Nuuskommentaar: DA-optog: Demokrasie of konflik soek?

DA logo , logo, Democratic alliance , new DA , logoDie DA beplan op 4 Februarie ‘n optog van 6 000 ondersteuners, waarvan ‘n duisend werkloos is, na die ANC se hoofkantoor, Luthuli-huis te hou. Die ANC, by monde van Jackson Mthembu, het gereageer deur te sê dit is uitdagend en provokasie tot geweld.

‘n Vorige, soortgelyke optog deur die DA het inderdaad tot geweld gelei, en onder meer moes die DA-leier, Helen Zille, van die toneel ontruim word.

Laat daar geen twyfel wees nie: In ‘n grondwetlike demokrasie sou daar nie fout gevind kan word met ‘n party se reg om so iets aan te pak nie, en sou die ANC se reaksie as heeltemal in stryd met demokrasie gewees het, veral teen die agtergrond van wat die vorige keer gebeur het.

Daar is egter soms ‘n groot verskil tussen ‘n reg en wat reg is. Is daar nie ‘n ander reg wat beter resultate gaan oplewer nie?

Dié kwessie het juis dikwels ter sprake gekom toe verskeie instansies, waaronder AfriForum, en talle individue vir Julius Malema in terme van grondwetlike bepalings vir haatspraak aangekla en gewen het. Die DA was een van die instansies wat die gelykheidshof se uitspraak gekritiseer het.

Moet die ANC se negatiewe reaksie op die optogte vantevore – byvoorbeeld in Nkandla – nie iewers in ‘n kulturele opvatting gesoek word nie? Uit die ANC se uitsprake – soos pas weer deur sy adjunkpresident Cyril Ramaphosa – is dit duidelik dat die voorvadergeeste nog ‘n enorme rol speel en lustig vir verkiesingsdoeleindes ingespan word. In die proses word stellings gemaak wat talle Christene as godslasterlik ervaar, met die vernaamste kerke wat die een ontstelde verklaring na die ander uitreik. Intussen gaan die regering voort om staatsgeld (deur Jan Taks ingesamel) in te span om voorvaderseremonies te finansier, soos om die voorvadergeeste van afgestorwenes in die buiteland te gaan haal en by Vryheidspark “los te laat.”

Hoe groot is die taboe dat die simboliek en besittings van die groot indoena nie deur openbare verset uitgedaag mag word nie?

Of dui die destydse Shell House-skietery op IVP-optoggangers, toe die ANC immers nog nie aan bewind was nie, dat die oorsaak van hierdie weerstand eerder in die rewolusionêre doktrine gevind moet word: Dat die rewolusionêre die volk verteenwoordig omdat dit die “mees progressiewe” mag is?

Of anders gestel: Die ANC probeer die illusie skep dat dit eintlik die enigste saakmakende mag in die land is. Die “werklike demokrasie” speel eintlik binne die ANC self af soos in ‘n eenparty-“demokrasie” en die opposisiepartye is weinig meer as lastighede wat ter wille van die grondwet maar net geduld hoef te word.

En voeg nog die rassekwessie daarby in… die ANC verteenwoordig eintlik die swart mense, en die DA wit belange met ‘n klompie “coconuts” om die “skyn” van swart verteenwoordiging te skep.

Teen dié agtergrond is optogte waaraan ‘n groot aantal mense deelneem, veral swart mense, nie baie aptytlik nie. ‘n Optog van daardie omvang gaan beslis TV-nuusdekking kry, en wat mense met hul eie oë sien gaan in baie gevalle nietighede maak van persepsies wat politici skep.  Omtrent al “teenvoeter” is om die optog te oorskadu – met ander woorde om nog meer (swart) mense te monster wat ‘n nog groter vertoning opsit om die DA-optog te oortref. En sommer ook bietjie krag te vertoon, wat uiteraard op geweld kan uitloop.

Net so belangrik as wat dit vir die ANC is om van die komende verkiesing weer, soos in die verlede, ‘n rassesensus te maak, is dit vir die DA om die persepsie te verbreek van ‘n wit party te wees.

Met die vorige algemene verkiesing kon die ANC nog daarin slaag om die kritiek wat uit opposisiegeledere aan die adres van pres. Jacob Zuma gerig is, te plooi dat dit as kritiek op swart mense, en veral swart mans ervaar is. Die gevolg was dat ‘n party soos Cope wat kort tevore nog na ‘n beduidende faktor gelyk het, skielik ook kiesers na die ANC gebloei het, en kleiner party omtrent leeggebloei het.

Vir die ANC, wat met taamlik leë hande die verkiesing aanpak (soos gemanifesteer in diensleweringsbetogings) is dit nodig om weer van die verkiesing ‘n rassesensus te maak. Maar dié keer is dit baie moeiliker om weer die persepsie te skep wat die ANC swart belange verteenwoordig, en die “res” eintlik wit belange.

Die redes hiervoor is nie so seer te vinde daarin dat die DA intussen verskeie swart leiers gebou en profiel gegee het nie. Dit hou eerder verband daarmee dat Zuma self binne die ANC ‘n verdelende faktor is. Benewens sy eindelose rits blapse, het hy ook ‘n stewige Zoeloefikasie deurgevoer, en word deur onder meer oud-president Thabo Mbeki van “tribalism” beskuldig. Dit bedreig swart kohesie waarvan Mbeki met sy (swart) Afrika renaissance die argitek was.

Verder gaan dit nie werk om Julius Malema as ‘n “coconut” te probeer skilder nie, en nog minder as ‘n agent vir kapitalistiese magte. Agang se impak op swart intellektuele is aansienlik. Dan is daar nog die gekombineerde impak van die UDM, Cope en ‘n rits partytjies in die Pan Afrikanistiese dampkring. Dit woel in die vakbondwese waar die ANC se verbintenis tot Zuma tot afvalligheid van die ANC lei, maar die kaarte nog nie klaar uitgedeel en gespeel is nie.

Die feit dat die land nou oor ‘n swart Openbare Beskermer beskik wat nie voor politieke druk swig nie, laat ook krake in die persepsie van die ANC se almag.

Luthuli-huis is in die hartjie van Gauteng waar die e-tolkwessie burgerlike verset ontlok, en Sanral se “administratiewe” lompheid en dreigende houding nie juis help om ontevredenheid te besweer nie. En die DA het juis sy oog op hierdie provinsie – hoewel ‘n onverwagse groot verskuiwing nodig is om dit met die hulp van opposisiepartye te vermag.

‘n Magsvertoon in die vorm van ‘n massa-optog wat persepsies verbreek dat die DA eintlik ‘n klein (wit) opposisieparty is, is dus baie belangrik. En dit is ‘n demokratiese reg. Trouens, minister Rob Davis het juis nou in Davos potensiële beleggers die versekering gegee dat selfs stakings nie uniek aan Suid-Afrika is nie.

Oor die vraag of daar nie ander maniere is om tot in die hart van kieserpersepsies te ruk wat dieselfde en selfs groter impak sal hê nie, kan hard gedebatteer word, maar tot iemand met so ‘n duidelike voorstel kom, is dit moeilik om ‘n doeltreffender manier in te dink.

Buitendien, as die DA sy deelnemers kan kry om vreedsaam te wees, is die onus op die ANC om sy ondersteuners so ver te kry om nie gewelddadig te raak nie.

Die onus is op die ANC om ander maniere te vind om nie in die oë van hul kiesers as swakkelinge te vertoon nie deur die DA se optog ongehinderd te laat plaasvind.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae