Dié woorde staan uit in 2023

Die Engelse akteur Tom Holland. (Foto: Valerie Macon/AFP)

“Rizz” (afgelei van “charisma”), “authentic”, “hallucinate”, “deepfake”, “situationship” en “Swiftie” was vanjaar van die voorlopers om as woord van die jaar vir 2023 aangewys te word.

“Rizz” is ʼn slengwoord wat deur Generasie Z – digitale boorlinge wat tussen 1995 en 2010 gebore is – gebruik word om na styl, sjarme en aantreklikheid, of die vermoë om ʼn romantiese of seksuele maat te lok, te verwys.

Dié woord het stof in die oë van “situationship”, “prompt”, “de-influencing” en “Swiftie” geskop, en is deur die Oxford English Dictionary (OED) as sy woord van die jaar aangewys.

Volgens die New York Times het “rizz” op die internet- en in die speletjiekultuur ontstaan. Kai Cenat, ʼn Amerikaanse YouTuber, het tot die woord se gewildheid bygedra met sy video’s wat “rizz tips” verskaf. Nadat Tom Holland vroeër vanjaar in ʼn onderhoud met Buzzfeed gesê het hy het hoegenaamd geen “rizz” nie, het dié woord se gewildheid opnuut posgevat.

Oxford se leksikograwe monitor die korpus, of taalbron, van sowat 22 miljard woorde om hul woord van die jaar te kies. Die keuse, volgens Oxford, is bedoel om “die ingesteldheid, gemoedstemming, of bekommernisse” van die voorafgaande jaar te weerspieël, terwyl dit ook “potensiaal as ʼn term van blywende kulturele betekenis” het.

In 2023 het die Merriam-Webster-woordeboek ʼn toename in die aantal soektogte vir “authentic”, oftewel geloofwaardigheid, ervaar en daarom was dit dié woordeboek se keuse vir sy woord van die jaar.

Die woord het verskeie betekenisse wat wissel tussen onvervals, eg, geloofwaardig en om aan jou eie persoonlikheid en karakter getrou te bly.

Die gewildheid van “authentic” is aangedryf deur groeiende gesprekke oor kunsmatige intelligensie (KI), die obsessiewe aanhang van beroemdes, identiteit en sosiale media, wat mense algaande oor die verskillende betekenis en gebruik van dié woord laat wonder het.

Woorde soos “rizz”, “deepfake”, “coronation”, “dystopian” en “Doppelgänger” was ook vanjaar op Merriam-Webster se kortlys.

“Hallucinate” is deur die aanlyn Cambridge Dictionary as sy woord van die jaar aangewys, en dit is met verwysing na KI wat glo hallusineer wanneer dit waninligting verskaf.

Generatiewe KI is ʼn lewendige onderwerp van bespreking, en daar word al meer fokus hierop geplaas nadat KI-instrumente soos ChatGPT, Bard, DALL-E en BingAI vir die publiek bekendgestel is.

Cambridge het die woord gekies aangesien hulle besef dat die herdefiniëring van “hallusineer” nader aan die kern beweeg van waarom mense oor KI praat.

“Generatiewe KI is ʼn kragtige instrument, maar een waarmee ons almal nog leer hoe om veilig en effektief te kommunikeer. Dit beteken om bewus te wees van beide die potensiële sterkpunte en huidige swakpunte.”

Op tuisbodem het die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) “Rusland-Oekraïene” as die Suid-Afrikaanse woord van die jaar aangewys.

Die medianavorsingsmaatskappy Focal Points het sleutelwoorde ondersoek vir die tydperk Oktober 2022 tot September 2023. Data is ontleed om die gereeldheid van die sleutelwoorde in die media te bepaal.

Daar is bevind dat “Rusland-Oekraïene” die meeste in die Suid-Afrikaanse media gebruik is en sodoende ander gewilde woorde soos “BRICS” en interest rate” uitgestof het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.