Nuuskommentaar: Het ons niks geleer, aanbeweeg oor rassisme?

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

Twee nuusitems spring vanoggend in die oog. In die een word Julius Malema aangehaal dat hy die naweek tydens ’n toespraak gesê het die meeste Indiërs is rassiste. In nog ’n berig word vermeld dat ’n vrou van ’n Kulula-vlug verwyder is nadat sy glo die k-woord in ’n selfoongesprek met ’n kennis gebruik het, verwysende na die vlieënier.

Op sosiale media, waar baie deelnemers na spore van ewehandige regsoptrede soek, word vuur gespoeg.

Kort tevore het die NWU-rektor eerder ’n storm aangeblaas as gekalmeer toe hy sy optrede teen die bekende kommentator, Theo Venter, probeer verduidelik het. Prof. Dan Kgwadi sê dit is onsensitief om die stelsel van apartheid of enigiets wat met apartheid verband hou, te vergelyk met dít wat tans in die demokrasie gebeur.

Kgwadi mag dit dalk nie so bedoel het nie, maar soos dit in die media staan meen hy selfs die slegste appel moet beter wees as selfs die beste van ’n ander bedeling. Zuma mag dus by verstek nie met byvoorbeeld dr. DF Malan vergelyk word nie, en Zuma kom die tweede beste daarvan af. Verskeie kenners wat op die insident gereageer het, ook swart mense, sê hulle kan niks rassisties in Venter se woorde vind nie. Lees gerus Jacob Rooi se omvattende artikel hieroor, wat ook prof. Jonathan Janse se beskouing oor spraak- en akademiese vryheid omvat.

Met die eerste raaksien van die Kulula- en Malema-berig is die impulsiewe reaksie dat seker al wat mense gaan laat afsien van hul kleinburgerlike rassistiese optrede is om hulle bykomend van onnoselheid aan te kla. Dit is soos die vrot appel onder ’n groep verantwoordelike landbouers, wat sleg met sy plaaswerkers werk. Terwyl die ander, en hul landbou-organisasies hard werk om gesindhede tussen boer en werker te normaliseer, kan een vrot appel die proses verongeluk en ’n plaasaanval genereer.

Die omvang van die ysberg onder die see is egter veel groter as wat dié enkele insidente te kenne gee. Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op die owerheid om homself te weerhou van optredes en houdings wat rassisme sal aanblaas. Grondonteiening sonder vergoeding tel hieronder.

Dit moet in gedagte gehou word dat daar ’n hele ruk ’n pynlike nasleep gaan wees van die Zuma-era. Zuma, wat tydens ’n spesiale veldtog teen rassisme, na wit mense in Suid-Afrika as “white supremacists” verwys het, wat wit mense volgens die bewoording voor die voet as gronddiewe uitgemaak het, wat met ’n swaard van kriminele vervolging oor sy kop loop, maar by verstek nie met die swakstes van die swak presidente die afgelope eeu vergelyk mag word nie – dit dra net by tot ’n klimaat waar mense hul frustrasies lomp sal bly oordra.

Volgens ’n rubriek van Tim du Plessis die naweek gaan pres. Cyril Ramaphosa oor die volgende tien dae twee rondtes van gesprekvoering hou met ’n wye spektrum Afrikaanssprekendes. Daar was met die onlangse toespraak van die president voor die Afrikanerbond se hoofraad, tydens die organisasie se eeufeesviering, ’n byna ongehoorde negatiewe reaksie van lesers. Die aanvalle was nie net teen die president en die ANC gemik nie, maar ook die AB. Mag die nuwe reeks samesprekings beter afloop en mag dit verder vorder as ’n paar vrolike foto’s van ’n president, ’n tjop en ’n bekende Afrikaner.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elred Ferreira

Dis heeltemal duidelik dat die Melting Pot idee vir die meeste mense nie werk nie.Ek gaan beslis nie my taal,kultuur,ordentlikheid en mentaliteit prysgee om by die Melting Pot in te pas nie….ek sal dit onder geen omstandighede doen nie.

Albaster

Vanoggend se gesprek op praat saam op RSG het die oorkokende pot baie goeid opgesom. Alle minderheidsgroepe is mo9eg verby en die reenboognasie gaan uitmekaarspat.

Deon

Dit is alles goed en wel om te skryf lees die artikels maar klik op die skakel en dan wil Netwerk24 toegang aan jou verkoop

George

Al wie ek nomineer as my verteenwoordiger is AfriForum en VF plus, geen ander afrikaner organisasie nie.

Frans C

Eintlik is dit maar niks anders as ‘n ANC-poging om op politieke vlak alle ras en kultuurverskille uit te wis,ten einde een reënboognasie daar te stel.Net so min as wat ‘n mens ‘n pot vol goud by die einde van ‘n reënboog gaan aantref gaan jy ‘n nasie wat deur kenners ‘n politieke struktuur beskou word,aantref by die Suid Afrikaanse ‘rainbow’. Jy kan eenvoudig nie ras en kultuurverskille wat oor eeue tot stand gekom het en tot die ontstaan van verskillende volke gelei het oornag uit wis nie.Doen jy dit onstaan weerstand en wrywing wat tot konflik lei al sê… Lees meer »