Miljoene rand se opknappingswerk by Susan Strijdom-tehuis

Susan Strijdom-tehuis in Queenswood, Pretoria

Susan Strijdom-tehuis in Queenswood, Pretoria

Solidariteit Helpende Hand het die eerste fase van ʼn R3,5 miljoen projek by die SAVF Susan Strijdom Tehuis vir verswakte bejaardes in Queenswood, Pretoria, geïmplementeer.

Helpende Hand het vanjaar die fokus op die lot van bejaardes verskerp deur verskeie ondersteuningsprojekte tot voordeel van bejaardes aan te pak. Fondse wat deur die projekte ingesamel word, word aangewend vir die Bejaardefonds. Die fonds word gebruik om finansiële ondersteuning te bied vir instellings wat na bejaardes omsien.

Die SAVF se Susan Strijdom Tehuis is in 1966 geopen en is sedertdien nog nie opgeknap nie. Helpende Hand het besluit om die tehuis op te knap, wat alles insluit, van die vervanging van geute tot elektriese opgraderings. Die totale kosteberaming van die projek beloop ongeveer R3,5 miljoen.

“Met dié verbeteringe kan die tehuis tot sy volle kapasiteit gebruik word en sodoende ʼn groter inkomste en beter dienste vir inwoners verseker,” sê Michelle Burger, die projekorganiseerder. “Ons het verskeie borge genader om die projek te ondersteun en is oorweldig deur die belangstelling. Die vervanging van die elektriese bedrading – teen ʼn bedrag van ongeveer R900 000 – is reeds aan die gang. Ons is baie dankbaar hiervoor.”

Tydens die geleentheid toe die projek van stapel gestuur is, het Helpende Hand se personeel die inwoners van die tehuis besoek en vir ʼn dag van opwindende vermaak gesorg. Terwyl ʼn skaap aan die braai was, het Laerskool Wonderboom-Suid se revue-groep gesorg vir vermaak in die vorm van ʼn opvoering waartydens hulle treffers uit die fliek Grease en Elvis Presley se “Hound Dog” gesing het. Elke inwoner is later met ʼn geskenkpak met badprodukte bederf.

Helpende Hand bedank die volgende borge vir hulle ondersteuning van die projek: Afrison LED, Building Code Consultants, IEC, Plumb-a-lot, Mgwezi, Mbale, Gothic Construction, Ambient Ceilings, Dracon Ceilings en Claasen Auret Engineers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Erich Goosen ·

Dankie Solidariteit ook vir die hulp. Ons ou Afrikaner volkie sou baie moeiliker geleef het as julle nie daar was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.