ʼn Groep vermeende rowers het Woensdag glo op die Nigeriese adjunk-hoë kommissaris geskiet nadat hulle hom na bewering van die OR Tambo-lughawe tot by sy huis in Pretoria agtervolg het.
Kayode Oguntuase se bestuurder, Dan Mohlala, is tydens die skietery gewond, het Beeld Donderdag berig.
Volgens die berig is Oguntuase na die lughawe geneem om sy vrou, Hailey, te gaan oplaai. By hul huis in Waterkloofrif, het Mohlala opgemerk hulle is agtervolg. Hailey wou uit die voertuig klim, maar Mohlala het haar daarteen gewaarsku, en hulle het die voertuig se deure gesluit.
Die aanvallers wou die deure oopmaak, maar toe hulle dit nie kon regkry nie, het hulle verskeie kere op die voertuig geskiet.
Bure het die skote gehoor en die polisie ontbied, waarna die aanvallers op die vlug geslaan het. Oguntuase het Mohlala na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.
Brig. Phuti Setati, ʼn polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek aanklagte van poging tot moord en poging tot gewapende roof.
– Sapa