Nuuskommentaar: Kabaal oor vlieënde Guptas en vlieënde olifante

Foto: www.planespotters.net

Soos ‘n nimmereindigende sepie sleep die Gupta-sage voort.

Indien daar een ding duidelik is ná die veiligheidsgroepering van die kabinet se nuuskonferensie gister op die Sondag is dit dat niemand in die regering verantwoordelikheid gaan aanvaar nie, en dat die warm patat baie ver van pres. Jacob Zuma gehou gaan word.

Dat daar ook ‘n ongemak oor die situasie is, is duidelik. Daar het met die aanvang van die Gupta-sage baie gou skerp reaksie uit die drieparty-alliansie gekom oor onder meer die Waterklooflanding, en oor hoe maklik dit skynbaar is om amptenare die verkeerde ding te laat doen deur die “regte” name voor te hou – mense wat as vriende van die president beskou word.

Dit is lank nie meer nuus dat die Suid-Afrikaanse ministers hulself glad nie hou by internasionale konvensie en protokol vir verantwoordbaarheid nie. Eerder as die eerbare weg te volg van in die swaard te val, soos met die skoolboekkrisis, word goue sterretjies aan hulself uitgedeel en ingeplak (as die kladboek afgelewer is).

Hierdie lys is oneindig lank. Waar, byvoorbeeld is die reaksie van die minister na Rapport gister onthul het dat moegoe-munisipaliteite ruim uit belastingbetalersgeld skep om internasionale “erkennings” te koop om hulle vir hul “prestasies” te beloon?

So maklik word die skuld gepak op kaderontplooiing, en dan word dié ongrondwetlike beleid nog verdedig en bloot onderneem om die kwaliteit van die ontplooides te verbeter.

Met die Waterkloof-situasie word weer duidelik skuld afgepak op amptenare.

Dit is so dat die reg vereis dat ‘n amptenaar geen onwettige opdrag uitvoer nie. En dit is ook so dat dit ‘n bestuursvereiste is dat personeel ingelig word dat dit nie gedoen mag word nie. In die praktyk is dit egter makliker gesê as gedaan. Daar kan immers nie van ‘n amptenaar verwag word om ‘n ontplooide kader teen te gaan nie. Maar het die amptenaar toe die saak by ‘n bevoegde owerheid soos die Openbare Beskermer gaan aanmeld?

Maar ook hierdie opsie is nie baie aptytlik nie, want ten spyte van wetgewing om fluitjieblasers te beskerm is daar ook genoeg gevalle waar die fluitjieblasers tog onder enorme druk geplaas is.

Die Suid-Afrikaanse presedentereg maak selfs voorsiening daarvoor dat, sou fluitjieblasers by die regte owerhede nie die gewenste uitwerking hê nie, die pers genader kan word om sy deel as waghond vir die demokrasie te doen. Dit is veral goed gedemonstreer is die arbeidsappèlhofsaak van die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling en ander versus Tshishonga. Dié saak het die kop van minister Penuell Maduna laat rol. In hierdie saak het die naam van Enver Motala opgeduik, wat voorheen bekend was as Enver Dawood en wat sy naam verander het na hy aan 93 aanklagte van bedrog skuldig bevind is. Dit het later ‘n sterk instansie soos Solidariteit gekos om Motala / Dawood uit sirkulasie vir begunstigde kontrakte te haal.

Later moes AfriForum die fluitjieblaser in die voortslepende John Block-sage onder beskerming neem.

Kortom, in ‘n situasie van groot werkloosheid is dit makliker gesê as gedaan as om werklik die magtige masjien aan te durf en korrupsie – ook in die vorm van onwettige opdragte, teen te staan. Om dit nie te doen nie, beteken die gevaar bestaan dat die swyer die sondebok gemaak kan word.

Omdat die media hul bronne beskerm, is dit moeilik om te sê hoeveel van die Guptagate- en Nkandlagate-onthullings hul oorsprong het by amptenare wat dié weg volg om die ooglopende onlekkerhede op die lappe te bring. Die pogings om die Nkandlagate-sage toe te smeer, stuur ook ‘n duidelike boodskap uit dat ander belange as die land se beste belange sterk figureer in die wyse waarop sulke onthullings hanteer word.

