
ANC-jeugliga ondersteuners kom by die Uniegebou in Pretoria bymekaar. Die foto is deur die gebruiker @ewnreporter op Twitter gelaai.
Die jeugliga en sy ondersteuners het Vrydagoggend by die Uniegebou ʼn optog gehou. Die jeugliga se adjunk-president, Ronald Lamola, het ‘n memorandum van eise voorgelees voor dit aan ʼn regeringsverteenwoordiger oorhandig is. Die jeugliga eis dat artikel 25 van die grondwet, wat private eiendom beskerm teen arbitrêre onteiening en voorsiening maak vir vergoeding, gewysig word. Die memorandum is deur die nuut aangestelde minister van openbare werke, Thulas Nxesi, in ontvangs geneem. Die jeugliga-president, Julius Malema, het vroeër geëis dat die minister die memorandum in ontvangs neem. “Ons het ʼn minister (gekry om die memorandum in ontvangs te neem). Ons kry altyd wat ons wil hê. Ons is nie ʼn Mickey Mouse-organisasie nie. Ons is ʼn ernstige organisasie”, het Malema na die tyd gesê. Die jeugliga het Donderdag memorandums van griewe aan verteenwoordigers van die Kamer van Mynwese en die Johannesburgse aandelebeurs oorhandig. Die optog het Vrydag tot ‘n einde gekom na die memorandum by die Uniegebou oorhandig is.