Nuuskommentaar: Afrikaans en sy toekoms

Die huidige proses om ‘n taalwet daar te stel is deur ‘n Afrikaanse prokureur aan die gang gesit wat die staat hof toe geneem het omdat die land, anders as wat die grondwet bepaal, nie oor ‘n taalwet beskik nie.

Uit die staat se verweer destyds, dat Afrikaanssprekendes nie sterk oor die behoud en bevordering van hul taal voel nie, het die bloed behoorlik gekook. Die hof het ook dié kluitjie in die wind gestuur en gelas dat dadelik werk gemaak word hiervan.

Die vraag was egter – met so ‘n amptelike gesindheid teenoor Afrikaans – hoe erg sou die heksebrousel wees wat die staat as wetsontwerp uitbroei?

Talle Afrikaanse belangegroepe was onthuts, en het in wisselende mate van intensiteit beswaar gemaak. Nou, so blyk dit, was daar veel meer gif in die angel. Soos sake nou staan, kan die nuutste weergawe van die wetsontwerp gebruik word om Afrikaans in die praktyk van sy amptelike status te stroop. Sou daar nie groter lig oor die wetsontwerp wees nie, kan dit in die grondwetlike hof beland.

Hoofstuk 1 van die grondwet, die grondbeginsels van die grondwet, bepaal immers dat daar elf amptelike tale sal wees, en dat die staat aktief die gebruik van die inheemse tale sal bevorder. Afrikaans is ‘n inheemse  taal, maar word dikwels weens sy hoofsaaklik Wes-Europese herkoms nie as sodanig hanteer nie. Die ander amptelike inheemse tale het egter net so min hul grondslag in wat vandag die landsgrense van Suid-Afrika is. In die praktyk word ander meganismes in die werk gestel om Afrikaans se amptelike status te ondermyn, soos om na die ander inheemse tale as voorheen agtergeblewe tale, of na Afrikaans as ‘n immigrantetaal te verwys. Die ANC was onverbiddelik: Die bepaling in die oorgangsgrondwet dat geen amptelike taal se status verminder mag word nie, mag nie in die finale grondwet opgeneem word nie, en iemand wat nie die moeilikheid sien kom het nie, was uiters naïef.

In die post-1994 Suid-Afrika is die praktyk om die geskiedenis en die werklikheid met ander perspektiewe te kleur, gewoon voortgesit en selfs verskerp. In die proses word nuwe werklikhede voorgehou wat dikwels met feite niks te make het nie.

Om maar enkele ou en nuwe voorbeelde te noem:

–       Enkele jare gelede het prof. Pieter Labuschagne aan die hand van outentieke bronne bewys dat die bekende geskiedskrywer, Theal McCall opgeteken het dat Bloemfontein reeds voor die Brits-egpaar by die fontein kom woon het, dié naam gehad het en van die Koranna-hoofman, Jan Bloem, ontleen het. Tog bespiegel geskiedenisbronne steeds of die naam van die blomme by die fontein, of die koei Bloemmetje wat in die fontein geval het, ontleen is.

–       Hoe ouer die geskiedenisbronne, hoeveel meer swart en bruin mense was daar in die laer van Bloedrivier. Latere bronne verswyg selfs Biggar se swart soldate en die bruin mense in die laer heeltemal.

–       Julius Malema se aansprake dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, word nie deur geskiedenisbronne gestaaf nie en die TLU-SA wys dit gereeld af, maar peilings toon dat ‘n groeiende aantal mense – oorweldigend swart maar ook al hoe meer blankes, dié mening toegedaan is. Die gevolg is dat pogings van die regering om ‘n witskrif vir landelike hervorming op te stel knaend by die groenskriffase vasval omdat dit op persepsies van die werklikheid eerder as die werklikheid opgestel is.

