5 velsorgwenke vir tieners

Foto ter illustrasie. (Foto: Kevin Laminto/Unsplash)

Asof tienerhormone nie reeds genoeg is nie, gaan dit dikwels ook gepaard met aknee, swartkoppies en ʼn vel wat stadig maar seker van kleur en tekstuur verander.

’n Veranderende vel noodsaak dikwels ’n nuwe velsorgroetine. Maroela Media het by Inge Ferreira, kampusbestuurder van die Isa Carstens‑akademie ingeloer om ’n paar nuttige wenke vir tieners se velroetine te kry.

Was daardie gesig, maar ook nie te veel

Wanneer dit tyd raak om ’n gepaste velsorgroetine vir jou tiener te oorweeg, hoef ʼn mens dit nie te ingewikkeld te maak nie, meen Inge.

“Begin by ’n eenvoudige stap, om een keer ’n dag, in die aand, jou gesig te was,” het Inge aan Maroela Media vertel.

Dit is veral belangrik wanneer kinderskoene vir tienertekkies verruil word. Inge vertel dat ʼn mens liefs nie jou kind moet bangpraat of bombardeer met ’n rits ingewikkelde velsorgstappe nie.

Vir die regte gesigseep, stel Inge voor om jou plaaslike somatoloog of velkenner te gaan sien.

Velsorg is deurlopend

Alhoewel ’n gesigsbehandeling dikwels ’n heerlike bederf kan wees, benadruk Inge dat dit nie die sleutel tot ’n gesonde vel is nie.

“Jy moet besef dat jy elke dag na jou vel moet omsien. Jy kan nie nét vir professionele behandelinge gaan nie – wat van die res van die tyd?”

’n Goeie benadering tot velsorg, veral wanneer ʼn mens goeie gewoontes by jou tiener wil kweek, is om daagliks na jou vel om te sien terwyl jy nou en dan vir ’n professionele behandeling gaan.

Luister vir ma en smeer jou sonskerm aan

Jou kroos rol dalk hul oë wanneer jy die sonskerm langs hulle neersit, maar dit is uiters belangrik dat elke persoon, selfs kinders en tieners, daagliks sonskerm aansmeer.

Sonskerm kan dikwels ook handig te pas kom vir tieners met aknee, aangesien dit die vel teen irritasie weens sonbrand beskerm.

“Sonskerm moet ongetwyfeld deel van jou velsorgroetine wees.”

Vermy liefs dié produk

’n Heerlike oornagkuier, rolprente en allerhande gesigmaskers maak dikwels deel uit van veral tienermeisies se sosiale lewe.

Inge meen egter dat daar een produk is wat liefs op die winkelrakke gelos moet word wanneer die tieners oor en weer met gesigprodukte begin kuier.

’n Gesigskrop (scrub) rig dikwels meer skade as enigiets anders aan.

“’n Granulêre skrop is nie goed vir ’n vel wat aknee het nie. Jou vel moet baie sagkens hanteer word.”

Alhoewel dit dikwels bemark word as ’n produk wat van droë stukkies vel ontslae raak, kan dit jou vel beskadig en verder irriteer, veral wanneer jy reeds ’n sensitiewe vel het.

Toe nie net vir meisies nie…

Moenie van boetie vergeet wanneer julle in die winkel na ’n gesigwas soek nie.

Daar word dikwels meer klem daarop gelê dat meisies van jongs af ’n goeie velsorgroetine moet hê, maar seuns, wat ook met velprobleme kan sukkel, word dikwels agterweë gelaat.

“Maak dit deel van die aandroetine. Wanneer ons tande borsel, was ons ons gesigte, dit het eintlik niks met geslag te doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.