Nuuskommentaar: Wetenskap onder druk – druk terug

Betogers in Switserland. Foto: Martial Trezzini/Keystone via AP

Wetenskaplikes ervaar die afgelope paar dekades weer toenemende kritiek vanuit verskillende oorde, tot so ’n mate dat wetenskaplikes van oor die hele wêreld hulle nou tot optogte wend. Dit is ’n komplekse situasie en die presidentskap van Donald Trump het grootliks daartoe aanleiding gegee dat dit nou in die aktivistiese fase is.

Al is die mensdom besonder afhanklik van die wetenskap, soos wanneer hulle hul slimfone, rekenaars en internet, hul motors en medisyne gebruik, vind wetenskaplikes van oor die wêreld toenemend dat die wetenskap by baie onder druk kom. Druk wat nou van die nuwe Amerikaanse regering ervaar word, het wetenskaplikes in 500 stede dwarsoor die wêreld in optogte na die strate gedryf.

Hoewel daar ook ’n “kerklike” element teenwoordig is, verskil die kritiek nou van die dae van Galileo dat dit in hoofsaak van sektorale sekulêre groepe en nie “die kerk” kom nie.

Vir baie wetenskaplikes is die toetrede tot die veld van politieke aktivisme traumaties. Baie het hul lewe lank wye draaie om politiek geloop sodat hulle hul wetenskap op ’n objektiewe, wetenskaplike manier kan bedryf. Maar die politiek het die afgelope paar dekades toenemend die wetenskap onder druk begin plaas.

Suid-Afrikaners het enkele jare gelede self die ervaring gehad, en eintlik die vernedering beleef van ’n president (Thabo Mbeki) wat sy ore vir Vigs-ontkenners uitgeleen het, wat in wese ontken het dat Vigs deur MIV veroorsaak word. Die probleem is deur allerlei konkoksies aangespreek, en dr. Manto Tshabalala Msimang, die minister van gesondheid, het as dr. Knoffel bekend gestaan. Dit het ’n hofsaak geverg om die regering te dwing om die probleem op wetenskaplike wyse aan te spreek.

Die kritiek op die wetenskap is nie eenvormig nie. Die vernaamste rytuig om die wetenskap onder druk te plaas, is die kwessie van klimaatsverandering. Dit het ’n politieke kwessie geword toe die voormalige Demokratiese Amerikaanse vise-president, Al Gore, ’n sterk veldtog hieroor begin loods het. Dit het Republikeine en Demokrate in verskillende kampe hieroor gejaag. Republikeine wat geglo het die klimaat word deur menslike aktiwiteite beïnvloed, het van standpunt verander en ontkenners geword, en omgekeerd. Die Trump-administrasie se groter simpatie vir die ontkenners is dus nie heeltemal ’n verrassing nie.

Ook die enorme vordering wat met die genetiese aanpassing van gewasse gemaak word, kry teenkanting wat dikwels ’n politieke kleur aan het.

Die Christian Science Monitor, wat deur die godsdienstige groep bekend as Christian Science bedryf word en die konvensionele wetenskap ondersteun, lys verskeie aspekte van die wetenskap wat as’t ware deur groepe uitgesoek word, en dan deur daardie groepe onder druk geplaas word.

’n Verskynsel waarvan Suid-Afrikaanse wetenskaplikes ook al ervaring het, is mense wat bloot die hele wetenskap as “gemors” beskryf, en sê hulle wil daarmee niks te doen hê nie (maar wetenskaplike produkte soos hul rekenaars en internet gebruik om die boodskap mee oor te dra).

Aan die ander kant is daar mense wat aan terminale siektes ly en ’n hoopvolle oog op die wetenskap werp om met nuwe uitvindsels vorendag te kom wat aan hulle hoop kan bied. Talle dokters verklaar dat hulle bloot instrumente van God is, maar dat net God genees.

Intussen het Suid-Afrikaners onlangs weer die impak van genetiese modifikasie beleef toe die land deur die herfskommandowurm geteister is. Van die mielie-oeste is gewasse wat geneties aangepas is om die wurm wat hom aanval te laat vrek. Hongersnood op aarde sou veel erger gewees het as verskeie gewasse nie aangepas is om selfs taamlike kwaai droogtes te oorleef nie.