–       In die alternatiewe werklikheid word die swart inheemse tale se voorheen benadeelde situasie, of minstens wie daarvoor verantwoordelik was, erg skeefgetrek. Voor 1994 het hierdie tale amptelike status in die voormalige tuislande geniet – saam met op eie keuse Engels en gewoonlik tot die volslae uitsluiting van Afrikaans. Ook die outonome swart munisipaliteite kon hierdie tale inspan. Afrikaanse skoolkinders is op laerskoolvlak verplig om swart tale as nie-eksamenvak te neem, en daarna aangemoedig om dit as eksamenvak te neem. Die werklike agtergeblewe status het na 1994 ingetree, maar danksy die persepsie wat hieroor geskep word, moet Afrikaans nou as’t ware gestraf word.

–       AfriForum het onlangs aangekondig dat dit ‘n veldtog loods om te sorg dat die ware geskiedenis opgeteken word. ‘n Soortgelyke inisiatief is al ‘n ruk gelede op die FAK se webblad aangekondig.

Wanneer persepsies eerder as die werklikheid ingespan word om die realiteit wetlik te reguleer, gee dit noodwendig vuurwerke af. Boonop ondermyn dit die persepsie dat die grondwet so goed is soos wat gereeld voorgehou word, en veral gebrekkig is om minderheidsregte te beskerm.

Die ANC se strategie om Afrikaans mee weg te doen was reeds met die onderhandelingsfase duidelik. Toe die regeringsonderhandelaars oor die behoud van Afrikaans vasstaan, is elf amptelike tale ingevoer, wel wetend dat dit onhaalbaar is. In hul baanbrekerswerk, Fundamental Rights in the New Constitution, het Cachalia, Davis, Maduna en ander, wat in mindere of meerdere mate in die ANC-dampkring gestaan het, geskryf dat dit waarskynlik daartoe sal lei dat daar uiteindelik net een amptelike taal sal wees.

Verskeie staatsdepartemente het dadelik weggespring asof daar inderdaad net een amptelike taal was. ‘n Vorige statistikus-generaal het selfs so ver gegaan om Afrikaanssprekendes in die statistiekdiens te belet om onderling, soos per e-pos, met mekaar in enige ander taal as Engels te kommunikeer.

Kort voor lank het die tandelose Pansat verklaar dat die staat self die grootste oortreder van die grondwet se taalbepalings is. Dis ‘n ernstige klad op die uitvoerende gesag wat ‘n eed aflê om die grondwet te onderhou.

In ‘n stadium het die polisiediens selfs polisielede in die Wes-Kaap verplig om slegs Engels in hul radiokommunikasie te gebruik. Dit was ‘n nasionale opdrag, maar die polisie is ‘n gedeelde nasionale en provinsiale funksie, waar aspekte soos taal en doeltreffendheid provinsiale verantwoordelikhede is. Presies hoe doeltreffend kan die polisiediens in ‘n provinsie wees waar bykans 60 persent van die inwoners Afrikaanssprekend is, en die res Xhosa-, Engels-, Portugees-, en Somalisprekend is met nog ‘n rits kleiner groepe?  Maar alle kommunikasie is in Engels?

Ingevolge die nuutste bepalings van die taalwetsontwerp moet nasionale staatsdepartemente drie tale gebruik, waarvan twee voorheen agtergeblewe amptelike tale moet wees.

Hierdeur, so lyk dit, is Afrikaans uitgesluit.

Wanneer objektief beoordeel word, presies hoe aandadig is die Afrikaanse gemeenskap aan die afwaartse glybaan van hul taal? Is daar ‘n breë front van kapitulasie, of is dit bloot ‘n groepie vyfdekolonners en jingo’s wat aktief hul moedertaal ondergrawe?

Omdat dit ‘n politiek-sensitiewe kwessie is, behels ‘n objektiewe analise ‘n politieke tonetrappery. Maar om daarom niks hieroor te sê nie, is ook nie wetenskaplik suiwer nie.

Weens die sensitiwiteit word dié klippie eers gou uit die skoen gehaal.

