ʼn Man is Woensdagoggend in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn 7-jarige meisie verkrag en probeer keelaf sny het.
ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Pinky Tsinyane, sê die man het na bewering op 20 November verlede jaar by sy vriendin se huis in Palm Ridge, Eden Park ingebreek. “Die ma was nie daar nie en hy het haar twee kinders gevind waar hulle geslaap het.” Hy het glo die 7-jarige meisie verkrag, haar keel probeer afsny en gevlug. Die meisie het die aanval oorleef. Tsinyane sê die polisie het Dinsdag inligting ontvang dat die man by ʼn fabriek in Wadeville, suid van Johannesburg, begin werk het. Hy is vroeg Woensdagoggend by sy huis in Katlehong in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting binnekort in die Alberton landdroshof verskyn op aanklag van verkragting, poging tot moord en huisroof.