Nuuskommentaar: Oë op Zimbabwe

Die oë van die wêreld is nou op Zimbabwe waar vandag na die stembus opgeruk word, maar die aandag is veral op die volgende vyf dae wanneer die uitslae afgewag gaan word.

Na die verkiesing van 2008 was daar geweld, en die wêreld hou asem op.

Verskeie berigte meld dat die jongste peilings daarop dui dat Morgan Tsvangirai en sy MDC loshande die kiesers se steun bo die despoot van die afgelope 33 jaar, Mugabe, geniet. ‘n Week gelede het berigte nog die syfers andersom gehad.

Mugabe het beloof die verkiesing vry en regverdig sal wees, en dat hy, sou hy die onderspit delf, sal “oorgee.” Dit is die taal van ‘n oorlog, nie ‘n vry en regverdige verkiesing en demokrasie nie.

Al meen die Suid-Afrikaanse regering, of eintlik maar die ANC met sy lang, historiese bande met Mugabe, dat die verkiesing vry en regverdig kan wees, is dit lank nie meer moontlik nie. Veral die uitsaaimedia is so deur die Mugabe-regime beheer en voorgeskryf dat daar van ‘n gelyke speelveld geen sprake kan wees nie. Mugabe is op Verslaggewers Sonder Grense se lys van media-roofdiere, en die land is 133ste op die persvryheidsindeks, veel swakker as Suid-Afrika se powere 52ste plek.

Die Bostonse Christian Science Monitor het ‘n omvattende artikel oor die verkiesing gepubliseer, maar die naam van sy korrespondent in Zimbabwe om veiligheidsredes geheim gehou. (In dié artikel is daar ook ‘n video waarin Mugabe van sy ergste gekhede kwytraak).

Tsvangirai, en selfs die meeste SAOG-lande, het probeer om die verkiesing uitgestel te kry om meer bepalings van die nuwe grondwet, wat die speelveld gelyker sou maak, te laat implementeer. Die verkiesing vind nou plaas met die gewapende magte stewig in die effektiewe beheer van Mugabe en die Zanu-PF, eerder as verbind tot die grondwet.

Die kieserlyste lyk opsigtelik gemanipuleer, en anders as wat die grondwet bepaal, kon die MDC eers vlak voor die verkiesing ‘n gedrukte kopie van die kieserslys bekom. Dit is dus onmoontlik om elektronies te probeer bepaal hoe goed of sleg die kieserslys is, maar met meer as ‘n 100 000 kiesers ouer as 100 jaar, lyk dit of selfs meer as ‘n miljoen oorledenes hul kruisies sal kan gaan trek – wat ruim ruimte bied vir verkiesingsknoeiery.

Wat die wêreld betref, sal Tsvangirai nie die verkiesing kan wen ten spyte van, en nie danksy die maatreëls wat in plek is nie.

Die verkiesing is vir Suid-Afrika om verskeie redes belangrik. As sake skeefloop, sal nog duisende Zimbabwiërs oor die landsgrense kom en nog verder druk op Suid-Afrika se skaars werkgeleenthede plaas, waar die jongste syfers daarop dui dat werkloosheid weer toegeneem het. Daar is groter druk op Suid-Afrika se hulpbronne, en by net te veel ernstige misdaad soos moorde, waaronder plaasmoorde, word Zimbabwiërs aangekeer.

Solank Mugabe aan bewind is, so lank sal beleggers met minder belangstelling na die streek loer, veral as Suid-Afrika homself nie duidelik van Mugabe distansieer nie. Uitlatings van Mugabe soos dat gay mense se koppe afgekap moet word, en dat Tsvangirai so lafhartig is soos sy oom se hond, gaan net nie goed af nie. Tsvangirai mag heelwat onvleiende eienskappe, veral rondom die vroulike geslag, hê, maar ‘n lafaard is hy nie. Hy is al in aanhouding erg aangerand, en het steeds die rol van Mugabe se grootste teenstander bly vertolk.

Hierteenoor mag Mugabe ingevolge wetgewing nie beledig word nie.

Westerse waarnemers is op Mugabe se aandrang verbied om die verkiesing te monitor, wat die geloofwaardigheid daarvan by die weste by verstek na die maan stuur.

Daar is egter ook ander redes oor hoekom Suid-Afrika se hantering van die Zimbabwiese situasie van belang is. Elke optrede van die regerende ANC teenoor Mugabe dien as projeksie van die ANC se eie verbintenis tot vry en regverdige verkiesings, die grondwetlike demokrasie en selfs begrip oor wat die term “demokrasie” inhou. En daar lyk sake nie so rooskleurig nie. Hoewel die ANC nou die mense van Zimbabwe ‘n suksesvolle verkiesing toegewens het skynbaar sonder om ‘n voorkeur te laat blyk, het die ANC enkele maande gelede nog sy steun aan Mugabe met die verkiesing toegesê. Die manier waarop Zuma se verkiesingsgesant, Lindiwe Zulu, die swye opgelê is na sy ook haar kommer oor die ongelyke speelveld uitgespreek het, het ook al die verkeerde boodskappe uitgestuur. Dit is veral kommerwekkend omdat dié swye gevolg het kort na Mugabe vir Lindiwe as gesant en as vrou erg beledig het. Zuma het lank die reputasie dat hy in Mugabe se hande bloot ‘n marionet is.

Dit is in die hele streek se belang dat die Mugabe-mdiamantkleptokrasie plek moet maak vir ‘n stabiele demokrasie en dat die land se ekonomiese potensiaal herontsluit word.

Of Grace egter vir Mugabe sal toestemming gee om “oor te gee” sou Tsvangirai en die MDC die pyp rook, is ‘n ope vraag. En dis twyfelagtig of die wêreld gretig sal wees om ‘n seëvierende Mugabe-geleide bewind weer as volwaardige internasionale rolspeler en beleggingsbestemming op te neem sonder die matigende invloed van Tsvangirai as eerste minister, en van Tsvangirai se mense as van die meer effektiewe ministers. Mugabe het dit immers duidelik gemaak dat hy nie kan wag om uit hierdie gedwonge politieke huwelik te tree nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae