Pasop vir liefdesdiewe dié Valentynsdag

Argieffoto (Foto: Pixabay)

In ʼn wêreld wat gons van tegnologie bied aanlyn afspraakplatforms ʼn gerieflike platform vir enigiemand wat liefde wil vind. Dieselfde tegnologie wat mense bymekaar bring, bied egter ook die geleentheid vir swendelaars wat kwesbare harte wil uitbuit. Bewapen jouself, en jou hart, met kennis om jou emosionele welstand en finansiële bates te beskerm.

Bedrieërs gebruik romantiese swendelary om individue emosioneel en finansieel uit te buit, wat dikwels hartverskeurende gevolge tot gevolg het.

Om jouself teen hierdie soort slenters te beskerm is dit noodsaaklik om versigtig te wees en waaksaam te bly. Hier is vyf wenke om jou te help om dadelik snuf in die neus te kry en swendelary uit te ken.

  1. Te goed om waar te wees

Pasop vir profiele wat te perfek lyk of presies by jou drome pas. Swendelaars skep dikwels ʼn aanloklike persona om slagoffers te lok. Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) het gewaarsku dat romantiese swendelaars dikwels so ver gaan as om profiele te skep wat ooreenstem met die vereistes van die mense wat geteiken word om vinnig vertroue tussen hulself en die niksvermoedende slagoffers te bou.

  1. Vinnige eskalasie

Wees versigtig as die verhouding te vinnig beweeg, met liefdesbelydenisse of beloftes van ʼn toekoms binne ʼn kort tydjie. Swendelaars poog om vinnig vertroue te vestig en gebruik hierdie vertroue om slagoffers te mislei om vir hulle geld of vertroulike inligting te gee wat swendelaars dan gebruik om ʼn slagoffer se geld te steel.

  1. Doen deeglike navorsing

Voordat jy jou tot ʼn aanlyn verhouding verbind, neem die tyd om die identiteit van die persoon met wie jy in interaksie is te verifieer. Soek die persoon se naam, foto’s of enige ander inligting wat hulle verskaf om te sien of dit ooreenstem of met enige verslae wat mwt bedrog geassosieer word.

  1. Bewaar jou persoonlike inligting

Moet nooit sensitiewe inligting, soos jou adres, finansiële besonderhede, ID-nommer of paspoortnommer deel met iemand wat jy aanlyn ontmoet het nie. Swendelaars kan hierdie inligting gebruik om identiteitsdiefstal te pleeg of om ongemagtigde toegang tot jou rekeninge te verkry. Swendelaars gebruik dan jou persoonlike inligting om jou na te doen en toegang tot jou bankrekeninge te kry en jou swaarverdiende geld te steel.

  1. Gebruik veilige platforms

Vermy die verskuiwing van jou gesprek met ʼn potensiële vryer na ʼn private boodskapplatform. Hou liewer by betroubare en wettige aanlyn afspraakwebwerwe of sosialemediaplatforms wat gebruikersveiligheid prioritiseer. Hierdie platforms het dikwels sekuriteitsmaatreëls of hulplyne om verdagte profiele te monitor en te verwyder.

Deur ingelig te bly en hierdie voorkomende maatreëls te gebruik kan jy die risiko aansienlik verminder om die slagoffer van swendelary te word. Onthou, swendelaars maak jag op kwesbaarheid, emosies en vertroue, daarom is dit belangrik om jou eie veiligheid te prioritiseer en waaksaam te bly in die aanlyn wêreld. Moenie dat jou soektog na liefde jou duur kos hiérdie Valentynsdag nie.

Bykomende bronne: SABRIC, FSCA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.