Kintsugi: Genees met goud

Kintsugi is die Japanse kuns om gebreekte erdewerk te herstel met gom wat met verpoeierde goud, silwer of platinum gemeng is. (Foto: Matt Perkins/Unsplash)

Kintsugi is die Japanse kuns om gebreekte erdewerk te herstel met gom wat met verpoeierde goud, silwer of platinum gemeng is.

Dié tegniek is geskoei op die idee om foute en onvolmaaktheid te omarm. Elke breekplek is uniek en in plaas daarvan om ʼn item te herstel dat dit nuut lyk, beklemtoon dié 400 jaar oue kunstegniek eerder die krake as deel van die ontwerp.

Deur dié tegniek te gebruik as ʼn metafoor vir genesing, kan ons onsself ʼn belangrike les leer: In die proses om dinge wat gebreek het te herstel, skep ons eintlik iets nog meer uniek, mooi en verruklik.

Candice Kumai, skrywer van Kintsugi Wellness: The Japanese Art of Nourishing Mind, Body and Spirit, het in drie jaar altesaam tien keer besoek aan Japan afgelê om meer oor dié kunsvorm te leer.

Daar het sy geleer hoe relevant die boodskap van kintsugi in ons alledaagse lewens is.

“Kintsugi kan ʼn manier wees om moeilike tye oor te bedink om jouself te herinner dat jy nie ʼn slagoffer van jou omstandighede is nie en om jou te help om sterker aan die ander kant uit te kom – of jy deur die verlies van ʼn geliefde of ʼn werk gaan, of jy is besig om te herstel van ʼn besering, egskeiding of ander persoonlike tragedie,” sê Kumai.

Dié tegniek is geskoei op die idee om foute en onvolmaaktheid te omarm. (Foto: Riho Kitagawa/Unsplash)

Die naam van die tegniek is afgelei van die woorde “kin” (goud) en “tsugi” (hegwerk), wat losweg vertaal word as “goue herstel”. Die littekens en krake van die gebreekte keramiek word die fokus en verander die objek in iets uniek en verruklik.

Terwyl die proses met Japanse vakmanne geassosieer word, word dié tegniek ook gebruik in China, Viëtnam en Korea. As ʼn filosofie is kintsugi soortgelyk aan die Japanse filosofie van wabi-sabi, wat foute en imperfeksies omarm.

Tradisionele kintsugi behels die gebruik van urushi-gom en rysmeel om die keramiekstukke te heg. Vandag kan kintsugi beoefen word met ʼn deurskynende epoksiehars, goue mikapoeier en ʼn dun, weggooibare kwas.

As jy nie ʼn gebreekte item het nie kan jy steeds kintsugi beoefen deur ʼn objek opsetlik te breek. Om jou keramiek te breek, plaas die item in ʼn papiersak en kap liggies op die objek met ʼn hamer totdat jy hoor dit het gebreek. Haal dan die stukke versigtig uit die sak uit.

ʼn Kintsugi-projek neem tussen 20 en 30 minute om te voltooi. Hier volg die stappe om ʼn kintsugi-kunswerk te maak:

Stap 1: Kies jou kintsugi-objek

Kies die keramiek wat jy gaan gebruik vir jou projek. Kies een wat gebruik word vir versieringsdoeleindes en nie een waaruit jy eet of drink nie, aangesien epoksiehars giftig kan wees indien dit ingeneem word.

Kies die keramiek wat jy gaan gebruik vir jou projek. (Foto: Maroela Media)

Stap 2: Berei die gom voor

Meng gelyke hoeveelhede mikapoeier en epoksiehars met ʼn stokkie op ʼn los vel papier of papierbord. Doen dit eers reg voordat jy gereed is om die stukke aan mekaar te plak, want die mengsel word baie vinnig droog.

Stap 3: Gom jou keramiek aanmekaar

Verf die rande van jou gebreekte keramiek met die gom en druk die stukke bymekaar. Die epoksiehars mag dalk effe uit die krake sypel.

Wenk: Gom kleiner stukkies aan mekaar om dit makliker te maak om die keramiekvoorwerp aanmekaar te hou. Om die proses gladder te laat verloop, wag vir die kleiner stukke om droog te word voordat jy aanbeweeg.

Stap 4: Skep goue lyne

Indien jy mikapoeier gebruik, sprinkel dit oor die krake wanneer die gom amper droog is om die lyne helderder te maak. Om die keramiek skoon te hou, plaas maskeerband rondom elke kraak voordat dit met mikapoeier besprinkel word.

‘n Kintsugi-kunswerk. (Foto: Maroela Media)

Sodra jy tevrede is met die stuk, wag twee dae vir die gom om heeltemal droog te word voordat jy dit as dekoritem gebruik.

Bykomende bronne: NBC News.com, Invaluable.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.