Die eerste optogte is 22 April op Aardedag gehou, terwyl die ander later volg. Tipies wetenskaplikes is die optogte nie bloot oproerige byeenkomste met plakkate nie. Onder die stappe is om stalletjies op te rig waar die publiek met verskillende aspekte van die wetenskap vertroud gemaak kan word. Lesings deur deskundiges word ook aangebied, trouens, ’n omvattende program word vir die hele dag aangebied. Tog word gevoel die optogte is ook nodig. Sommiges vrees dat die optogte die wetenskap nog verder aan kritiek sal blootstel, maar ander wetenskaplikes meen dat die kritiek reeds daar is, en in eie munt aangespreek moet word.

Wetenskaplikes is onder meer ontsteld omdat kritici van die wetenskap nie die hoë standaard van portuuroorsig besef nie, en dit dan ligtelik afmaak. Hierteenoor word die werk van kwakke wat aan geen portuuroorsig onderwerp was nie, dikwels as “wetenskaplike ontdekkings” getooi en in die nuusmedia versprei. Fiktiewe stories wat niks anders as fopnuus is nie, word dikwels jare lank kort-kort as nuwe ontdekkings versprei, soos die onlangse “berig” dat die geraamtes en strydwaens van Farao se mag wat die Israeliete agternagesit het, onder in die Rooi See ontdek is.

Die wetenskap is soms baie moeilik toeganklik vir die leek. Dwarsoor die wêreld is daar wetenskapsjoernaliste wat ’n kundigheid ontwikkel om ingewikkelde wetenskaplike artikels in eenvoudige taal te herskryf sodat die leek dit ook kan verstaan. Ongelukkig tree daar ook dikwels foute in, maar dit verskaf tog ’n broodnodige prentjie aan die publiek van wat aangaan – van byvoorbeeld groot asteroïde wat in ruimteterme by die aarde verbygeskuur het tot nuwe ontdekkings oor outisme. Van merkwaardige argeologiese ontdekkings in die Amasone tot bewerings dat mense in die Andes al 4 000 jaar gelede oor die tegnologiese vermoë beskik het om blou jeans te maak. Van nuwe mediese deurbrake tot ruimtereise tot anderkant Pluto, en vele meer.

Oor die versoenbaarheid van die wetenskap en die Bybel word bloot kortliks verwys na ’n artikel van emeritus ds. Fanie Coetsee in Die Kerkblad, waarin hy na die twee openbaringwyses van God verwys: die Skrif en die natuur/wetenskap. Oor hoe die twee met mekaar in verband gebring moet word, verskil teoloë en kerkvaders reeds sedert Augustinus.

Maar met die natuur as God se skepping en handewerk behoort daar minstens uit die geledere van Christene nie so ’n blinde veroordeling daarvan te wees nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

snoefie ·

wetenskap (hie hie hie) us n teken van kolonialisme. melj dit vir wat jy kan, dan stenig jy dit. gr8 stuff…

Willem ·

So, christene “behoort” nie ‘n probleem te hê met die wetenskap nie, maar tog weier soveel christene om evolusie te aanvaar?

Johan Neuteman ·

Mens moet ‘n baie sterk geloof hê om ewolusie, wat uit stringe teorie en veronderstellings saamgeflans is, te wil glo.

Willem ·

Johan,

Weet jy wat beteken “teorie” in die wetenskap? Verder, hoekom kom “enlighten” jy ons nie oor jou harde bewyse vir hierdie veronderstellings nie?

Arie ·

Wetenskaplikes is eintlik gewone mense wat maar uit belangstelling die oorsaak en gevolge be studeer het.
Hulle het rekenkunde bestudeer en verfyn tot n baie hoë vlak, sodat hulle selfs
met n baie hoër mate van sekerheid uitkomste kan voorspel wat nie met gewone rekenkunde bewys kan word nie.
Hierdie is nie die werk van enkelinge nie maar die gesamentlik maar onafhanklike waarneminge en logiese gevolgtrekkings van der miljoene mense versprei oor die hele aarde, oor die eeue heen.
As voorbereiding wil ek die volgende stel: Wanneer ek by n toe deur (ongesluit) aan kom en verder wil beweeg kan ek een can twee aksie neem. Ek kan die deur gewoon probeer oops toot, wat in meeste gevalle nie moontlik is nie of ek kan oorsaak en gevolg dink. As ek nou die punt van n gewone handvatsel na be need sou druk en DAN die deur probeer oopmaak sal ek normaal weg dit regkry (dit is nou as een of ander “slim” figure nie n ek sterner be lemme ring aan gebring het nie) om die deur oop te kry en voort te stap.
Dit is n baie vereenvoudigde voorbereiding van oorsaak en gevolg beredenering soos wetenskaplike dit doen.
Alleen persone wat nie akademise verder as skool vlak gestudeer het, sal hierdie stelling wil probeer verkeerd bewys.
Die “wetenskap” gaan baie dieper in op menslike aktiwiteite as net dit.
Moenie wetenskap en be-oefenaars afskrif as gemors nie. Jy beduie alleen maar jou on kind so.