–       Ontledings van stempatrone toon dat die ACDP ongeveer die helfte van sy stemme in oorwegend Afrikaanse gebiede kry – met ander woorde dat ‘n groter persentasie Afrikaanssprekendes hul kruisies by hierdie party trek – ongeveer per capita tien keer meer as byvoorbeeld Xhosa- en Sothosprekendes. Tog het die party slegs sy naam in Engels by die OVK geregistreer, en op nasionale vlak word mediaverklarings slegs in Engels uitgereik.

–       Ook parlementêre partye wat veel meer kapasiteit het as die ACDP reik hul nasionale mediaverklarings slegs in Engels uit, terwyl ‘n ligte storm pas weer losgebars het omdat die DA se jongste skadukabinet slegs enkele Afrikaanssprekendes bevat. Lourie Bosman, oud-president van Agri SA wat as kundige gewerf is, is nie net sy landbouportefeulje kwyt nie, maar is tot adjunk in ‘n ander portefeulje afgegradeer.

‘n Deelnemer aan ‘n onlangse TV-besprekingsprogram oor die toekoms van Afrikaans het daarop gewys dat daar jaarliks ‘n groot getal bruin leerlinge uit tradisioneel Afrikaanse huishoudings by Engelse skole ingeskryf word. Afrikaanse vanne maak egter ook ‘n groot deel van private Engelstalige skole se leerlingtal uit. Geskrewe Afrikaans word dikwels deur Afrikaanssprekendes op pro-Afrikaanse webwerwe vermink, terwyl groot Afrikaanse koerante ook al blapse maak soos om na wette se seksies of afdelings in plaas van artikels te verwys, parlementslede sitplekke het in plaas van setels, en dat die Engelse woord “ban” met verban vertaal word, en die ANC en van sy ondersteuners daarom verban was in plaas van onderskeidelik verbode en ingeperk was. ‘n Lewende taal stagneer wel nie, maar kapituleer ook darem nie.

Kortom, danksy onbedoelde hensoppers is die kous vir Afrikaans ook nie klere nie.

Tog, oor ‘n breë front word Afrikaanssprekendes hul taalregte ontneem. Presies hoe ver gaan iemand kom om ‘n lynfout telefonies by Telkom te rapporteer? Selfs die spookstem gee geen Afrikaanse opsie nie. Is ‘n mens uiteindelik gelukkig genoeg om wel by ‘n mensestem uit te kom vir tegniese advies, is die hulp vriendelik, maar die taalkwessie steeds ‘n probleem. Blitsvinnig moet die kliënt agterkom die “muddam” verwys na die modem, en allerlei onbekende tegniese terme eers na gewone Engelse uitsprake verwerk word, en dan in Afrikaans.

‘n Bejaarde vrou van die oorwegend Afrikaanse Bloemfontein het onlangs die ervaring gehad dat toe sy ‘n probleem met haar jarelange mediese fonds wou opneem, die fonds blatant geweier het om haar in Afrikaans te help. Sou die byhou van ‘n swartlys van sulke firmas nie ‘n deeglike teenwig kon wees nie, sodat nuwe toetreders minstens weet waar hulle sulke behandeling te wagte kan wees?

Soos sake nou staan, lyk dit of Afrikaans selfs in die grondwetlike hof gaan beland, oor ‘n kwessie wat in verskeie gedeeltes van die grondwet taamlik duidelik gemaak word.

Drukgroepe soos AfriForum om Afrikaans te bevorder, sal saam met ander kultuurorganisasies, nie die luukse van dwarstrek kan bekostig nie. Politieke partye wat eers hul taalverantwoordelikhede aan instansies soos AfriForum “delegeer” maar dan lustig AfriForum en kultuurinstansies kritiseer selfs wanneer hulle suiwer volgens die Grondwet optree, moet ook besin of Afrikaanse stemme welkom is.

Dis maklik om te sê Afrikaans gaan nie sonder ‘n geveg ondergaan nie. Maar dan moet daar darem ook taalsoldate wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae