Die eienaars van kuierplekke van die Belgiese gemeenskap Diksmuide het ‘n insentief bedink om bestuurders, wat tydens padversperrings blyk niks agter die blad te hê nie, te beloon – met ‘n bier.
Tradisioneel kan die nugter bestuurders ‘n beloning van ‘n spesiale sleutelhouer kry, maar die kuierplek-eienaars meen ‘n bietjie bykomende aanmoediging is in die haak, berig die Vlaamse koerant, De Standaard.
Tussen hulle het hulle 500 bottels bier bymekaar gemaak, wat dan na goeddunke aan 500 gelukkige (maar nugter) motorbestuurders oorhandig sal word. Maar ook net eers nadat hulle veilig tuis gekom het, sodat hulle hul “droefgeestige” droë aandjie darem met ‘n bietjie lafenis rustig tuis kan afsluit.
Die polisie is nie al te opgewonde met dié plan nie, en het die organiseerders afgeraai om daarmee voort te gaan.