Pinterest sê dié dekor, modes en neigings gaan in 2024 oorheers

(Foto’s: Pinterest)

Van sogenaamde “Barbiecore” tot die opkoms van ingewikkelde velsorgroetines, 2023 het vir ons baie onvergeetlike neigings gebring en volgens Pinterest gaan hierdie jaar ewe opwindend wees.

Dié aanlyn aansteekbord het sy jaarlikse Pinterest Predicts-verslag bekendgestel, wat ʼn voorsmakie van die jaar se neigings vir alles van mode en kos tot binnehuisversiering gee.

Miljarde Pinterest-soektogte word onderneem om patrone en ooreenstemmings uit te lig, wat uiteindelik tot 20 of minder neigings afgerond word om die verslag op te stel.

Volgens Pinterest het 80% van sy voorspelde neigings oor die afgelope vier jaar waar geword.

Hier volg ʼn handvol van die topneigings uit die 2024-verslag:

Kitsch kombuise

Groet jou minimalistiese kombuis, Pinterest voorspel dat helder kleure, kitsch dekor en breekware asook oudmodiese kombuistoestelle in 2024 gaan toeneem.

Dié tendens word volgens Pinterest deur Generasie Z se liefde vir tweedehandse winskopies geïnspireer en is ook ʼn verdere uitvloeisel van 2023 se liefde vir vroeë 2000’s-modes.

Soek vir terme soos “colourful maximilism” op Pinterest vir inspirasie.

Die rakette gaan swaai

Waar padeltennis in 2023 die aktiwiteit van die jaar was, gaan die rakette vanjaar eerder op die pluimbalbaan geswaai word.

Pinterest voorspel soektogte vir alles van “pluimbaluitrustings” tot “”pluimbalestetika” en meen dié sport gaan vanjaar ʼn gunsteling wees.

Blou en silwer waar jy kyk

Pinterest voorspel dat blou glansgrimering en pastelblou oogskadu, soos gesien in die 1960’s, ewe veel geliefd by Generasie Z én millenniërs gaan wees.

Hoewel dit in sport met tweede plek geassosieer word, is silwer en metale volgens Pinterest vanjaar in eerste plek.

Veral bykomstighede soos oorbelle gaan in dié skakering vanjaar oral te sien wees.

1970’s maak terugkeer vir troues

Van boheemse kombuistees tot disko-geïnspireerde trouedekor, Pinterest-kenners voorspel dat die 1970’s groot op troues vanjaar gaan wees. Hul meen millenniërs en die sogenaamde Baby Boomers lê agter dié neiging.

Oupa, kan ek jou trui leen?

Wie sou ooit kon dink dat oupas hedendaagse mode sou inspireer?

Pinterest voorspel dat die klere op winkelrakke vir mans én vroue ons grootouers se kenmerkende lang, gebreide truie, chino broeke, en brille met dik rame gaan weerspieël.

Gaan krap solank in oupa se kas!

Groot, groter, grootste

Skoonheid en snuisterye sal in 2024 groter en meer gewaagd word; van groter Priscilla Presley-tipe haarstyle tot oorgroot bykomstighede.

Danksy TikTok geniet dié style aandag as deel van die sogenaamde “mob wife”-tendens.

Dít verwys na die gebruik van bykomstighede soos dierepatrone, groot haarstyle, bonkige diamantjuwele en luukse pelsjasse – alles stereotipiese bykomstighede van vrouekarakters in gangster-flieks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.