Lewenslange tronkstraf vir ‘bose’ Boere-moordenaar

ʼn Man van Soshanguve wat die oorsaak is dat 80 plaaswerkers werkloos en haweloos gelaat is nadat hy ʼn boer van Brits twee jaar gelede vermoor het, is Maandag deur die hooggeregshof in Pretoria lewenslange tronkstraf opgelê.

Regter Mahomed Ismail het tydens sy uitspraak gesê dat die beskuldigde geen berou toon vir sy “bose” dade nie. Die beskuldigde, Robert Mike Kgaphola (34) is skuldig bevind op die moord van groenteboer Jacobus Frederick van Staden (60) op sy plaas Kleinfontein naby Brits in Maart 2010. ʼn Tweede beskuldigde, John Mapea van Mamelodi, is weens natuurlike oorsake oorlede voor die hofsaak begin het. Van Staden en sy vrou, Helena, was in hul slaapkamer toe ʼn bende rowers laat die aand by hul huis ingebreek het nadat hulle die hond vergiftig het. Hulle was onder die indruk dat die boer binnekort lone sou betaal en dat daar baie kontant op die plaas was. Toe die paartjie hul slaapkamerdeur toegedruk het, het die rowers skote deur die deur begin vuur en Van Staden is in die bors getref. Van Staden het self ʼn paar skote op sy aanvallers afgevuur, maar hy het telkens misgeskiet.

Die rowers het slegs met Van Staden se mes, wat hy vroeër as geskenk ontvang het, gevlug. Van Staden is dood verklaar toe hulle by ʼn plaaslike hospitaal opgedaag het. Sy plaas is intussen te koop aangebied. Gevolglik is 80 werkers nou werkloos en haweloos.

Volgens regter Ismail is die wyse waarop Kgaphola en sy mede-beskuldigde by die Van Staden-huis ingebreek het, het aangedui dat hulle vasberade was om te kry wat hulle soek. “Die alarm het afgegaan toe julle die eiendom betree het, maar julle het steeds voortgegaan tot dit uiteindelik tot die dood van die slagoffer gelei het. Die manier waarop die hond doodgemaak is, is ʼn teken dat julle jul dade beplan het en dat dit nie op die ingewing van die oomblik plaasgevind het nie.”

Die regter sê Kgaphola het nooit enige berou getoon nie. Hy het nie net die lewe van ʼn ander mens geneem nie, maar het ook veroorsaak dat 80 werknemers hul werk kwyt is.

Van Staden was glo ʼn goedhartige werkgewer wat behuising aan sy werknemers verskaf het. Een van sy werknemers het hom as hul “pa” beskryf, het regter Ismail gesê.

Kgaphola is lewenslange tronkstraf opgelê. Hy is ʼn verdere 18 jaar en 6 maande vir roof met verswarende omstandighede, kwaadwillige beskadiging van eiendom vir die vergiftiging van die hond en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie opgelê. Alle vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.

Van Staden se vrou en haar drie seuns sê hulle is tevrede dat reg geskied het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.