13-jaaroue moord: Verdagtes se borgaansoek aangehoor

Forensiese deskundiges op soek na bewyse in Betty Ketani se tydelike graf Foto: Alex Eliseev, EWN

Drie van die ses mans wat vir die moord op Betty Ketani, 13 jaar gelede, in hegtenis geneem is, het Vrydag in die landdroshof in Johannesburg verskyn.

Al drie se borgaansoek is van die hand gewys. Hulle is Meimaand in hegtenis geneem na ‘n belydenisbrief onder ‘n mat in ‘n huis in Johannesburg opgespoor is. Die brief het besonderhede oor Ketani se moord verskaf.

Volgens landdros Richard Ratshibvumo het die drie hom nie oortuig dat uitsonderlike omstandighede bestaan nie, berig EWN. In sy uitspraak het hy gesê die staat se saak is verstewig deur die erkennings wat die drie gemaak het.

Hy het bygevoeg dat daar ‘n realistiese gevaar dat die getuies in die saak moontlik seer of doodgemaak sal word, as die bende se vermeende geskiedenis in ag geneem word.

Die man wat die brief geskryf het, Carrington Laughton, en twee broers wat polisiebeamptes is, David en Carel Ranger, sal gevolglik in Augustus by die ander drie in die hof aansluit. Twee van hul medebeskuldigdes se borg is vroeër toegeken, terwyl ‘n ander verdagte steeds in aanhouding bly.

Luidens die beamptes is Ketani ontvoer en doodgemaak om seker te maak dat sy nie in ‘n CCMA-dispuut teen haar voormalige werkgewer, Cranks-restaurant in Rosebank, sal getuig nie. Volgens die polisie is die eienaar van die restaurant die pa van ‘n verdagte wat nog nie in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.