Amalia-moord: Familie kans ontneem om Kerswens te stuur

Coen van der Walt, plaasmoord, Amalia, Noordwes

Wyle Coen van der Walt (67). (Foto: Verskaf)

Hulle wou nog sê geseënde Kersfees.

En as sy nog vyf minute gehad het, sou Frieda van Rooyen ook vir oulaas vir haar pa gesê het hoe lief sy hom het.

Maar dié laaste kans is van haar weggeruk toe haar pa, Coen van der Walt (67), op Oukersdag op die plaas waar hy gewoon en gewerk het, doodgeskiet is.

“As ek net nog vyf minute gehad het sou ek vir jou vertel het dat ek jou so baie lief het pa! Ek sou jou so styf gedruk het. Nou moet ek jou groet met ʼn koue lyf! Jou bloed roep uit pappa, jy het dit nie verdien nie! Jy en soveel ander boere!” skryf Frieda in ʼn roerende huldeblyk aan haar pa.

“Ek eer jou vir die man wat jy geword het. En ek het nie die voorreg om dit vir jou te kan sê nie.”

Volgens die polisie is Coen en sy vriendin, Linda Thomas, in hul plaashuis buite Amalia oorval pas nadat hulle inkopies in Schweizer-Reneke gedoen het. Daar is aanvanklik berig dat Thomas Coen se vrou was.

Lt.kol. Amanda Funani, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die verdagte het geld van die paartjie geëis.

Coen van der Walt, plaasmoord, Amalia, Noordwes

Van links is Frieda, saam haar pa Coen en broer Neil. (Foto: Verskaf).

Volgens Frieda het die verdagte deur die dak van die huis ingebreek. “Hy het hulle ingewag in die huis,” sê Frieda.

Neil van der Walt, Frieda se broer, sê hy vermoed die verdagte het ingebreek omdat hy gedink het die huis staan leeg vir die vakansie. Sy pa het op die plaas gewoon en as voorman vir die eienaar gewerk.

Die verdagte het in die tyd die huis deursoek en op Coen se vuurwapen afgekom.

Coen en Thomas het pas teruggekeer toe Thomas glo eerste die huis binne is en oorval en vasgebind is. Hierna het Coen gevolg. ʼn Struweling het ontstaan ná Coen hom teëgesit het toe die verdagte hom probeer vasbind het.

In die proses is Coen eers in die ribbes geskiet en daarna in die kop. Die verdagte het hierna op die vlug geslaan en Thomas het hulp ontbied.

Coen se voertuig, twee selfone en ʼn onbekende bedrag geld en die vuurwapen is gesteel, het Funani bevestig.

Coen van der Walt, plaasmoord, Amalia, Noordwes

Coen van der Walt laat sy kinders en skoonseun agter. Hulle is, van links, Etienne, Frieda, Neil en Dewaldt, Frieda se man. (Foto: Verskaf).

Die voertuig is later verlate in die Ipelegeng- informele nedersetting buite Schweizer-Reneke gevind.

Volgens Funani is niemand al in verband met die moord in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Coen word oorleef deur sy drie kinders, Neil, Frieda en Etienne. Hy sal veras word waarna daar op 5 Januarie ʼn roudiens gehou sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.