Só begin jy jou droomtuin

Foto ter illustrasie. (Foto: Sandie Clarke/Unsplash)

Reusebome, borrelende fonteine, kleurryke rose en pragtige jasmyn wat teen jou muur oprank en die soete geure van lente meebring – jou droomtuin wag om die draai vir jou, jy moet net weet waar om te begin.

Maroela Media het by Karen Viljoen, tuinmaakkenner en -ontwerper ingeloer vir ’n paar nuttige brokkies raad vir enigiemand wat graag aan hul droomtuin wil begin bou.

Bou ’n lugkasteel

Die idee van ’n kleurryke, asemrowende tuin laat dalk jou hart vinniger klop. Die vraag is egter: Waar begin ’n mens?

“Beplan. Jy moet weet wat jy min of meer waar in die tuin wil doen nog voordat jy enigiets gaan koop,” vertel Karen.

“Loop deur jou tuin en besluit wat jy waar wil doen. Dit gaan jou help wanneer jy by die kwekery aanklop vir die plante wat jy wil koop.”

Baken vir jou dele van jou tuin vir bome, beddings en ander tuinbykomstighede soos potte af. Sonder ’n raamwerk, vertel Karen, gaan jy sukkel om die tuin tot sy volle potensiaal te ontwikkel.

Begin klein

Hokaai met daardie drome oor die ingewikkelde Engelse roostuine en reusagtige, woudagtige groen tuine. Elke groot boom was eens ’n saadjie.

“Begin met een plant of boom; moet dit nie te ingewikkeld maak nie.”

Om dié eerste plant of boom, word die res van die tuin beplan. Elke nou en dan word daar ’n ekstra blom geplant, ’n ekstra pot die tuin ingedra. Dit gaan die reuse-uitdaging wat jou droomtuin blyk te wees, ’n langtermyn‑, volhoubare proses maak.

Laat die begroting klop

“Een ding is waar, en dit is dat tuinmaak duur is.”

Dit is nie net die pragtige blomme en bome waarvoor jy gaan moet begroot nie. Jou tuin het toerusting soos ’n tuinslang, graaf en kruiwa nodig. Indien jy nie van tuindienste gebruik maak nie, gaan elektroniese toerusting ook nodig wees.

Een van die maniere waarop Karen die begroting laat klop, is deur saadjies in plaas van plante te koop. Dit verg meer geduld, erken sy, maar wanneer daar nie altyd geld is nie, is sade ’n goedkoop manier om aan jou tuin te begin bou.

Kies jou plante reg

“Jy moet vooraf navorsing doen en besluit watter plante jy graag in jou tuin wil hê,” raai Karen aan.

“Hier moet jy in ag neem hoeveel sonlig ’n plant nodig het, hoeveel moeite dit gaan verg om die plant aan die lewe te hou en hoeveel tyd jy het om aan jou tuin te bestee.”

Iemand wat byvoorbeeld lang ure werk, moet verkieslik plante in hul tuin hê wat sonder te veel moeite steeds mooi aan die groei sal bly. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat plante wat sonlig nodig het, nie in die skadu van jou reuse-, nuwe boom geplant word nie.

Plant ’n boom

Deur ’n boom te plant, is ’n maklike eerste stap om jou droomtuin te begin ontwikkel. Daar is egter ’n paar dinge waaraan jy gaan moet dink voordat jy net enige boom die tuin indra en in die hoek plant.

“Jy gaan eerstens moet kyk na die wortelstelsel van die boom. Jy wil nie ’n boom in jou tuin plant wat later die muur gaan lig nie,” vertel Karen.

“Jy sal nie maklik verkeerd gaan met ’n inheemse boom nie. Hulle aard eenvoudig net beter in ons klimaat.”

’n Vrugteboom klink dalk aantreklik, maar is vir talle huishoudings nie ’n praktiese boom om in die tuin te hê nie.

“Teen die tyd wat die vrugte reg is om te eet, het die insekte dikwels daar ingeklim. Jy kan gif spuit, maar dit werk nie altyd nie. Koop maar eerder jou vrugte by die kruidenierswinkel en plant ’n meer praktiese boom in jou tuin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.