Bradley Connor en Malinda Marshall is elk 10 jaar tronkstraf opgelê vir die mishandeling van hul seuntjie.
Connor en Marshall is Vrydag in die streekshof in Johannesburg gevonnis, berig SowetanLIVE. Connor en sy gewese meisie is in November daarvan skuldig bevind dat hulle hul seuntjie, Michael, mishandel het. Die mishandeling het Michael ‘n blinde kwadrupleeg met breinskade gelaat. Die 6-jarige het op 16 Oktober 2011 gesterf.
Die mishandeling het begin toe Michael drie maande oud was. Connor en Marshall was in daardie stadium 18 jaar oud.
Die hof het vroeër gehoor dat Connor dit nie kon hanteer dat Michael huil nie, en het hom daarom begin slaan. Connor het glo erken dat hy sy kind se regte misken het en dat hy ʼn bydrae gelewer het tot die mishandeling. Themba Mjonondwane, korrektiewedienste-beampte, het egter gesê dit lyk nie of Connor enige berou toon nie.
Marshall het aanvanklik beweer dat Connor die kind mishandel het, maar sy het later dié verklaring teruggetrek en gesê sy is alleen verantwoordelik vir Michael se beserings.
Hul prokureurs het aangevoer dat die paartjie jonk was en intussen meer volwasse geword het. Hulle het gehoop dat die vonnisse onder korrektiewe toesig opgeskort sou word.
Die paartjie is intussen uit mekaar en het elk ʼn nuwe maat – en ander kinders. Malinda Marshall het twee seuns, onderskeidelik 4 en 5 jaar oud, by haar man Diederich, en sy is drie maande swanger. Bradley Connor het in Oktober 2010 met die ma van sy 4-jarige dogtertjie getrou.