ToekomsVenster: Oor skuldbelydenis

Foto: Chungkuk Bae/Unsplash

Ek vestig graag jou aandag op Esra 9 terwyl ons, soos reeds gesê, oorweeg of daar ’n verband kan wees tussen die ongemak wat ons soms in ons persoonlike lewens, maar in besonder tans in Suid Afrika beleef, en ons eie toewyding aan die Here. In hierdie proses moet die Heilige Gees elkeen van ons lei om dan vanuit oortuiging te handel met wat aan jou geopenbaar word.

Esra tree op in die tyd dat die volk van die Here in nood verkeer vanweë hul sondige optrede. Luister saam met my na die intensiteit van die teks :

Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur, my hare en my baard uitgetrek en verslae gaan sit. Almal wat by die gedagte aan die opdragte van die God van Israel vreesbevange was oor dié troueloosheid van die mense uit die ballingskap, het by my kom staan. Ek het maar net verslae daar gesit, tot die tyd van die aandoffer toe. Maar teen die tyd van die aandoffer het ek daar opgestaan waar ek my met my geskeurde klere verootmoedig het, op my knieë geval en my hande in gebed uitgestrek na die Here my God. Ek het gebid: “My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. – Esra 9:3-6

Die oomblik is inderdaad gelade, intens, somber en nederig. Dit verteenwoordig nie ’n terloopse skuldbelydenis nie, maar ’n innerlike oortuiging van die vernietigende en destruktiewe impak van die verkeerde in die lewe van die volk.

Ek dink maar aan die wyse waarop ons somtyds skuldbelydenis doen.

Is dit nie meer dikwels ’n terloopse opmerking, (vergewe my sondes), desnoods aangevul met “soos ons ons skuldenaars vergewe” omdat die “rympie” uit die “ons Vader gebed”  by ons vasgesteek het nie?

Egte belydenis is die begin van die nuwe dag,  die pad van herstel. Dit is hier waar die magtige God se kinders tegemoet tree en uitkoms gee.

Esra sê hy is te skaam om voor die Here te verskyn. Mag ons erns maak met sondebelydenis in ons lewens.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

Vader vergewe ons en help ons asseblief om weer ons koppe te kan lig.

Von ·

Here Jesus U het die prys volledig betaal vir my sonde hoe kan ek ooit genoeg dankie se…Amen

Piet ·

Net jammer jy vertel nie hoekom het Esra so opgetree het nie. Soos jy dit hier deurgee lyk dit of hy skuldig is, terwyl hy namens die volk gebid het oor hulle oortredinge deur met vreemde vrouens van ander volke te trou, dit ten spyte van God se opdrag dat hulle dit nie mag doen nie.

Hou op om polities korrek te wees. Preek die waarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.