Planne vir ʼn Valentynsdag op ʼn begroting

Voordat ons beursies nog kon herstel van die spanning van die afgelope Desember-vakansie is Valentynsdag al weer op ons. Maar dié dag hoef jou nie ʼn plaas se geld te kos nie.

Volgens statistiek uit die VSA word geraam dat uitgawes op Vrydag 14 Februarie met 32% sal toeneem. Verbasend genoeg is dit nie geskenke wat mense vir hul maats koop oor die Valentynsdag-tyd nie, maar eerder vir hul diere wat die meeste geld maak. Daar word boonop verwag dat troeteldiere sowat 27% van die totale besteding oor die tydperk sal kry.

Afgesien van troeteldiere, bestee Suid-Afrikaners ook dikwels geld op restaurante, skoonheidsprodukte, blomme en ander geskenke.

“Dit is maklik om meegevoer te raak in die kommersialisering van Valentynsdag, veral as ons oorval word met plasings op sosiale media, advertensies en die druk om mekaar met duur geskenke te oortref,” sê Susan Steward van Budget Insurance.

Steward sê daar is maniere om Valentynsdag te vier sonder om jou beursie heeltemal leeg te tap.

Herskep jou Kersfees-krans

Jy kan jou Kersfees-krans weer gebruik deur herinneringe daarop vas te maak wat vir julle as ʼn paartjie spesiaal is. Foto’s, konsertkaartjies, romantiese sêgoed en gedroogde rose kan alles jou voordeur opkikker op dié spesiale dag.

Doen die huiswerk wat hy of sy haat

Een of ander tyd in julle verhouding het jou maat gesê wat is daardie een taak in die huis waarvan hulle glad nie hou nie: Of dit nou is om die skottelgoed te was, hul kas reg te pak of die swembad skoon te maak is, nou is jou kans om dit vir hulle te doen.

Woorde van liefde

Skryf woorde neer wat jou aan jou maat laat dink – of dit nou fisiek of emosioneel is – en plak dit oral in die huis op. Vou ʼn paar toe en sit dit in die kar of in sy of haar kos- of gimsak.

Liefde kook

As jy en jou maat saam kosmaak, bring jul gehalte-tyd saam deur terwyl julle iets doen wat in elk geval moet gebeur. Toets saam ʼn nuwe resep op Valentynsdag uit en maak sommer ʼn nagereg ook.

Vermy die wit olifantjies

Wat sal jou Valentyn doen met ʼn groot teddiebeer, ʼn koffiebeker met harte op of ʼn kussing in die vorm van ʼn rooi hart? Hierdie dinge raak wit olifante wat later weggegooi word, so bespaar eerder die geld en koop ʼn goeie bottel wyn of ʼn heerlike nagereg vir julle aand by die huis.

Fliek by die huis

Jy hoef nie mooi aan te trek nie, jy hoef nie vir parkering te betaal nie en jy hoef nie styf teen iemand anders in die fliekteater te sit nie. Die enigste mens wat styf teen jou hoef te wees, is jou Valentyn, in die gemak van jul eie huis. Maak self springmielies, trek jou nagklere aan en kyk ʼn romantiese fliek saam op die bank.

Diereliefde

Gee vir jou troeteldier ʼn lekkerny wat hulle nie normaalweg kry nie, soos om dierevriendelike kos by hul pille in te sluit. Jy kan ook hul naamplaatjie met ʼn hartvormige plaatjie vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Ons gaan take aways kry en die T20 krieket op TV kyk, Lekker!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.