Modeneigings vir kapsels om dop te hou in 2024

Klouknippe is een van die jaar se groot haartendense. (Foto: Instagram/Shein)

Die nuwe jaar het skaars afgeskop en loopplanke, rooi tapyte en sosiale media gons reeds oor die groot kapselneigings van 2024.

Klou vas aan jou haarknip

As voorkomsneigings van die afgelope paar jaar ons enigiets geleer het, is dit dat modes altyd die een of ander tyd weer terugkom.

Tans geniet die 1990’s en vroeë 2000’s se mode veral weer die kollig, nie net in klere en grimering nie, maar veral in haarstyle en bykomstighede, soos byvoorbeeld die gewilde klouknippe.

Deesdae is hulle in elke kleur en vorm beskikbaar en ʼn gunsteling by tieners én volwassenes.

Sosialemediabeïnvloeders deel ook graag allerhande style en wenke om jou klouknip te benut – of jou hare nou lank of kort is.

Pinterest bied ook eindelose kreatiewe maniere om klouknippe met krulhare te kombineer.

Strikkies wil sy dra

Strikkies het sedert einde 2023 bewys hulle is hier om te bly; of dit nou in jou hare, klere of as huisversiering is.

Modekenners meen dié neiging is deel van die sogenaamde nuwe “coquette aesthetic” – wat verwys na romantiese, vroulike tendense wat as ʼn meer stylvolle weergawe van 2023 se “Barbiecore” gesien word.

Bekendes soos Sarah Jessica Parker, Sydney Sweeny, Riley Keough en Jennifer Lopez het onlangs met dié tydlose haarbykomstigheid op rooi tapyte gepronk.

By die Paryse modeweek se haute couture-versameling was strikke ook op loopplanke van Chanel, Fendi, Elli Saab en Valentino te sien.

Gebruik ʼn strik op jou stylvolle ponie af te rond, jou hare met ʼn mooi sypaadjie vas te steek of kombineer dit met ʼn klouknip vir ʼn dubbele dosis van 2024-mode.

1990’s uitgeblaasde hare waai weer terug

Uitgeblaasde hare met sagte krulle is terug en groter as voorheen.

Danksy nuwe blaasborsels en veral selfdoen hittelose krullers en rollers is daar verskeie maniere om dié treffende 1990’s-neiging self toe te pas.

Sabrina Carpenter is bekend vir haar uitgeblaasde lokke. (Foto: Instagram/Sabrina Carpenter)

Kenners benadruk egter die belang van ʼn goeie hittebeskermingsproei en goeie gehalte haardroërs om jou lokke te beskerm.

Swart kopbande

Nes die bekende klein swart nommertjie wat elke vrou in haar klerekas het, is die swart kopband ʼn modegier wat tegelyk sjiek en prakties kan wees.

Danksy TikTok geniet dié minimalistiese bykomstigheid, destyds bekendgemaak deur die Amerikaanse aktrise Brigitte Bardot, ʼn behoorlike herlewing as deel van die sogenaamde “mob wife”-tendens.

Dít verwys na die gebruik van bykomstighede soos dierepatrone, groot haarstyle, bonkige diamantjuwele en luukse pelsjasse – alles stereotipiese bykomstighede van vrouekarakters in gangster-flieks.

Bekendes soos Zendaya, Jennifer Lawrence en Khloe Kardashian is onlangs met dié kopbande gesien.

Bykomende bronne: Vogue, InStyle, Cosmopolitan, Glamour.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.