Nuuskommentaar: Wigte en teenwigte

Oud-president FW de Klerk sal deur baie veral onthou word as die persoon wat Suid-Afrikaners oor die nuwe grondwetlike bedeling gerus probeer stel het oor sy herhaalde versekerings oor die wigte en teenwigte wat in die grondwet ingebou is.

Van die wigte en teenwigte het nooit behoorlik van die grond af gekom nie, of  is politiek gekaap, of bly in kontroversie vasgevang. Die grootste ligpunt is dat die howe tot dusver op enkele vreemde uitsprake na vas staan.

Teen dié agtergrond is ‘n verslag deur die FW de Klerkstigting se Sentrum vir Grondwetlike Regte kommerwekkend. (Dit kan hier gelees word).

In dié verslag spreek die sentrum sy kommer uit oor die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling se besprekingsdokument “Die Transformasie van die Regstelsel in die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingstaat”.

Die kern van die Sentrum se kommer is dat die regering die transformasie van die regbank wil voer na ‘n vlak waar regters eerder deur regeringsbeleid, of dan die wil van die massas, as deur die grondwet gerig word.

Die sentrum voer die sentimente hiervoor na 2005 terug, met ‘n onheilspellende aanhaling uit die ANC se NUK: “Ons staan voor die voortdurende en belangrike uitdaging om te werk aan die transformasie van die regbank . Baie is reeds gedoen om die wanbalans in ras en geslag binne hierdie instelling aan te spreek.

Desnieteenstaande moet meer vooruitgang in hierdie verband gemaak word… Die realiteit kan nie langer vermy word dat vele binne ons regbank hulself nie sien as deel van hierdie massa nie, aan hulle verantwoordbaar, en geïnspireer deur hul hoop, drome en waardestelsels nie. Indien hierdie situasie te lank voortduur, sal dit onvermydelik lei tot gemeenskaplike antagonisme teenoor die regbank en ons howe, met ernstige gevolge vir ons demokratiese stelsel as geheel.”

Die besprekingsdokument adem dieselfde gees. Om ‘n grondwetlike demokrasie te onderhou, geld ‘n aantal belangrike vereistes:

–       Die grondwet moet in die harte van die mense leef

–       Demokratiese konvensie eerder as die swaardmag moet die grondwet beskerm

–       Die grondwet moet goed wees, nie net omdat gesê word dat dit goed is, of aanvaar word dat dit goed is omdat dit ‘n nuwe grondwet is en uit ander kon put nie

–       Die grondwet moet die werklikhede van die land ondervang. ‘n Grondwet wat vir ‘n homogene bevolking ontwerp is, sal altyd onder druk verkeer in ‘n heterogene land

–       Dit moet deur ‘n goeie, onafhanklike regstelsel ondersteun word, gerugsteun die grondbeginsel van natuurlike geregtigheid, en dit mag per definisie nie belaglik wees nie

–       Dit moet deurlopend gevoed word deur die goeie wat in die internasionale reg ontwikkel

Die populêre opvatting dat die grondwet so goed is dat dit eintlik foutloos is, het nog min steun oor, en voorstelle dat dit verander word, of selfs heeltemal de novo onderhandel word en oorgedoen word, word meer algemeen gehoor. Ook die ANC, of uit ANC-geledere, word dié sentimente gehoor. Solank die gedagtes aan verandering of verbeterings en harmonisering afgestem is, so lank is dit gesond, anders kan ‘n grondwet nie in die harte van mense leef nie.

Cachalia en ander het in hul baanbrekerswerk, Fundamental Right in the New Constitution, opgemerk dat die gelykheidsbeginsel besonder sterk in die grondwet na vore kom, gegewe die land se geskiedenis. Hieruit spruit die verbod op onbillike diskriminasie.

Maar hoeveel van hierdie verbod op diskriminasie bestaan nog? Wat Suid-Afrikaners wél voortdurend aanhoor as synde die Suid-Afrikaanse politieke Bybel, is die woord transformasie, wat boonop dikwels in kras terme uitgedruk word. Maar gaan soek dié woord in die aanhef van die grondwet en die grondwetlike beginsels? Dis nie daar nie.

Elke mensereg word beperk, en dié beperking kan op verskeie wyses geskied, soos die huidige diskoers oor waar die reg op vrye meningsuiting hom teen ‘n ander se reg op waardigheid vasloop. Maar die goue reël is dat so ‘n beperking nie so uitgelê kan word dat dit die oorspronklike reg tot niet maak nie. Maar wie, by sy gesonde verstand, kan nie insien dat Korrektiewe Dienste se toepassing van die nasionale bevolkingsamestelling op die Wes-Kaap nie op die vernietiging van die verbod op onbillike diskriminasie neerkom nie? Tog moet Solidariteit die Departement hieroor voor die Arbeidshof sleep.

Raskwotas op sy beste ‘n omstrede kwessie. Pas het ‘n mediastorm in die VSA losgebars oor ‘n aspirant senator, Elisabeth Warren, na dit aan die lig gekom het dat sy haarself as ‘n Rooihuid voorstel. Hiermee het mense min of meer vrede, maar die Boston Herald het onthul dat Harvard Law dié “klassifikasie” met haar aanstelling “opgeroep” het om aan die vereiste kwota van minderheidsaanstellings te voldoen. Warren het by haar ma verneem dat haar oor-oumagrootjie ‘n Rooihuid was, wat, indien dit wel so sou wees, beteken dat sy 1/32ste Rooihuid is. Per definisie maak dit die reg belaglik.

Om rassediskriminasie van 21 jaar gelede deur rassediskriminasie en sonder sonsondergangklousule reg te transformeer? En dit dan nie-rassigheid te noem?

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte se kommer is egter nou afgestem op die Departement se besprekingsdokument. Indien die onafhanklikheid van die regbank en verbintenis tot die grondwet – waaroor die regters ‘n eed van getrouheid afgelê het – in die slag bly tuimel een van die pilare waarop die grondwet en die hele staatsbestel staan. Wat net so kommerwekkend is, is die tipe rewolusionêre taal wat gebruik word wat die sentimente van Stalin mak laat klink.

Onlangs het ‘n Duitse koerant teensinnig aangekondig dat Duitsland pas, na sestig jaar, die Tweede Wêreldoorlog gewen het.

As die grondwetlike pilare van die grondwet tuimel, en deur die tipe retoriek vervang word wat nou so lustig aangehef word, dan word ‘n nuwe hoofstuk oor die grensoorlog geskryf – een wat op ‘n sinnelose opoffering van jong menselewens dui. Dan, so lyk dit, is kommunisme nie doer ver gestuit nie.

En van die wigte en teenwigte is niks oor nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae