Natuurfotograaf van die jaar aangewys

Sergey Gorshkov se wenfoto vir Natuurfotograaf van die jaar

Die fotograaf Sergey Gorshkov is as die natuurfotograaf van die jaar aangewys met sy foto van ʼn Siberiese tier.

Die foto, genaamd “Die omhelsing”, wys ʼn intieme oomblik waar ʼn bedreigde Siberiese tier ʼn antieke Mantsjoeryse denneboom omhels om dit met haar reuk te merk. Dit het die Russiese fotograaf meer as 11 maande gekos om die foto met bewegingsensorkameras te neem.

Die hertogin van Cambridge, Kate, het aangekondig dié foto is die wenner in die Natuurfotograaf van die jaar-kompetisie van die Natural History Museum. Meer as 49 000 foto’s is vir die kompetisie ingeskryf.

Roz Kidman Cox, voorsitter van die beoordelaarspaneel, het gesê die toneel is buitengewoon. “Dit is ʼn unieke kykie na ʼn intieme oomblik diep in ʼn magiese woud.”

Sergey Gorshkov is in ʼn verafgeleë Siberiese dorpie gebore en het in die Russiese wildernis grootgeword. ʼn Reis na Afrika en ʼn ontmoeting met ʼn luiperd het sy lewe verander en hy het daarna daarop gefokus om die mooiste natuurfoto’s te neem om die wêreld met die natuur te verbind wat ons stadigaan besig is om te verloor. Hy fokus op streke in Rusland waar bere, jakkalse en ganse in die koue oorleef.

Sy foto’s word gereeld in tydskrifte wêreldwyd gebruik. Hy het al toekennings in Rusland, die Verenigde Koninkryk, Italië en Frankryk ontvang.

Liina Heikkinen van Finland is as die Jong Natuurfotograaf van die jaar aangewys vir haar dramatiese foto van ʼn jong rooi jakkals wat die oorblyfsels van sy ete teen sy vyf broers beskerm.

 

Liina Heikkinen se wenfoto vir Jong Natuurfotograaf van die jaar

 

Sergey Gorshkov se wenfoto vir Natuurfotograaf van die jaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.