Mediaberigte veral deur Beeld het daagliks meer en meer ontbloot van Kotze en vorige dinge wat hy aangevang het. Die SAPD het vervaard na Kotze gesoek en as mens terugkyk kry mens die idee dat hulle nie geweet het waar hy hom bevind nie, totdat ʼn lid van die publiek hom Dinsdagaand by ʼn supermark in Modimolle gewaar het nie.
Kotze het glo by die supermark vir hom kos gekoop maar was waarskynlik ook nuuskierig om te sien wat die media oor hom berig. Kotze kan moontlik ook gebrandmerk word as die vermeende misdadiger wat nog die meeste op sosiale media in Suid-Afrika gesoek is. Besoek mens Twitter dan is sleutelwoorde soos Johan Kotze en Modimolle van die hoogs gebruikte soekterme in Suid-Afrika. Joernalis Marietie Louw het eerste berig dat Kotze gevang is nadat sy die hele oggend oor die SAPD se vordering met die soektog berig gelewer het.
Op Facebook is Kotze se gesig op menige gebruikers se mure geplak. Dit sou dus vir Kotze baie moeilik wees om in enige dorp in Suid-Afrika ongesiens verby te gaan.
ʼn Oorywerige media se jag na die volgende mediahoek kan egter ook die SAPD se saak benadeel. So het Beeld ook reeds die eerste dag van die storie berig dat Kotze gevang is. Die SAPD het dit ontken en dit het die betrokke joernalis met ‘n rooi gesig gelos. Die insident het egter meer druk op die SAPD geplaas om resultate te behaal. Die verhouding tussen die SAPD en die media was ook vir ʼn dag of twee suur ná die SAPD se aankondiging dat die media die ondersoek belemmer. Die foutiewe inligting is dadelik deur sosiale netwerke verorber wat op die betrokke partye negatief reflekteer het.
Wat nou voorlê is die eerste hofverskyning van Kotze en een van die ander verdagtes wat vroeër Woensdagoggend in Makapanstad naby Hammanskraal, noord van Pretoria, aangekeer is. Die polisie is steeds op soek na die twee ander vermeende verdagtes.
Die manier waarop die publiek deur middel van sosiale media aan die soektog na Kotze deelgeneem het, is ‘n nuwe tendens oor hoe misdaad beveg kan word. Veral as ‘n foto van die misdadiger vinnig deur die SAPD vrygestel kan word soos wat hier die geval was.