Plunderaars dra argeologiese skatte weg

‘n Opname onder 14 000 argeoloë wat wêreldwyd veldwerk doen, het aan die lig gebring dat plunderaars nie net tot die ou dae en antieke Egiptiese grafkelders beperk was nie.

Altesaam 2 358 argeoloë het op die vraelys van prof. Blythe Bowman Proulx van die Virginia Commonwealth University reageer. In 87% van die 118 lande waarvandaan argeoloë reageer het, is grafkelders geplunder. Hiervan het byna 80% aangedui dat hulle eerstehandse ervaring van plunderaars gehad het.

Soms moet erkende instellings dokumente of artefakte op die swart mark aanskaf om dit op die regte manier te bewaar en bestudeer. Die  Nasionale Biblioteek in Israel het verlede maand 29 dokumente aangeskaf wat deur Jode, wat in Afganistan gewoon het terwyl dit deel van die Persiese Ryk was, in grotte agtergelaat is. Die omgewing van die grotte word vandag deur die Taliban beheer.

Die vermoede is dat dié waardevolle dokumente maar ‘n fraksie is van honderde dokumente wat wêreldwyd in die swart mark beskikbaar is.

Die biblioteek wou nie die sluier lig oor by wie dit gekoop is óf hoeveel hulle moes opdok nie, uit vrees dat dit die pryse net verder sal opjaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.