My siening ·

Die massas is verslaaf aan sport, games en TV, en spandeer al hulle tyd daaraan. Hulle ken sepie en sporthelde se persoonlike detail maar kan nie eers die basiese elemente van die periodieke tabel identifiseer nie. Daarom glo hulle enige nonsens wat joernaliste, sluwe verkoopsmense (dink verslankingsprodukte, skoonheidswonders uit die dooie see) en politici aan hulle vertel.

Willem ·

Presies

My hoop is my kind ken die name van bekende wetenskaplikes, en nie name van rugbyspelers of die Kardashians nie

Reinhardt ·

100%. Ek was ook verslaaf aan rugby kyk, movies kyk en games speel. Nou neem ek self deel aan sport, kyk dokumentêre flieks en.. wel ek moet bieg ek speel nogsteeds games haha. Maar my punt is ekt myself verlos van daardie nonsens, my oë het oopgegaan en ek sien nou die wêreld vir wat dit is. Ek kon nog nooit verstaan hoekom dit cool is om celebrities te ken, maar nie om te weet wie die eerste persoon was wat calculus uitgedink het nie.

Ramkat ·

Baie Christene se kennis van evolusie stop by die stelling dat die mens van die ape afstam terwyl die Bybel tog duidelik leer dat die mens na die ewebeeld van God geskep is.
ERGO: God =Aap en daarom is evolusie verwerplik. Die bostaande stelling is duidelik onwaar.
Verwerpers van die evolusieleer het in die algemeen nie hulle verstandjies diep genoeg aangewend nie.
Hulle glo dat hulle na die fisiese ewebeeld van God geskep is. Duidelik kan dit nie waar wees nie want ca 50% van die wereld bevolking is vrou like en as sulks duidelik verskillende van mans. Ape toon wel dieselfde verskille. Na wie se ewebeeld word hier verwys?
Is die mens (as skepping na die beeld van God) nie meer as net die vleeslike nie.
Die mens het die vermoeë om te dink, te redeneer en te praat – watter dier kan dit bewustelik doen? Is dit dan nie die beeld van God waarna verwys word nie. Hier kom die geslag van die mens nie tog ter sprake nie en is alle mense na die beeld van God geskape.
Waar kom evolusie “Aap na Mens” nou in, behalwe dat daar miljoene der miljoene jare gelede DALK n gemeenskaplike voorgeslag was, (wat nie n identifiseer bare Aap was nie) waaruit ape enersyds en die mens andersyds ontwikkel het.

Kop in byenes ·

Een ding wat my mal frustreer is dat sommige mense op sosiale media hierdie “meme”-tipe goed oor wetenskap versprei (inentings wat outisme veroorsaak, dagga as ‘n volle kuur vir kanker, 95% van ongesteldhede hul oorsprong in ongesonde denkwyses het). Ten beste bevat meeste van hierdie goed ‘n kombinasie van halwe waarhede, selektiewe aanhaling van inligting, verdraaing van inligting of aanhaling van studies wat al lankal verkeerd bewys is, maar meermale is dit net totale strooi. Ek sal baie beter voel as mense ten minste die moeite doen om hierdie goed te double check en nie net enige sensasionele ding te glo wat aan mens opgedis word nie. Asb…double-check tog net…die internet is DIE een plek waar jy dinge met ‘n knippie sout moet neem.

Kom Ons Boks ·

Wetenskap is hier om te bly, maar dit evoleer maar ook tog namate ons meer verstaan as wat vandag se wetenskaplikes verstaan. Al wat ek weet is dat wetenskap nie meer wetenskap genoem kan word as dit nie bevraagteken mag word nie – dan is dit propaganda en kan dit nie evoleer nie soos wat dit moet nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.