Verhuis jy binnekort? Help jou troeteldiere om hul voete te vind

(Foto: Zoetis/Verskaf)

Verhuising kan een van die spanningsvolste gebeurtenisse in ʼn mens se lewe wees, en dit is net so ʼn moeilike ervaring vir ons troeteldiere. Die proses kom saam met talle onbekende gesigte, geluide en reuke wat tot angs en spanning vir troeteldiere kan lei. Boonop gaan elke vierpotige vriend in die gesin dit anders hanteer, afhangende van hul persoonlikheid, spesie, ras en vorige ervarings.

Een van my eie grootste vrese destyds met die trek na ons nuwe huis in dieselfde stad, was dat ons kat, Frankenstein, sou besluit om die hasepad te kies. Dit was my eerste kat, en ek het wyd opgelees vir raad oor hoe om dié situasie te hanteer. So het ons besluit om hom maar eers in ʼn kamer te hou met kos, water, sy sandbak en beddegoed sodat hy heel laaste kan saamtrek, en daarna het ons hom weer ʼn week lank by die nuwe huis in ʼn kamer gehou voor ons hom die kans gegee het om sy nuwe omgewing te gaan verken. Maar ja, ek het selfs die lawwe raad om botter aan sy pootjies te smeer in ʼn stadium ernstig oorweeg – alles in ʼn poging om te verseker ons jong rondloperkat sal by ons bly.

“So ʼn verhuising is eintlik iets opwindends en ʼn positiewe verandering, maar soos troeteldiereienaars weet, kan die verskuiwing na ’n nuwe huis – veral as dit in ’n nuwe stad is –  ʼn troeteldier se gevoel van veiligheid en grondgebied ontwrig. Vierpotiges kan angstig of gespanne word wanneer hul bekende omgewing skielik verander,” sê dr. Tarryn Dent, besigheidshoof van troeteldiere by Zoetis Suid-Afrika, ʼn internasionale dieregesondheidsmaatskappy.

Die verhuising wat lang motorritte en vlugte insluit, kan veral stresvol wees vir troeteldiere wat nie aan reis gewoond is nie, met die beperkinge, geluide en beweging wat ongemak veroorsaak.

“Troeteldiere floreer op roetine, en verhuising ontwrig hul daaglikse skedule van voeding, stappies en speeltyd,” sê Dent. “Om by ʼn nuwe huis aan te kom, beëindig ook nie dadelik hul angs nie. ʼn Nuwe omgewing, reuke en geluide kan troeteldiere oorweldig, hul sensories oorlaai en dit moeilik maak vir hulle om rustig en veilig te voel.”

Span sommer ʼn paar van hierdie voorstelle in om die spanning te verminder en jou troeteldiere veilig te laat voel in julle nuwe huis:

  • Handhaaf soveel as moontlik van jou troeteldier se roetine tydens die verhuising.
  • Maak jou kat of hond geleidelik gewoond as ʼn draagbare hokkie, veral as hulle nie gewoond as aan dié manier van vervoer nie.
  • Skep so gou moontlik ʼn stil, gemaklike ruimte met bekende items soos speelgoed, beddegoed of hul gunstelingkombers in jou nuwe huis.
  • Gee hulle baie aandag en gerusstelling tydens en ná die verhuising.

Vra jou veearts vir raad

Benewens hierdie strategieë, kan jy jou planne om te verhuis met jou veearts bespreek.

“Veeartse ken hul pasiënte se temperament en wat angs kan veroorsaak. Begin deur die besonderhede van jou skuif te verduidelik, insluitend die tydlyn, afstand en die manier waarop jy beplan om jou troeteldiere te vervoer. Hierdie inligting help jou veearts om hul advies aan te pas by jou troeteldier se behoeftes, met inagneming van faktore soos die lengte van die reis en die tipe omgewing waarna jy verhuis,” sê Dent.

“Jou veearts kan waardevolle insigte bied hom om reisangs en bewegingsiekte te bestuur, wat algemeen by troeteldiere voorkom tydens ʼn skuif. Hulle kan middels voorstel wat wissel van voorskrifmedikasie om angs te verlig en bewegingsiekte te voorkom, tot aanbevelings vir oor-die-toonbank- kalmerende hulpmiddels soos feromone of aanvullings.”

Dent sê dit is ook belangrik om jou troeteldier se gesondheid- en inentingsrekords byderhand te hou.

“Maak seker dat jou troeteldier op hoogte is van inentings, veral as jy na ʼn nuwe gebied met ander gesondheidsrisiko’s verhuis of as ʼn vliegtuigvlug deel van die verhuising is. Jou veearts kan ook ʼn gesondheidsertifikaat verskaf indien nodig vir die reis, veral vir vlugte of verhuising na ʼn ander land.

“Jou veearts ken jou troeteldier se mediese geskiedenis, wat veral belangrik is as jou troeteldier enige chroniese medikasie gebruik, aangesien daar spesifieke regulasies vir die medikasie is. Die laaste ding wat jy wil hê in die middel van ʼn groot lewensverandering, is om jou troeteldier se mediese behoeftes te ontwrig.”

Volgens Dent kan jou veearts ook help om ʼn veearts in die nuwe omgewing aan te beveel of selfs net goeie raad verskaf oor hoe om ʼn nuwe veearts te kies. Troeteldiere baat by ʼn gladde oorgang in hul gesondheidsorg en vir die hantering van enige gesondheidskwessies wat ná verhuising mag opduik.

“Onthou, jou veearts is ʼn waardevolle hulpbron in die beplanning van ʼn spanningsvrye skuif vir jou troeteldier. Hulle kan jou voorsien van spesifieke advies en ondersteuning wat spesifiek vir jou troeteldier se gesondheid, temperament en behoeftes pasgemaak word om te verseker dat hulle so gemaklik as moontlik bly tydens die hele proses van verhuising en dat jy op die groot skuif kan fokus sonder om bekommerd oor jou vierpotige vriende te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.