Nuuskommentaar: Onderwyskwantiteit versus kwaliteit

skool 2Dit is baie duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering nie sonder regsaksie ‘n onafhanklike oudit na die kwaliteit van die matriekeksamen sal laat loods nie. Dat die verbeterde uitslae in ‘n verkiesingsjaar kom, wek nog meer wantroue, gerugsteun deur die nuus dat selfs van die land se voorste matriekpresteerders, met ritse onderskeidings, nie Wits se toelatingseksamen kon slaag nie.

Die jongste onderwysverslag  wat deur onafhanklike kundiges vir Unesco opgestel is, werk ook nie baie sagkens met Suid-Afrika nie, maar loof tog talle inisiatiewe om die kwaliteit van onderrig te verbeter. Die verwysings na Suid-Afrika skep ‘n geheelbeeld van toegewyde onderwysers en onderwyskundiges aan die een kant teenoor politici en leerkragte in die greep van ‘n vakbond wat doodeenvoudig nie die belange van enigeen behalwe leerkragte se sakke in ‘n luilekker omgewing op die hart dra nie aan die ander kant. Die verslag is daarom ‘n mengsel van mooi dinge wat in Suid-Afrika gedoen word, maar prestasies wat ver agterweë bly weens die loodswaaiers.

Dit is ‘n lywige verslag van 477 bladsye wat onderwys wêreldwyd onder die loep neem, en Suid-Afrika is dus maar een van byna 200 lande wat onder die loep geneem word. Meestal word Suid-Afrika bloot saam met die Afrikalande suid van die Sahara gegroepeer, maar wanneer die land uitgesonder word, is dit hoofsaaklik om negatiewe punte uit te lig.

So word opgemerk dat Suid-Afrika se wiskundige geletterdheid by adolessente by dié van Ghana afsteek, al is Suid-Afrika drie keer so welvarend. Ook Botswana vaar beter, maar word daaraan toegeskryf dat die inkomstegaping in die buurland nie so groot is soos dié van Suid-Afrika nie, omdat die navorsers glo daar is ‘n regstreekse verband tussen armoede en gebrekkige wiskundige geletterdheid. Suid-Afrika se vlakke van wiskundige geletterdheid vergelyk met die armste lande wat die swakste vaar, terwyl Botswana s’n vergelyk met gemiddeld van die hoër middelklas-inkomstegroep. Die verslag wys ook uit dat leerlinge se wiskunde aansienlik verbeter het in skole in Johannesburg waar mentors ingespan word.

Suid-Afrika word saam met Sri Lanka uitgesonder as lande waar geglo word meer onderwysers beteken beter onderrig, in teenstelling met Kenia waar baie aandag geskenk word aan die indiensopleiding van leerkragte om te verseker dat die onderrig wat gegee word, van hoë gehalte is.

Afstandonderrig in Suid-Afrika word bemoeilik omdat die opname toon dat net een persent van die leerkragte gereelde toegang tot die internet het (maar die verre meerderheid het selfone). Papiergedrewe afstandonderrig moet dus ingespan word, wat aangevul word deur teksboodskappe.

Die verslag meld ook dat dit belangrik is dat jonger leerders nie net behoorlike toegang tot studiemateriaal moet hê nie, maar dat dit ook in tale beskikbaar moet wees waarmee die leerlinge vertroud is. Suid-Afrika word geloof vir die ontwikkeling van studiemateriaal in verskeie tale, en die verwagtinge is dat dit tot verbeterde uitslae sal lei.

Suid-Afrika word ook geloof vir die geleenthede wat leerlinge kry om eerstehands kennis te maak met herwinningsaksies, alternatiewe maniere om kos gaar te maak en omgewingsbewaring, en dit suurdeeg deur na die kinders se huishoudings.

Die verslag meen oor dat Suid-Afrika teen 2015 die vlak sal bereik waar 80% van die kinders van skoolgaande ouderdom wel skoolonderrig sal ontvang.

Suid-Afrika word as een van die lande beskou wat teen 2015 nog ver daarvan gaan wees om ‘n volwasse geletterdheidsyfer van 95% te hê. Dit is ‘n posisie wat hy onder meer met Gaboen en Botswana deel.

Leerlinge in Suid-Afrika verloor tot 10 skooldae per jaar, of sowat 5% van hul onderrigtyd, weens stakings. Veral die armer skole word swaarder deur vakbondbedrywighede van hul onderwysers geraak, omdat vakbondvergaderings in die swart woongebiede gewoonlik in skooltyd plaasvind.

Die verslag meld dat daar ‘n verband is tussen die vakkennis van ‘n onderwyser en hoe sy leerlinge vaar. In Oos- en Suidelike Afrika is onderwysers dieselfde vraestelle gegee om te beantwoord as hul graad 6-leerders. Die verslag meld nie hoe die leerkragte gevaar het nie, maar het wel uitgewys dat leerkragte wat 100 punte beter gevaar het, se leerders gemiddeld 36 punte beter gevaar het.

Met die ontleding van video-opnames van laerskoolklasse in Botswana en Noordwes is vasgestel dat die meeste onderwysers nie oor die vermoë beskik om hul leerlinge te help om die studiemateriaal baas te raak nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae