Nuuskommentaar: Geleentheid om saak vir Afrikaans oorsee te stel

Op 3 Desember word die saak van Afrikaans in die hart van die stamlande gestel – in die Nederlandse Tweede Kamer op uitnodiging van die Interparlementêre Kommissie waaraan ook Vlaandere meedoen.

Dit volg, onverbandhoudend, kort op die Afrikanerberaad waaraan Afrikanergroepe vanuit ‘n wye politieke en kulturele verskeidenheid deelgeneem het. By dié beraad is besluit dat Afrkanermodelle nie net plaaslik ontwikkel sal word nie, maar om dit ook internasionaal te doen.

Om die beraad en sy resolusie met mekaar in verband te bring is soos om appels met pere te vergelyk, maar dui tog op die besef dat geleenthede aangegryp moet word om die saak van Afrikaans, en die sprekers daarvan, te internasionaliseer.

Leopold Scholtz beskryf die jongste geleentheid soos volg in die Volksblad: “Vier voorste Afrikaanssprekendes kry eersdaags die kans om Nederlandse en Vlaamse parlementslede in te lig oor die moeilike posisie waarin Afrikaans hom in Suid-Afrika bevind. Die vier is Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit; dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad; Henry Jeffreys, gewese redakteur van Die Burger; en prof. Koos Malan, staatsregsgeleerde aan die Universiteit van Pretoria. Luidens ’n verklaring van die Nederlandse Taalunie is hulle deur die Interparlementêre Kommissie (IPK) van die Taalunie uitgenooi om op 3 Desember in die Eerste Kamer (senaat) van die Nederlandse State-Generaal (parlement) in Den Haag oor Afrikaans te getuig. Hulle sal deur die IPK-lede ondervra word, waarna die IPK ’n verslag sal saamstel vir die Nederlandse minister van onderwys, kultuur en wetenskap, Jet Bussemaker, asook die Vlaamse minister van kultuur, Joke Schauvliege.”

Hierna bied Solidariteit en AfriForum nog geleenthede aan.

Die Europese parlement en die parlemente van Europese lande huisves gereeld konferensies waar die saak van minderhede in die algemeen gestel word, of waar ‘n besondere minderheidsgroep aan die bod kom. Dit word gewoonlik ook goed deur die media bygewoon. In Europa word minderheidsregte gewoonlik as ‘n integrale deel van menseregte beskou.

Onder die minderhede wat al by Europese parlemente aan die beurt gekom het tel bekendes soos die Tibettane, die Armeniërs en Koerde, en veel minder bekendes soos die Omoro’s van Ethiopië en die Mapuche-Indiane van Chili. Taiwan se inheemse groepe kom op 28 November in die Europese parlement aan die bod.

Daar is oorvloedige voorbeelde wat daarop dui dat parlementslede ook sterk beïnvloed word. Frankryk se parlement het betrekkinge met Turkye ernstig geskaad toe ‘n besluit aanvaar is dat die ontkenning van die Armeense volksmoord aan die hand van die Turke strafbaar sou wees. China is op ‘n min of meer permanente missie om lande se parlementariërs wat voor die Tibettaanse saak geswig het, te dreig. Pas moes die Chileense president in die Europese parlement in antwoord op ‘n vraag erken dat sy regering by die Mapuche in die skuld is. Trouens, min minderhede se saak is so sterk geïnternasionaliseer as dié van die Mapuche.

Daar is meer as 5 000 uitkenbare minderheidsgroepe wat in meer as 70 lande woon. Saam is hulle sowat 370 miljoen mense, of te wel ses persent van die wêreldbevolking.

Hierteenoor klink die sowat 7 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, en moontlik so agt miljoen wêreldwyd maar min, en dit is duidelik dat, om gehoor te word, nie sommer net gaan gebeur nie. Geleenthede om gehoor te word, moet geskep word, en geleenthede soos hierdie wat opduik, moet met ten volle aangegryp word.

Die buitelandse sendings van verteenwoordigers van minderheidsgroepe, se sukses hang egter nie alleen van hul eie vermoëns en die geleenthede wat hulle kry af nie, dit word sterk gerugsteun deur die gewone mense van daardie minderhede. Van die groepe soos die Armeniërs en Koerde se hande word gesterk deur volksgenote in diaspora. Met vandag se tegnologie, kan byna elkeen egter ‘n ambassadeur vir sy eie mense se saak wees.

Afrikaans se sterkste invalshoek is waarskynlik die feit dat dit deel van die Dietse taalfamilie uitmaak, wat Nederlands en Vlaams ook insluit. Van die minderheidstale en dialekte in die Lae lande, soos Friesies en Brabants, het boonop eie ervaring van die druk waaronder Afrikaans as minderheidstaal in Suid-Afrika verkeer, en die dinamika wat die afgelope dekade hieroor on minderhede in die Lae Lande aan die loswoel is, is baie interessant.

Die binnelandse politieke chaos in Suid-Afrika en die voortdurende regeringsuitsprake wat die houdbaarheid van grondwetlike waarborge onseker maak, het die deur vir die Afrikaanssprekendes oopgewoel om ook hul stem te laat hoor. Maar daar is spelreëls om jou saak goed te doen, en daar is taboes wat die groep se saak verongeluk. Leopold Scholtz het in sy rubriek, Geleentheid vir Afrikaans, van hierdie spelreëls uitgestippel. Dit kan opgesom word as fatsoenlik. Die Afrikaanse stemme wat walglikhede uitgebasuin het tydens aartsbiskop Desmond Tutu se besoek aan Nederland, het enorme skade berokken. ‘n Persoon wat oor plaasbeveiliging op TV ‘n besondere geleentheid gekry het, het jare se goeie werk ongedaan gemaak deur Hitler se volksmoord van die Jode te gaan ontken.

Terwyl dit baie belangrik is om die saak van Afrikaans oorsee te versterk, moet die dominante plaaslike politieke psige ook in gedagte gehou word sodat die Afrikaaansprekende nie hier as indringer-verlengstuk uit die Lae Lande beskou word nie.

Uiteindelik sal Afrikaanse kultuur- en burgerlike groepe waarskynlik ‘n diplomatieke lessenaar van voltydse kundiges moet skep waarvandaan ‘n paar “reisende diplomate” voltyds, en waar nodig, deeltyds soos met die komende ekskursie, geleenthede ontwikkel en benut kan word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae