Nuuskommentaar: Politici wat lieg en die media

waarheidDie kwessie van die geloofwaardigheid van die media en politici is weer skerp in die kollig sedert pres. Donald Trump en sommige lede van die media haaks geraak het, en sy styl daardie joernaliste weer nie aanstaan nie. Dit alles geskied in die era van die post-waarheid, en terwyl fopnuus die lewe vir joernaliste moeilik maak. Maar is die leser altyd so onskuldig aan die produk wat hy kry en hom nie aanstaan nie?

As pres. Donald Trump een ding reggekry het, is dit dat die media se geloofwaardigheid uit elke hoek en draai ontleed en gemeet word. Baie faktore speel hierin ’n rol, soos die opkoms van populisme, die era van die post-waarheid en die inspan van fopnuus.

Twee Nederlandse filosowe, Robin van den Akker en Paul Teule, het in ’n vaktydskrif, Het Filosofisch Elftal, die kwessie onder die loep geneem, en Trouw het daaroor berig.

Veral die media se rol in die politiek kom onder die loep. Oor sekere aspekte verskil die twee lynreg.

’n Deel van die probleem is dat een stroming wil sien dat die media “terug na sy wortels” moet gaan. Die werklikheid, argumenteer die ander stroming, is dat die media juis dateer uit ’n tyd toe dit as instrumente van politieke partye in die lewe geroep is. Om terug te keer na die wortels sal dus nie objektiwiteit en onverbondenheid in die hand te werk nie. Wie sal vergeet hoe ’n koerant destyds foto’s van die nommerplate van die motors by ’n kongres van die party wat die koerant gesteun het, publiseer en spog hoe mense van wyd en syd opgedaag het. Met die kongres van ’n ander party word ook sulke foto’s geneem en gepubliseer, met die byskrif hoe die party mense van ver moes laat kom om die saal vol te kry.

Van den Akker meen dit is nie voldoende dat die media net van feite seker maak en bloot die feite oordra nie. Die media moet ook standpunt inneem om mense aan die dink te sit.

Teule slaan die spyker op die kop met sy stelling dat dit toenemend lyk of politici met leuens probeer wegkom. Dit is die media se taak om as waghond die leuens aan die kaak te stel, en die kake in te slaan op politici wat kluitjies bak. Hulle moet ook die werkbaarheid van beleid toets.

Op die oog af lyk dit inderdaad of die wêreld nou in ’n era inbeweeg het waar liegende politici dit “maak” en bo uitkom. Ons sien byvoorbeeld toenemend dat die media skryf dat pres. Jacob Zuma nie baie koersvas met die waarheid omgaan nie – soms word so ’n stelling gemotiveer, maar ook nie eens meer altyd nie. Die betrokke skrywer meen eenvoudig dat dit reeds algemene kennis is.

Met Trump in dit nie veel anders nie. Sommige media beskuldig hom deurgaans van leuens, en hy kap in eie munt terug.

Hoewel pres. Wladimir Poetin van Rusland nie so deurlopend as leuenaar uitgemaak word nie, is dit ook duidelik dat ’n groot deel van die media kennis neem dat die Russiese propagandadienste wêreldwyd berug is vir die verspreiding van fopnuus, en dat Poetin dikwels nie daarvan kan wegstaan nie. ’n Baie onlangse voorbeeld is Montenegro se beskuldiging dat Rusland in Oktober verlede jaar agter ’n mislukte staatsgreeppoging in dié land gesit het. Die gevolgtrekking is gemaak na ’n deeglike studie. Rusland ontken dit, maar in die lig van talle ander voorbeelde van hoe Rusland sy invloedsfeer in die Balkan probeer uitbrei, glo min mense die ontkenning.

Met die opkoms van populisme is die net wat voorkom het dat mense met bisarre idees en opvattings dit in die politiek ver kan bring nou ook vol gate. Al meer bevind mense wat aan allerlei samesweringsteorieë en ontkennings glo, hulle in invloedryke posisies. In die VSA is daar groot kommer in wetenskaplike kringe oor Trump se houding oor klimaatsverandering, wat hy in ’n stadium ’n “hoax” genoem het.

Optogte word gehou waartydens ook die draak met Trump gesteek word, data word van rekenaars afgelaai en elders gestoor vir ingeval dit later van elders herwin moet word, en vele meer.

Van die opvattings is so vreemd dat dit leen tot ’n spottery. So is onlangs “berig” dat die nuwe Amerikaanse minister van onderwys, Betsy DeVos, opdrag gegee het dat alle skole hul aardbolle moet plat druk omdat die aarde plat sou wees.

In Suid-Afrika is die voormalige hoof van Eskom, Brian Molefe, te midde van groot omstredenheid as ANC-LP ingehuldig. Hoewel hy ontken dat hy by die staatskaping betrokke is soos die vorige openbare beskermer in haar verslag suggereer, en sy verweer dat hy gereeld ’n sjebeen naby die Guptas se woning opgesoek het, en dat dit sy selfoonrekords in die omgewing verklaar, maak dit die stof vir vele spottery uit.

In die media word reeds kamma na die sjebeen in die omgewing van die parlement gesoek. Kortom, Molefe sal baie hard moet werk om deur die media as geloofwaardig beskou te word.

Die feit dat soveel mense nou samesweringsteorieë en ontkennings aanhang maak sake ook nie vir ’n joernalis of analis makliker nie. In leserskommentare word die analis, ongeag hoe goed hy sy navorsing uit betroubare bronne gedoen het, en ongeag hoe gesaghebbend sy klankbordpaneel is, sommer maklik op een dag deur lesers in hulle kommentare van erg links na uiters regs rondgeskuif. Oor presies dieselfde stuk. Soms word selfs verder gegaan as om die joernalis te kritiseer, en sommer die wetenskap self op sterkte van ’n artikel gebaseer op ’n vakjoernaal-artikel wat die portuuroorsig deurstaan het as “snert” af te maak.

Of om die analis wat hom weke lank deur navorsing en onderhoude in ’n onderwerp ingegrawe het, van meerderwaardigheid en aanmatigendheid te beskuldig.

Van den Akker en Teule na wie hierbo verwys is, is dit eens dat die media professioneel en onafhanklik, of onverbonde, moet wees. Dit klink maklik, maar dit is nie so nie. Dra die media ’n berig oor bruikbare DNS wat in die versteende gebeentes van ’n dinosourus gevind het wat meer as 200 miljoen jaar oud is, is daar byna seker ’n storm omdat sommige lesers meen die aarde is 6 000 jaar oud. Binne die wetenskaplike wêreld is ook ’n warm debat omdat baie meen die oorleefbaarheid van DNS is nog net tot 80 miljoen jaar oud voldoende bewys.

As ’n publikasie voortdurend sekere onderwerpe moet vermy weens die onsmaaklike reaksie van sekere lesers, word die publikasie in wese tot sensuur gedwing. Ander lesers wat graag daardie nuus sou wou lees, word sodoende van hul voorkeurnuus beroof. En wat is dan die verskil met sekere media wat weens politieke oorwegings of opdragte min of geen aandag aan plaasaanvalle skenk?

’n Goeie analis sal by sy feite en gevolgtrekkings uitkom op sterkte van goeie navorsing van goeie en betroubare bronne. Hy kom nie tot ’n gevolgtrekking om lesers die harnas in te jaag nie, en ’n goeie analis sal ook nie tot gevolgtrekkings kom op sterkte van wat hy meen die lesers sal van hou nie. Dus sal sy gevolgtrekkings soms na “links” neig, en soms na “regs”, solank dit objektief en onverbonde is, met soms prikkelende gedagtes.

Hy sal daarom ook kritiek verwag, maar ongefundeerde vitrioel is nie die eienskap van ’n opgevoede persoon nie.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Henry ·

Jarrrre se lees en luister het geleer dat die oomblik wanneer ‘n politikus se lippe beweeg en/of berigte oor politiekverwante aangeleenthede deur die media gerapporteer word, die grootste mate van skeptisisme die oorhand by die ontvanger moet ontvang.

Tot tyd en wyl die ontvanger – indien hy/sy voldoende belangstelling in die onderwerp sou hê – verskeie ander bronne geraadpleeg het om tussen perde kluite en vye te onderskei, moet daar katvoet geloop word, om kuitspiere op ‘n knop te trek.
Of te wat ookal…

Therese van Schalkwyk ·

Maroela het gelukkig streng bepalings en voorwaardes en laat beslis nie “ongefundeerde vitrioel” toe nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.