Dié soort walgooiery en heksejagtery is nie net tot die hoogste gestoeltes beperk nie, en is soms onlogies. Hieronder tel die heksejagtery na ‘n laboratorium se bevinding dat tifoïde vir die watersterftes by Delmas verantwoordelik was, na dié bevinding na ‘n onafhanklike nuusmedium “uitgelek” het. Hoekom die poging om die uitslag geheim te hou? Dit was immers ooglopend in die beste belang van die gemeenskap om te weet aan watter gevare hulle blootgestel was.

Maar word die Guptagate-sage nou sommer ook die sondebok om die aandag van Nkandlagate af te lei?

Die rubriekskrywer, Zelda Jongbloed, skryf gister in Rapport dat die ANC reeds besluit het dat Zuma dié party se “gesig” vir aanstaande jaar se verkiesing sal wees. Sy wys daarop dat politieke ontleders meen dat Zuma in die ANC nog onaantasbaar is.

Dit is egter ook duidelik dat die ANC se ringkoppe voor min, indien enigiets, sal stuit om Zuma onaantasbaar te maak en te hou.

En dan die vraag: Het die Gupta-sage dalk soos manna uit die hemel gekom vir die ANC? Daar word immers hard gewerk om dié sage te gebruik om Nkandla uit die openbare oog te probeer hou, asook ander slepende kwessies soos die wapenskandaal. Word daar so ver gegaan om die Guptas en selfs ongeskonde diplomatieke betrekkinge met Indië op te offer ter wille van Zuma?

Uiteindelik is dit die vrye media wat hier ‘n belangrike rol gaan speel om die land se grondwetlike demokrasie te beskerm.

Hans Goslinga, gesoute politieke verslaggewer van Trouw, haal kort voor sy aftrede Thomas L. Friedman, rubriekskrywer van die New York Times aan wat die volgende advies aan (politieke) verslaggewers gegee het: “As jy ‘n vlieënde olifant sien, hou jou mond en maak aantekeninge.”

Hy het dit teen die aanhaal van “kitskenners” na ‘n nuwe, komplekse situasie opgeduik het; nie dat geswyg moet word nie.

As korrupsie vlieënde olifante is, lyk die Suid-Afrikaanse lugruim volgens die korrupsie-persepsie-indeks nou soos die donker wolk van ‘n sprinkaanswerm. Dit is elke burger se plig om dié plaag te bestry.

Maklik is dit nie, want vlieënde olifante vergeet nooit. Vra maar enigeen wat sy rug styf gemaak het… Dis nie ‘n stryd wat sonder ‘n Christelike vakbond soos Solidariteit aangepak kan word nie.

Selfs ‘n gevestigde grondwetlike demokrasie soos dié van die VSA kan erg deurloop onder persepsies dat die kiesers se belange nie ten beste gedien word nie. ‘n Amerikaanse peiling toon aan dat 45 persent van die respondente meen dat mense wat op ‘n lukrake manier uit die telefoongids gekies is, beter as kongreslede sal vaar as diegene wat nou as verkose verteenwoordigers in die stoel sit. Net 34 van die respondente het gevoel die kongreslede sal beter as lukraak aangewese mense vaar.

Die jongste, daaglikse Rasmussen-peiling lewer verskeie interessanthede oor die Amerikaanse politiek op.

Net agt persent van die respondente voel hul verkose kongreslede luister meer na hul kiesers as hul partyleiers. Dit is insiggewend omdat die VSA se kongreslede nie aan koukusbesluite van hul partye gebonde is soos hier nie. Tagtig persent van die respondente meen die kongreslede luister eerder vir partyleiers as na die kiesers.

Die gevolg is dat net 40 persent van die kiesers meen die verkiesings is regverdig teenoor die kiesers. Dit is 17 persent laer as kort voor die presidentsverkiesing einde verlede jaar.

As politici soos narre optree, lyk dit na ‘n sirkus, en ongelukkig is dit die demokrasie wat skade ly – nie noodwendig die narre nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae