Nuuskommentaar: Is daar hoop vir vandag se beraad van hoop?

Gaste by die krisisberaad. Foto: Annelize Brits / Maroela Media

Gaste by die krisisberaad. Foto: Annelize Brits / Maroela Media

Die gedagte van “voel soos ’n vreemdeling in eie land” word al geruime tyd in die Suid-Afrikaanse politiek genoem, en dit was saam met ’n groot droogte, plaasmoorde en verskeie ander kwessies selfs een van die gebedsaspekte van ’n verootmoedigingsdag van een van die susterskerke.

Maar is dit so uniek aan Suid-Afrika se minderheidsgroepe?

Ongeveer honderd jaar gelede het ’n liberale premier van Nederland, Cort van der Linde, gesê ’n parlement moet die nasie in die kleine wees.

Nou, honderd jaar later, is daar skynbaar toenemend ’n gevoel dat dit nie in die praktyk gebeur nie. ’n Nuwe parlement is skaars verkies, of die publiek, of groot dele daarvan, voel daar is ’n enorme gaping tussen hulle en die mense wat verkies is om hulle te verteenwoordig.

Hierdie kwessie word in ’n omvattende artikel deur Ger de Groot in Trouw onder die loep geneem: De vraag om representitaviteit leidt tot de ondergang van de democratie.

’n Aspek wat De Groot sterk aanspreek, is die rol wat die kieser, eerder as die politikus, speel om hierdie toedrag van sake te bewerkstellig. Die meeste mense kies nie ’n verteenwoordiger wat soos hy lyk nie, maar in die meeste opsigte juis glad nie soos hy lyk nie. Hy verwys uiteraard nie na fisieke voorkoms nie.

Kort voor lank dui peilings daarop dat die meeste Amerikaanse kiesers meen ’n groep mense wat lukraak uit die telefoongids gekies word, sou beter vaar as die pas verkose Kongreslede. Of in Nederland, dat die posbode op die naaste hoek beter as die verkose politici sou vaar. Dit, terwyl daar verskeie onthullings was oor posbodes wat die pos wat aan hulle toevertrou is, gaan vernietig het eerder as om dit af te lewer.

As dit so in betreklik homogene lande gaan, hoe sal dit in Suid-Afrika gaan waar minderheidsgroepe hulle baie moeilik deur die demokratiese stemproses kan laat geld? Dis nie net by die Afrikaner waar dinge ’n kombers van mismoedigheid trek nie, maar ’n besoek aan oudpolitikus Peter Marais se Facebookblad bring ook aan die lig dat daar by baie bruin mense hoë frustrasievlakke is.

Die situasie word verder vertroebel deurdat dit duidelik is dat pres. Jacob Zuma en van sy kornuite geen benul het van wat die woorde “grondwetlike demokrasie” beteken nie. In plaas van ’n regering wat in algemene belang regeer, verstaan hulle ’n meerderheidsdiktatuur. Maroela Media het onlangs ’n nuuskommentaar, Zuma het g’n benul van demokrasie, onder die loep geneem.

Maar telkemale in die debat gaan die vinger terug na die kiesers wys wat soos een party dink en glo, maar nie net pragmaties vir ’n ander party stem nie. Hy is selfs bitterlik lojaal teenoor die party wat “heeltemal anders as hy self lyk”. Waarskynlik die “beste” voorbeeld het as bakkiesblad-kommentaar op Maroela Media beland – waar ’n leser die Bybel verdraai om te toon hoe sleg swartmense sou wees, maar in die volgende sin vra sy hoekom die witmense nie kan saamstaan en vir die DA stem nie. Dié inskrywing moes weens die haatspraak-deel daarin verwyder word.

Die voorbeeld was baie ekstreem, en ’n mens kan maar net hoop en bid dat hierdie vlak van politieke verdwaaldheid die uitsondering eerder as die reël is.

Dit vrywaar egter nie die politici van hul verantwoordelikheid nie. Die jong konserwatiewe Vlaamse filosoof en skrywer, Jelle Dehaen, stem saam dat kiesers van hulle moet laat hoor, en dat debat aangemoedig moet word. Die uitdruk van kritiese denke en die mens se fokus op sy eie selfstandigheid stroop egter die demokrasie van twee noodsaaklike elemente, nederigheid en gehoorsaamheid. (Die artikel is ongelukkig ’n geslote artikel in De Standaard wat net deur betalende lesers gelees kan word.)

Van nederigheid is daar in Suid-Afrika van kieserskant en van die politici se kant bitter min spore. Die bou van Nkandla en luukse vlugte getuig allermins van nederigheid. In die sosiale media dui die kritiek op die regering en die Zuma-bashing allermins op ’n element van nederigheid deur die outeurs. Heel dikwels blyk daar soveel onkunde uit hierdie geskrewe “juweeltjies” dat dit ’n mens laat dink aan die spreekwoord van gekke en dwase wat hul name op mure en glase skryf.

Ai, en vergelyk uitsprake van Zuma en sy kornuite met die ampsede wat hulle afgelê het. Van gehoorsaamheid aan die ampsede is daar bitter min tekens.

Verkeer die Afrikaner en ander minderheidsgroepe danksy, eerder as ten spyte van die Grondwet in ’n absoluut blootgestelde posisie – die slagoffers van die diktatuur van die meerderheid? Baie van hierdie vrae sal vandag antwoorde kry by die Solidariteit Beweging se krisisberaad wat by die Voortrekkermuseum plaasvind.

Die Grondwet is nié so wonderlik as wat baie dit maak nie, maar dit bied heelwat beweegruimte, al verg dit ongelukkig soms regsaksie.

Dit is sielkundig en sosiologies belangrik dat minderheidsgroepe weet hulle is nie maar net onherroeplik uitgelewer nie, maar iemand hanteer wel met groot kundigheid hul saak sodat hulle self die moue kan oprol, iets doen en die kop omhoog hou.

Ongelukkig is daar ook die derdekolonners wat hard probeer om dié kopoptellery verdag te maak deur dit met ’n kop-in-skaamte-sindroom te vervang. Sommige van hierdie kritici is erg ideologies bevooroordeeld en blind vir die werklikheid, ander leef in mikro-omgewings van waar hulle moontlike huishoudelike oplossings op die hele land probeer projekteer.

Uiteindelik is Dehaen se vermaning oor nederigheid uiters belangrik. Die Solidariteit Beweging pak vandag se verrigtinge in nederige afhanklikheid van God aan. En die leiers is volwasse en sal nie met ’n houding van meerderwaardigheid met die beraadproduk na die regering gaan nie.

Baie sterkte aan die beraadgangers. ’n Groot taak rus op jul skouers.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Sarie ·

Sterkte ook van my kant af. Mag julle genade vind om die regte besluite te neem. Ons vertrou op julle om hierdie krisis aan te pak.

Adriaan ·

Baie sterkte, ons ondersteun julle in G(g)ees en sien uit na nugter en helder denke en prakties uitvoetbare besluite.

Theo ·

Hierdie is n baie goeie begin. Mag ons vorentoe ook ander bekommerde Afrikaans sprekendes se hande vat, en help op die pad vorentoe. Seenwense vir almal van julle.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.