier
  • Viltpenne – enige soort
  • Swart permanente merker
  • Kleurlose vernis
  • Verfkwaste
  • Water

Wenk: Om tyd te bespaar begin deur al jou klippe met ʼn onderlaag kleur van jou keuse te verf.

(Foto: Verskaf.)

Só maak mens:

  1. Die beste klippe om te verf en in te kleur is natuurlik gladde plat klippe. Kyk om jou rond, gaan op ʼn klip soektog wat lekker pret kan wees en tel klippe op of koop klippe by jou plaaslike kwekery. Jy kan ook jou eie klippe van klei maak soos ek soms doen (volg my Facebook-blad vir meer besonderhede oor dié projek).
  2. Was die klippe goed met warm water en seep. Laat goed droog word.
  3. Berei jou werkoppervlak voor deur koerantpapier of ander papier daarop te plaas.
  4. Sit al jou benodighede soos bo genoem byderhand en begin.
  5. Indien jy verkies, kan jy eers jou ontwerp op papier skets met ʼn potlood en dan oorteken op jou voorbereide klip.

(Foto: Verskaf.)

Verf ʼn kliphuisie:

  1. Gebruik ’n verfkwas en verf eerste die hele klip met die onderlaag en kleur van jou keuse. In dié geval gebruik ek swart. Laat staan om goed droog te word.
  2. Neem ʼn potlood en teken liggies die buitelyne van jou ontwerp. Begin deur die heuwels te teken.
  3. Voltooi jou ontwerp deur te volg met die bome en die huisies op die heuwels asook die maan en sterre.
  4. Neem nou ʼn rooi viltpen en kleur al die dakke van die huisies in.
  5. Gebruik skakerings van groen, geel, oranje en goud om die heuwels mee in te kleur. Maak die lug blou. Die maan en sterre silwer. Die huisies self is wit ingekleur. Bring blommetjies op die heuwels aan.
  6. Neem ʼn swart permanente merker en omlyn al die vorms van jou ontwerp. Dit gee die ontwerp ʼn mooi afronding.
  7. Neem ʼn wit permanente merker en stippel elke heuwel vol binne die swart omlyning.
  8. Indien jy verkies, kan jy ʼn mooi positiewe gedagte op die agterkant van jou klip skryf. Neem kleurlose vernis en verf bo-oor die hele klip – voor en agter. Laat staan vir 24 uur om droog te word.

(Foto: Verskaf.)

Verf jou eie ‘gelukkig bytjie’:

(Foto: Verskaf.)

  1. Gebruik ’n groot verfkwas en verf eerste die hele klip met die onderlaag kleur van jou keuse. In die geval gebruik ek weer swart. Laat staan om goed droog te word.
  2. Neem jou geel viltpen en vorm twee breë geel strepe wat afgewissel word met swart tussenin. Dit vorm die lyfie van die by.
  3. Neem nou jou wit viltpen, maak ronde sirkels vir die oë. Trek met ʼn swart viltpen die voelers bo-kant die oë in die geel gedeelte.
  4. Gebruik weer ʼn swart viltpen om die kykers in die oë mee te maak. Jou klip bytjie is nou voltooi
  5. Draai jou bytjie om en skryf iets soos: “BEE YOURSELF” of “BEE HAPPY” of “BEE SAFE” op die agterkant. Neem nou ʼn kleurlose vernis en wend dit oor die hele klip aan om jou kunswerk te beskerm.

(Foto: Verskaf.)

Verf ʼn skilpadbesie:

  1. Nadat die rooi onderlaag geverf is, trek met ʼn swart viltpen die buitelyne van die skilpadbesie en trek dan horisontale strepe op die agterkant.
  2. Trek twee sirkels vir die oë in die kopgedeelte voor en nog sirkels op die lyfgedeelte. Kleur die sirkels op die skilpadbesie met swart in. Kleur die oë wit in. Kleur die gesig gedeelte swart in.
  3. Gebruik die swart viltpen en kleur die sirkels op die lyf en die kopgedeelte swart in.
  4. Gebruik jou wit viltpen en kleur die oë wit in. Omlyn al die swart kolle op die lyfie ook met wit. Maak nou wit stippels op al die buitelyne wat jy in punt een gemaak het.
  5. Neem jou swart viltpen en trek swart kykers vir die oë en gebruik die wit om ʼn glimlag te trek. Draai jou skilpadbesie om en skryf iets op die agterkant soos: “Om ʼn tuin plant, is om te glo in die toekoms”. Vernis jou klip.

Besoek Cay Momberg se Facebook-blad vir nog projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.