Nuuskommentaar: Geluk matrieks – maar kry ook perspektief

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Geluk aan die matrieks wat geslaag het. Nou moet met oop oë die toekoms ingegaan word om nie ashoop-ongevalle te word nie, want slaggate is daar baie.

Dit is te vroeg om die matriekuitslae in diepte te ontleed, en die departement van basiese onderwys het ook nog in sekere opsigte te gebrekkige inligting bekend gemaak om die ontledings te doen. Tog het kenners wat hulself al as betroubaar bewys het, verskeie waarskuwende uitlatings gemaak.

Van die belangrikste punte van kritiek is dat dit verkiesingsjaar is, en dat die departement daarvan verdink word dat die uitslae aangedik is. Voorts is die uitvalkoers van kinders wat vir graad een inskryf en uiteindelik nie matriek skryf nie,  te hoog.

Universiteite se toelatingsvereistes is verlaag, maar weens gebrekkige kapasiteit word slegs die beste kandidate toegelaat. Baie matrikulante se planne en verwagtinge sneuwel dus sommer gou nadat matriek geslaag is – dikwels na besonder harde werk onder bitter moeilike omstandighede.

Die onderwysdepartement rus ook nie die leerlinge behoorlik toe nie deur te min klem op lees met begrip te plaas.  Baie onderwysers is ook nie behoorlik toegerus vir hul taak nie.

Kommer is weer uitgespreek oor boeke wat nie betyds die leerlinge bereik nie.

Tog spog Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, met die “prestasies” en dat die regering ongetwyfeld verbeteringe aangebring het in onder meer die lewensgehalte van baie mense sedert die bewindsoorname in 1994. Dis natuurlik ’n futiele oefening om te spog terwyl dit nie moontlik is om so ’n ideologiese, en boonop grootliks gekaapte, regering uitgebuit deur haas enige vorm van korrupsie se prestasies te vergelyk met ’n hipotetiese alternatiewe regering wat meer tegnokraties gerig sou wees, en sorg dat korruptes by die oranje oorpak-brigade aansluit nie.

Solly Msimanga (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Een van die land se topkommentators, Barnard Beukman, redakteur van Beeld, wys daarop dat die DA se premierskandidaat vir Gauteng, Solly Msimanga, groot lof gehad het vir die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi. Barnard spaar nie die roede in sy kritiek hierop nie.

Die DA, as dit aan bewind kom, sou stellig ’n ander koers as die Lesufi-wardenke aanpak, maar Msimanga se uitspraak gaan nou genoeg kiesers wild maak om hul kruisies by die DA te trek.

Terwyl nog ’n ver pad te loop is om ’n groot deel van die onderwyskorps toegerus te kry om basiese onderwys goed toegerus te kan aanbied, is dit veel gevra om te verwag dat hulle toegerus sal wees om leerlinge so te onderrig dat hulle nie met sulke uiteenlopende denkwyses die grootmenswêreld ingaan nie. Die lot van pres. MT Steyn se standbeeld op die Kovsiekampus is maar een voorbeeld waar hierdie uiteenlopende perspektiewe die aandag aflei van behoorlike onderrig, en terselfdertyd die land ’n besonder moeilike land maak om te regeer.

Terwyl die minister spog oor vooruitgang, is dit tog onrusbarend dat die kritiek jaar na jaar basies dieselfde bly.

Die dag wat die onderwysstelsel deursuur na ’n meer doeltreffende regering, kan oor verbeterde onderwys gejuig word. Maar wat die publiek (kieser) sien en ervaar, is dat daar ’n yslike slaggat reg voor die ingang na ’n hospitaal is wat maar net jaar na jaar al groter word. Verskeie dorpe se drinkwater is erg besoedel deur rioolafval wat daarin beland.

Talle lande, ook in Afrika, se onderwysbegrotings is veel minder per leerling as dié van Suid-Afrika, maar presteer veel beter. Trouens, in verskeie provinsies loop verskeie projekte sommer gou in die jaar dood omdat die goedgekeurde begrote bedrae daarvoor net nie meer in hul oorspronklike begrotingsitems is nie – en dikwels ook nie sommer opspoorbaar is na waarheen dit “verskuif” is nie.

Dit is óf swak begrotingsbeplanning, óf daar het ongerymdhede plaasgevind. Dit frustreer goeie onderwysers wat hul beplanning deeglik gedoen en gemotiveer het.

Maroela Media wens graag die skole en leerlinge wat ondanks dié struikelblokke goed presteer het, baie geluk.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.